Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Pamuk se The Museum of Innocence bied veel om te geniet en te bewonder


Louise Viljoen - 2010-08-11

The Museum of Innocence
Orhan Pamuk
Uitgewer: Faber And Faber
ISBN: 9780571237005
Prys: R245.61

Klik hier en koop The Museum of Innocence nou by Kalahari.net!

 

The Museum of Innocence is die jongste roman van Orhan Pamuk, wat wêreldwye bekendheid én die Nobelprys vir letterkunde verwerf het met romans soos The Black Book, My Name is Red en Snow. Sy jongste roman, The Museum of Innocence,is reeds in 2008 in Turks gepubliseer, maar die Engelse vertaling daarvan deur Maureen Freely het eers einde 2009 verskyn. Soos die meeste van Pamuk se romans, is dit ’n lywige vertelling wat dig gepak is met poëtiese detail. 

Die hoofkarakter Kemal is ’n dertigjarige man uit een van Istanboel se welgestelde families en hy is op die punt om verloof te raak aan Sibel, ’n gesofistikeerde jong vrou uit dieselfde sosiale stand as hy. Kort voor sy verlowing loop hy toevallig die agtienjarige Füsun raak wanneer hy vir Sibel ’n handsak wil koop in ’n boetiek wat eksklusiewe Westerse ware aan die ryk bourgeoisie van Istanbul verkoop. Sy is die winkelassistent, maar ook ’n veraf familielid wat uit ’n totaal ander sosiale kring en uit ’n ander deel van Istanboel as hyself kom. Aan haar kleef daar ’n geurtjie van die skandalige, omdat haar ouers haar toegelaat het om aan ’n skoonheidskompetisie deel te neem en selfs om in ’n baaikostuum paradeer. Byna onvermydelik ontstaan daar ’n verhouding tussen Kemal en die beeldskone Füsun wat gaandeweg Kemal se lewe begin oorheers. Aanvanklik gaan die verlowing met Sibel voort omdat Kemal dink dat hy – soos sy pa vroeër – tegelykertyd ’n huwelik en ’n buite-egtelike verhouding aan die gang sal kan hou, maar hy hou nie rekening met die emosionele tol wat dit sal eis nie. Füsun verdwyn ná die swierige verlowingsparty. Kemal probeer om die verhouding met Sibel voort te sit, maar sy poging misluk. 

Een van die maniere waarop hy sy verlange na Füsun probeer besweer, is om alle objekte wat hom aan haar herinner, bymekaar te maak en te bewaar in die woonstel waar hulle mekaar in die geheim ontmoet het. Die roman begin trouens met Kemal wat terugdink aan ’n perfekte oomblik van geluk saam met sy jong minnares wat hy laat wegglip het sonder om dit te herken as die gelukkigste oomblik van sy lewe. Dit is die eerste aanstigting vir hom om ’n versamelaar te word en om die “museum van onskuld” op te rig waarin die vlietende moment, dit wat verbygaan sonder dat ’n mens daarop let, vasgevang kan word. Só begin sy versamelaarspassie en die verhaal van sy obsessie. 

Wanneer hy uiteindelik vir Füsun opspoor by haar ouers in een van Istanboel se armer woonbuurte, is sy getroud met ’n kindervriend van haar wat ’n filmregisseur wil word.  Agt jaar lank besoek Kemal feitlik elke aand die familie en neem hy allerlei objekte uit hulle nederige woning om tot sy versameling toe te voeg.

Dit word mettertyd vir die leser duidelik dat Kemal se obsessie met Füsun inderwaarheid haar en haar familie gevange hou. Die mees opsigtelike bevestiging hiervan kry ’n mens in die dodelike roetine van Kemal se optrede, die verwysings na die voël in sy kou, en Füsun se onbeholpe skilderye van voëls. Alhoewel hy oënskynlik haar en haar man se begeerte om deel te word van die filmwêreld geldelik ondersteun, steek hy telkens ’n stokkie voor Füsun se kans om ’n aktrise te word. Wanneer dit uiteindelik lyk asof hulle verhouding gaan normaliseer, neem Füsun vir die eerste keer haar lot in eie hande en is daar ’n tragiese afloop.

Al wat hierna vir Kemal oorbly, is om volledig op te gaan in sy versamelaarsobsessie en ’n museum in die huis van Füsun se ouers op te rig. Om reg te laat geskied aan hierdie projek van hom, besoek hy soveel museums as moontlik regoor die wêreld. Wanneer hy tydens ’n besoek aan Milaan op ouderdom 62 aan ’n hartaanval sterf, het hy reeds 5 273 museums besoek. (’n Interessante brokkie in hierdie verband is dat die outeur, Pamuk, van plan is om ’n soortgelyke “museum van onskuld” op te rig in Istanboel in die straat waarin hy die huis van Füsun se ouers geplaas het in sy roman.)

Kemal is die verteller in die roman en dit word mettertyd uit sy vertelling duidelik dat hy ’n geobsedeerde karakter is wat nie werklik bewus is van hoe destruktief sy obsessie vir homself en veral vir sy geliefde is nie. Teen die einde van die roman verneem die leser dat Kemal voor sy dood vir die skrywer Orhan Pamuk gevra het om sy en Füsun se verhaal op te teken. Naas hierdie metafiksionele element is daar ook ’n ander interessante narratiewe konstruksie onderliggend aan die roman. Aan die een kant word Kemal en Füsun se verhaal afgebreek in die afsonderlike momente wat verteenwoordig word deur die objekte wat hy versamel (Füsun se sigaretstompies, een van haar oorbelle, ’n kweper-rasper van haar ma, die plakkate van films wat hulle saam gesien het, porseleinhonde, sout- en peperpotjies). Andersyds word hierdie losstaande momente weer in opdrag van Kemal deur die skrywer Pamuk aanmekaar gevoeg totdat dit die roman vorm wat ons lees. Kemal self verwys die leser na Aristoteles se siening dat die verskillende losstaande momente (volgens hom vergelykbaar met ondeelbare, onbreekbare atome) die “hede” verteenwoordig en dat “tyd” die lyn of stroom is wat die verskillende momente met mekaar verbind. Volgens Kemal probeer hy geluk vind deur die stroom van “tyd” te vergeet wat hom by die ongelukkige einde van sy en Füsun se verhaal gebring het deur op te gaan in die verskillende momente wat deur sy versamelaarsobjekte verteenwoordig word (juis daarom begin sy verhaal met ’n verwysing na die gelukkigste moment van sy lewe wat hom ontglip het). In hierdie opsig is die roman dus ’n boeiende besinning oor tyd: die roman is tegelykertyd ’n demonstrasie van die vergeefsheid van die mens se poging om die gang van tyd te stuit en ’n monument vir die wyse waarop skrywers soos Pamuk dit tog probeer doen. 

Wanneer Pamuk self aan die woord kom in die slothoofstuk van die roman, verduidelik hy ook aan die leser waarom hy die perspektief van Kemal gekies het om die verhaal te vertel en nie sy eie of dié van die talle ander mense met wie hy ook onderhoude gevoer het oor die gebeure nie. Uit sy vlugtige verwysings na wat hulle van Kemal sê en dink, kry die leser ’n indruk van hoe die ander karakters in die verhaal (die eksverloofde, sy chauffeur, sy vriende, sy sakevennote) oor hom voel. Hulle sien hom onder andere as ’n diep eensame man, ’n versteurde persoon, of iemand wat vanweë sy obsessie sy sake-onderneming ten gronde laat gaan het. Die manier waarop Pamuk vir Kemal uitbeeld, wys egter dat hy begrip en respek het vir die komplekse faktore wat hom dryf. 

Ten slotte is Pamuk se roman nie net die museum wat Kemal en Füsun se verhouding bewaar nie, maar ook ’n museum van dit wat spesifiek was aan die stad Istanboel op ’n bepaalde tydstip in die geskiedenis (die jare sewentig tot negentig van die vorige eeu).  Dit is opsigtelik dat Pamuk die museum van sy roman oprig met ’n bepaalde trots in dit wat Turks is (dit is dus ietwat ironies dat daar in 2005 ’n poging was om hom aan te kla van ’n “belediging” van Turkye en Turksheid omdat hy by openbare geleenthede verwys het na sekere vergrype van die Turke teen die Koerde en Armeniërs). Hiervan word die leser bewus gemaak wanneer Kemal vir Pamuk as die optekenaar van sy verhaal sê:  “With my museum I want to teach not just the Turkish people but all the people of the world to take pride in the lives they live. I’ve travelled all over, and I’ve seen it with my own eyes. While the West takes pride in itself, most of the rest of the world lives in shame. But if the objects that bring us shame are displayed in a museum, they are immediately transformed into possessions in which to take pride.”

Dit geld in ’n groot mate ook vir Pamuk se projek met hierdie roman. Dit is ’n deurtastende en intieme portret van Istanboel, van die stad se verskillende sosiale strata, van die modernisering van die Turkse samelewing wat sy neerslag vind in sake so uiteenlopend soos die seksuele politiek en alledaagse verbruikersgoedere, ook van die spanninge tussen die Weste en Ooste wat al vir eeue lank deur die stad loop. Dit is ’n projek waardeur hy sy trots en selfrespek as inwoner van Istanboel, as inwoner van ’n nie-Westerse land en as “gewone mens” laat geld. Dit is bekend dat Pamuk in roman na roman sy eie en Turkye se ingewikkelde verhouding met die Weste ondersoek. Hy het self in ’n onderhoud gesê dat dit ’n soort sadomasochistiese verhouding is waarin dinge soos jaloesie, die vrees vir nabootsing en vrae oor “outentisiteit” ’n belangrike rol speel.  In The Museum of Innocence word hierdie ingewikkelde verhouding verder uitgewerk, onder andere in die manier waarop sommige van die vrouekarakters die slagoffers word van verskuiwende seksuele opvattings onder invloed van die Weste wat pas die bevrydings van die sestigerjare ondergaan het.

Daar is veel in hierdie roman om te geniet en te bewonder: die interessante beginsels waarvolgens die roman gekonstrueer is, die indringende wyse waarop dit die belewenis van ’n fatale obsessie herskep, en die idee van die roman as museum waarin die vervlieting van tyd teëgegaan kan word. Daar is wel momente in die roman waarin ’n mens gepla word deur die feit dat die narratief draal, al weet jy dit hou verband met die steeds meer versmorende mag van Kemal se obsessie. Tog word die leser telkens weer teruggelok in die stroom van vertelling in en kan ’n mens nie anders as om nogmaals onder die indruk te kom van Pamuk se absolute virtuositeit as romanskrywer nie.