Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Artikels | Features

Tussengebied: ’n Persoonlike keuse uit verskuilde en verbygegane gay-tekste (Deel 3)


Hennie Aucamp - 2010-08-10

Klik hier om die eerste aflewering van Tussengebied te lees.

Klik hier om die tweede aflewering van Tussengebied te lees.


In hierdie aflewering:

11. Eudora Welty (1909-2001): “First Love”, The Collected Short Stories.
12. Maeve Brennan (1916-1993): “The Servant’s Dance”, The Rose Garden: Short Stories.
13. Primo Levi (1919-1987): “The Juggler”, Moments of Reprieve
14. Primo Levi (1919-1987): “A long duel”, Other People’s Trades.
15. Gore Vidal (1925-): “Clouds and Eclipses”, Clouds and Eclipses: The Collected Short Stories.



Verhaal 11

Eudora Welty (1909-2001), legendariese Deep South-skryfster, is veral beroemd vir haar kortverhale.

Die eerste verhaal in haar tweede kortverhaalbundel, The Wide Net and Other Stories (1943), heet “First Love”, wat geen twyfel laat omtrent die aard van dié verhaal nie. Wat wel ongewoon is, is dat dit om die liefde van ’n doofstom seun van twaalf vir ’n volwasse man gaan, en dié ’n voëlvryverklaarde.

Joel, die dowe seun, het sy ouers in ’n skermutseling met Rooi Indiane vroeg in die neëntiende eeu verloor. ’n Ou man versteek Joel en ’n klompie ander blankes in digte suikerriet, en red só hul lewens. Hy neem Joel na die herberg op Natchez, waar hy die skoenpoetser word.

Die twee voëlvryverklaardes, Aaron Burr en Harman Blennerhassett, kom snags in Joel se agterkamertjie bymekaar. Hulle steur hulle nie aan hom nie, maar eet die kos wat hy vir hulle aandra en selfs steel. Joel heg hom aan die charismatiese Aaron Burr, soos ’n hond hom by ’n baas voeg. Die enigste aanraking tussen Joel en Aaron gebeur wanneer Burr in sy slaap wil praat en Joel sy eie hand tussen Burr se gespreide vingers instoot om Burr tot stilte te bring. En dan volg die stil intensiteit van die volgende sinne:

As if a silent love had shown him whatever new thing he would ever be able to learn, Joel had some wisdom in his fingers now which only this long month could have brought. He knew with what gentleness to hold the burning hand. With the gravity of his very soul he received the furious pressure of this man’s dream.

Burr loop een aand weg, vermom as ’n Indiaan. Hy halt by ’n japonika-bos en tel ’n bevrore knop op. Joel volg hom, en Joel tel ook ’n botsel op: “He held it tenderly and yet timidly, in a kind of shame ...”

Intensiteit is ’n kenmerk van ’n digte, poëtiese verhaal soos “First Love”, maar dit is hier ook die “legitieme” vrug van die sielkundige parameters waarbinne hierdie verhaal beweeg: die wêreld beleef deur ’n doofstom seun. Sig en ruik en tas is al waarop Joel hom kan beroep.

Joel volg die pad waarop Burr te perd verdwyn het. Op pad waarnatoe? Stellig sy dood. Maar is dit, poëties gesien, dan nie die enigste manier waarop hy sy liefde ongeskonde kan bewaar nie?

 

Verhaal 12

Nog ’n skryfster van Ierse afstammeling is Maeve Brennan (1916-1993), wat onder andere ’n bundel verhale oor Ierland gepubliseer het. Sy het haar later in Amerika gevestig, waar sy ’n redaksielid van The New Yorker geword het. Haar Amerikaanse verhale speel in en om Manhattan af; veral snaaks is haar verhale oor ’n fiktiewe gemeenskap van burgerlike snobs, die sogenaamde Herbert’s Retreat-“kolonie”.

Charles Runyon is ’n tipiese middeljarige “kultuurmoffie”, en hoewel sy seksoriëntasie nie uitgespel raak nie, is sy tipe herkenbaar in “The Servant’s Dance” uit fyn karakteriserings, soos die volgende: “Charles was a literary gentleman whose main interest was the theatre. He lived in a single room in a famous hotel in Murray Hill district.” Hy trek keurig aan, maar is gevaarlik na aan ’n cliché. Hy is ’n gesogte gas – ook naweekgas – by verveelde rykes, waar hy vir spitsvondighede en geraffineerde tewerighede sorg, maar hy wil geen huweliksverantwoordelikhede hê nie. As een van sy beskermvroue se man sterf, vlug Charley, baie voorspelbaar, land uit, tot sy gunsteling-gasvrou eers weer veilig getroud is.

 

Verhale 13 en 14

Primo Levi (1919-1987) is een van die beroemdste oorlewendes van Auschwitz, en sy boeke, waaronder The Drowned and the Saved (I Sommersi e i Salvati) en If this is a man (Se questo è un uomo), is jare ná sy selfmoord nog in druk.

Net een van die talle biografieë oor Primo Levi meld vlugtig dat hy dalk homofiele verlangens kon gehad het, maar dit bly ’n vae suggestie. Wel het hy twee outobiografiese tekste geskryf wat homosensueel getint is.

Die vroegste herinnering raak ’n jeugondervinding, en heet “A Long Duel”; dis opgeneem in Other People’s Trades saam met ander essays wat hy vir ’n koerant geskryf het. Levi vertel van sy gespanne vriendskap met Guido, ’n klasmaat van ’n laer sosiale stand as hy self. Die spanning het hierin gelê dat hulle altyd met mekaar gekompeteer het, skolasties en op sportgebied. Guido, meld Levi terugskouend, “was a young barbarian with a sculptural body. He was intelligent and ambitious and envied my scholastic successes. I, symmetrically, envied his muscles, his stature, his beauty, and his precocious sexual lusts.

Die wetenskapklasse het Guido die kans gebied om sy waagmoed te toon, maar ook om homself seksueel uit te stal. Die wetenskaponderwyser het nooit met die paadjies tussen die banke beweeg nie, en was op die koop toe stiksienig. Dis dan wanneer die seuns mekaar begin uitdaag het om hul klere uit te trek. Terwyl die wetenskaponderwyser anatomiese detail van ’n geraamte uitwys, het Guido sy ontkleding enduit gevoer: “(he) had climbed up first on to the seat and then op top of the desk, completely naked while we all held our breath, suspended between admiration and scandal. He stood there for a long instant.” Hierdie naaktoneel het ’n diep indruk op Levi gemaak, en in die kragtige slot van sy essay “The Long Duel” keer hy daarna terug:

In my memory his image has remained like this, fixed as in a snapshot: naked, standing on the absurd desk of the liceo, in symmetry with the obscene skeleton of which the professor was reeling off the inventory; so provocative, Dionysiac and obscene by juxtaposition, an ephemeral monument of terrestrial vigour and insolence.

Sekerlik mag ’n mens aanneem dat Levi ’n bietjie verlief was op Guido na aanleiding van die pas aangehaalde passievolle slotparagraaf.

Dit kan ’n mens nie sê van Levi se herinneringskets “The Juggler” in sy bundel Moments of Reprieve (in Italiaans, Lilit e altri raconti) nie, maar Levi se ontvanklikheid vir manlike skoonheid, veral in volle naaktheid, kom weer na vore.

“The Juggler” is ’n Auschwitz-herinnering. Die jongleur dra ’n groen driehoek, wat beteken dat hy ’n gewone misdadiger is wat kampdiens bo die tronk verkies het. Hy is onder-kampkommandant, maar anders as die meeste KAPO’S was hy nie gemeen nie, en by een geleentheid red hy Levi se lewe deur te verhoed dat hy ’n brief uit die kamp probeer uitsmokkel.

Hier volg Levi se beskrywing van Eddy die jongleur: “Dazzingly handsome, he was blond, of medium height, but slim, strong, and very agile. He had aristocratic features and skin so light it looked translucent. He could not have been more than twenty-three ...”

Levi se beskrywing van Eddy in die stortbad het ongetwyfeld erotiese ondertone:

In the washroom, completely naked, after washing himself carefully with a piece of scented soap, he set it on top of his head, which was shaved like ours, bent forward and, with imperceptible practiced and precise undulations of his back, made the luxurious piece of soap slide little by little from head to neck, down along the entire spinal column all the way to his coccyx, at which point he made it fall into his hand.

Of Primo Levi homoseksuele ervarings gehad het, is onbekend, en eintlik nie ter sake nie. Wat wel gesê kan word, is dat sy beskrywings van mooi, naakte jongelinge ’n sterk beroep op die homoërotiese verbeelding maak, en om dié rede ’n plek in ’n gay-bloemlesing verdien.

Verhaal 15

Gore Vidal is wat die Engelse noem “a man of letters”; ’n Amerikaner uit huis uit, maar met ’n internasionale reputasie as skrywer. Hy het vier-en-twintig romans op sy naam, sewe toneelstukke, baie draaiboeke, meer as honderd essays, en ’n mémoire, Palimpsest. Hy het ook ’n kortverhaalbundel gepubliseer, in 1956, in ’n stadium toe daar ’n intieme literêre wisselwerking tussen hom en Tennessee Williams was. Daar is sewe verhale in sy bundel A Thirsty Evil; ’n agste is op versoek van Williams weggelaat, omdat dit om ’n skandaal handel waarby sy oupa betrokke was.

In Vidal se voortreflike inleiding tot die versamelde kortverhale van Tennessee Williams meld hy: “Tennessee once told me that his grandfather had been blackmailed because of an encounter with a boy”, en wat die geval nog ernstiger gemaak het, was dat oupa Dakin ’n dominee was. Vidal het sy verhaal oor dié geval, “Clouds and Eclipses”, teruggehou, en het heeltemal vergeet daarvan totdat ’n argivaris by Harvard se Houghton Library dit tussen Vidal se dokumente ontdek het. In 2006, vyftig jaar nadat dit verskyn het, is Vidal se verhale weer beskikbaar, maar nou met die ontbrekende verhaal by, en dis na hierdie verhaal dat die nuwe bundel heet: Clouds and Eclipses.

Die titelverhaal word voortreflik vertel. ’n Jong seun woon in by sy grootouers en sien sy oupa as ’n amper-heilige. Hy lê al die “primitiewe” geneugtes van ’n jong seun af in ’n poging om sy oupa na te boots, maar op ’n dag hoor hy hoe twee besoekers die dominee afpers oor ’n seksoortreding. Na die afpersers se vertrek is die oupa oorstuur, en verbrand al sy preke wat hy so sorgvuldig uitgeskryf en bewaar het.

Op hierdie ontsellende toneel volg ’n manjifieke slotsin wat alle drade poëties saamtrek:

Then as the last of the ashes blew across the lawn, Joe ran as fast as he could through the cemetery to the river to his friends, the pagan fishermen, the golden bathers; and, as he ran, the green summer billowed all about him, like the sails of a galleon in a pirate story.

My enigste beswaar is dat Vidal die dominee se oortreding probeer “versag” het deur sy seksgenoot ’n meisie te maak. Die dominee se sielkunde is doodgewoon nie hierna nie, en daarom vra ek ’n “regstelling” by die leser vir “Clouds and Eclipses”: lees, soos Vidal dit self twee maal nadruklik noem, dat die dominee hom aan ’n seunskind vergryp het; en dis dan ook hoekom ek hierdie verhaal in ’n gay-bloemlesing insluit, Vidal se sensuur ten spyt.



Word vervolg. Hou LitNet dop vir Hennie Aucamp se besprekings van die laaste verhale op sy lys.