Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Jopie Adam op ’n geel scooter


Marthinus van Loggerenberg - 2010-08-11

Fanie van Rooyen loop kop onderstebo met hulle pasgeskeerde poedel deur die winkelkompleks. Ag toggie tog tog, dink hy by homself, as iemand my nou sien, kan ek maar in ’n pers rok voor die hele skool gaan gedigte opsê en wag dat die eerste rugbyspan my so kom opbliksem dat ek vir weeklikse slaapterapie moet gaan.

Hy wou nie eens sy eenjarige niggie in haar pienk pram by die sypaadjie af stoot nie. Hy het maar so eenkant onder die skadu van ’n boom die tyd gaan staan en omwag. As jy mos in die skool is, skaam jy jou oë uit jou kop as jou ma net per ongeluk pouse verby die skool ry op pad om shopping te gaan doen en dan nog so wragtagwaar die vermetelheid het om vir jou te loop toet en waai.

Toe hy in die kar klim en die hond op die vloer het, kom ’n eienaardige man al waaiende op ’n piesanggeel scooter aangejaag. Die man lyk kompleet nes Jopie Adam: Baard hang gekoekte slierte, met ’n hele riviernetwerk van plooie. Rustig draai Fanie maar sy venster af om te hoor wat die man met die haasbek-smile te sê het.

"Het jy jou eksôs gesien?" vra die man.
"Nee. Hoekom?" vra Fanie. "Is daar iets fout?"
"Groot fout," sê Jopie nou effens ernstiger. Fanie skrik.
"Ek sal vir jou ’n kaartjie moet gee, jong." En Jopie begin in sy verslete moonbag grou. Fanie dink die man wil seker maar sy ou karige besigheidjie persoonlik adverteer, maar toe vra hy:
"Is jy nie Boertjie se seun nie?"
Fanie is totaal uit die veld geslaan.
"Is jy nie Boertjie se seun nie?" vra hy weer.
"Ek is Gert van Rooyen se seun," antwoord Fanie skaam. "Nie dié Gert ... um ..."
"Dan ís jy mos Boertjie se seun," val Jopie in. Fanie smile fronsend.
"Hy is mos ’n boertjie en sy pa was ook ’n boertjie."

Whoopie.

Fanie lag maar so ongemaklik saam sodat ou Jopie net nie kwaad word en sy kar met sy scooter krap nie.

"Jou eksôs is kaal, man. Dis ’n heeltemal te sexy karretjie hierdie. Jy moet ’n kous of ’n ding vir daai sexy eksôs van jou koop, man. Die mense kry skaam!" terg Jopie. Fanie dink nie dis moerse snaaks nie.

"Maar aangesien jy my nou nog nie gevloek het nie, en jy het darem nog nie, sal ek jou vertel van hierdie ding van my," sê Jopie en bring so ’n klomp verfrommelde papiere te voorskyn.

"Jy sien, daar is kindertjies op drugs. So as dit nie te seer maak nie – so ’n ou tienrandjie vir dié met fênsie nommerplate en vyf rand vir dié met gewones sal nie te onwelkom wees nie."

Fanie skraap maar vieserig so ses rand tussen sy parkeergeld bymekaar en gee dit vir die klasuitstappie op die scooter, en Jopie sê weer: "As dit nie te seer maak nie."

En daai mond rek oop dat jy net geel mieliepitte sien.

Fanie draai die venster weer op. Maar Jopie is nog nie klaar nie.
Tik-tik-tik glimlaggend aan Fanie se venster. Hy draai maar weer sy venster af.

"Wie is jou gunsteling- Suid-Afrikaanse meisie? Sy kan ’n aktrise of ’n sportvrou of enigiets wees," sê Jopie.
"Seker maar Charlize," blêr Fanie.
"Wil jy vir haar ’n soentjie stuur?" Jopie flerts die geel papier oop. Die hele papier is in omtrent 15 blokkies ingedeel en elke blokkie het ’n ander gefotokopieerde soenlippie op. En hy skryf "Charlize Theron" onder een van die lippies.
"En wie moet ek sê stuur dit?"
"Fanie van Rooyen."
"Ja, jy het mos gesê," beaam Jopie. "Teken net hier," en hy gee Fanie so ’n ander geel papier met lyntjies op en Fanie skribbel haastig sy naam.

Op pad terug huis toe is Fanie effens vies, want die afgelope tyd het hy nogal baie van sy swaar verdiende geld weggegee: eers was dit daardie armblanke vrou by die poskantoor wat net so saggies gemompel het: "Help my." En die seuntjie wat so een keer per week kom vra om kar te was vir ’n stukkie brood en hy kry swaar en honger en so aan.

Fanie maak toe die saak vir homself uit: Ek is ’n sucker. Maar nie meer vir lank nie! Van nou af sal ek bekend staan as hardegat Fanie van Rooyen: Geen boemelaar of bedelaar sal weer hierdie hart versag nie! Die enigste ding wat hulle van nou af by my sal kry, is ’n Bybelversie of so as hulle gelukkig is.

By die huis aangekom, lag almal vir Milo met sy nuwe kapsel en die pienk strikkies langs sy ore. En moffie Milo skuur so om die halfuur sy ore disnis teen die banke om die simpel pienk strikke af te kry, want niemand help die stomme brak nie. Met sy nuwe skewe titel en die feit dat hy so ’n week of wat terug reggemaak is, het die arme ding ’n ernstige knou aan sy ego weg. Om sy manlikheid te bewys, neuk hy die tuin in en skoffel al wat ’n plant is uit en hou só voël-, kat- en boefjagte dat die hele buurt about winkels toe vlug om net van die orige kakofonie af weg te kom.

Met Milo se heldhaftige terugkeer van die "slagveld" wals hy kop omhoog en skouers breed met nog een hangende pienk strik by die kombuis in. Wit poedel is nou bruin poedel. En dit was net daar waar ma Soez van Rooyen ’n tantrum gooi en sê dat sy nou gatvol is vir die brak en dié moet skoert of sy loop begrawe hom lewendig in haar roostuin.

Fanie besluit hy sal maar ’n poging aanwend om die held van Gauteng uit die dogbox te red. Dis die eerste keer dat hy Milo bad. Het hy maar geweet ...

Eers laat spaander die hond soos ’n vlakhaas onder al wat ’n bed is in en dreig-dreig om die hoofstraat in te hol vir ’n heldhaftige selfmoordpoging. Maar wonder bo wonder foeter die senuwee-orrel in hulle leë swembad in en hond se kind is vas.

Hy stink skoon, so stres hy (hy gee sulke koddige poepies), en hy bewe soos ’n riet. Maar in moet hy in en net voor Fanie hom in die zink van die kombuis wil laat sak, hou Milo ’n howweringballade wat verstom: spartel en swem in die lug soos ’n befaamde prima donna. Gizelle op Speed. Asof dít nou sy beeld sal herstel ...

En stil staan die hond gewis nie. Die hare op Fanie se tande word hoeka al korter en die hond neuk net die heeltyd uit. Later vind hy sy posisie: agterbene in die water en voorbene al druppende op die waskamervloer. Die wêreld kan vergaan, maar hy verseg om binne-in die bak te bly.

"Staan nou stil, Milo!" verskree Fanie later die brak. Maar die korrelkop blaas net borrels deur sy neusgate en bloei uit sy oë van walging wat met hom aan’t gebeur is. Die helfte van die waswater het op die vloer beland en Fanie is naderhand bloedrooi in die gesig. As hierdie verwilderde hond nie oppas nie, sal hy vinnig-vinnig meer as net reggemaak wees, dink Fanie by homself.

Toe dit uiteindelik lyk of sukses op die horison lê, lui die voordeurklokkie. Met die druipnat brak onder die arm neuk Fanie befoeterd voordeur toe. Pa Gert en ma Soez kyk verdomp Who wants to be a millionaire.

"Die kar was," sê die kind.
"Nee, my kar is skoon," sê Fanie en maak die deur toe.
Weer lui die klokkie.
"Die broodjie," vra die outjie.
Sug.
"Wag net hier," sê Fanie moedeloos.

Hy stap goedig maar beneuk terug waskamer toe, tap die water uit en sweer die hond die dood voor die oë as hy move. Stop hom ongeduldig ’n blokkie fudge in die bek.

Hy smeer maar ’n ou broodjie met jam en gaan gee dit vir die kind. Fanie, jou ou softie, dink hy.

Soos hy die afspoelwater intap, voel hy hoe sy bloed kook. Die hond hang al weer half uit die zink. Die afspoelwater is net ’n bietjie te warm en die hel val al weer op die hoenders neer: Die hond gee net een kragpoep en woerts is hy uit, tjoepstil teen ’n spoed die gang af. Net so ’n slaktrail van seepwater verraai sy pad. En daar lui die voordeurklokkie so wragtagwaar weer ...

"Kry jý dit, Fanie!" skreeu pa Gert vanuit die kamer. Fanie wil ontplof en storm voordeur toe. Toe hy die deur oopmaak, staan ’n albino by die veiligheidshek en Fanie blaas sy top:
"My kar is skoon en die brood is op!" En hy slaat die deur toe.

Nou is hy uit op ’n Milojag. Die getraumatiseerde poedel sit hoogs bedonderd onder sussie Anna se bed en dreig om Fanie se arm af te ruk as hy ’n tree nader kom.

Hy kom net so by sy pa-hulle se kamer in om te bitch oor die simpel hond toe sy pa sê: "Boetie, jy sal die kombuis moet regmaak as jy daar klaar is, jong. Die nuwe bure kom vanmiddag ’n bietjie oor. Tannie Hetta van hier langsaan sê die pa is ’n albino ..."