Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Gaste – ongenooi, maar welkom


Desiré Lyners Volkwijn - 2010-08-10

Oudtshoorn, in die Klein-Karoo, is waar ek grootgeword het; omtrent neëntien myl noord is die befaamde Kango-grotte. Die grotte het baie toeriste gelok. In daardie dae was daar nie hotelle vir donkerkleurige mense nie, en dikwels het motors voor ons deur stilgehou met gaste wat op aanbeveling van vriende by ons slaapplek kom soek het. Daar was geen aarseling aan my ouers se kant nie, en baie aande was al drie ons slaapkamers vol besoekers – my ouers slaap dan op die vloer in ons sitkamer en ek en my suster het die nag dan by twee ou tannies daar naby gaan deurbring.

Eendag hou daar weer so ’n swierige motor stil, en twee mans klim uit: mnre Kagee en Dendar, van Durban. Wie ons huis aanbeveel het, weet ek nie, want ons het nie mense in Durban geken nie. Ek onthou dat die twee in my en my suster se slaapkamer geslaap het, waar daar twee beddens was.

Ek onthou ook dat hulle die volgende dag nie ysters nodig gehad het om hulle klere te stryk nie – hulle het die klere netjies opgevou en versigtig onder die matrasse geplaas, en die volgende oggend het hulle mooi “gestrykte” klere aangehad. Ook hulle sakdoeke het hulle nie gestryk nie – dié het hulle uitgewas en nat-nat styf oor die spieël gespan, en siedaar, die volgende oggend is hulle sakdoeke netjies “gestryk”. Dis iets wat ek vandag nog doen – die sakdoeke oor die spieël span. Dié twee mans en my ouers het vir baie jare daarna ’n korrespondensie-vriendskap gehad. Die twee sjarmante ouens het my ouers vreeslik beïndruk.

Dan was daar die Moslemfamilie. Waar hulle vandaan gekom het, kan ek nie onthou nie. Alhoewel daar omtrent drie Moslemgesinne in die dorp was en ons hulle taamlik goed geken het, het ek nie veel omtrent hulle godsdiens of kultuur geweet nie. Dit was dus vir my baie snaaks dat die een jong man my byna van balans gestoot het toe ons hulle goed die huis in dra en dieselfde tyd by die kombuisdeur kom. Hy het my nie, soos ek gewoond was, as meisie eerste laat ingaan nie. Dit was vir my net so snaaks dat die vroue hulle kos (wat hulle klaar voorberei van die motor gebring het) op die tafel gesit het vir die mans om te eet terwyl hulle self baie stil en nederig teen die muur gestaan het. En toe die mans klaar is, het hulle die kos wat oor was, geëet. Ek dink byna hulle het ook hulle eie eetgerei gebring. Later sou ek wel meer oor Islam en die Moslems se kultuur leer. Sover ek kan onthou, was daar nie soos met mnre Kagee en Dendar enige latere kontak nie.

Eendag ontvang my ouers ’n telegram wat lui: “Hou reg die pan; agt kom aan.” Dit was nie agt nie, maar elf. Vir húlle het ons wel geken. Die ouer mense het dié aand in die huis geslaap, die jongeres in tente op die werf, en ek en my suster by ant Rosie en ant Dina. Die aand voordat hulle die volgende dag sou vertrek, was daar ’n partytjie in die agterplaas. Behalwe vir die lig op die agterstoep was dit maar redelik donker buite. Soos gebruiklik moes ek en my suster die vriende gaan groet voor ons na die twee tannies toe is. Die een ou het so half onder die wingerd gestaan. Ek kan nie sy naam onthou nie, maar hy het my verbaas toe ek sy hand skud en hy vir my sê: “Good bye. Kiss me, and next time dress yourself properly.” Sien, ek en my suster het dikwels in die warme Oudtshoorn nie veel meer as die noodsaaklikste klere gedra nie, en toe hulle die middag die deurklokkie lui, was dit ek wat die deur gaan oopmaak het, met net ’n klein broekie aan.

Dan is daar die dominee wat reisende sekretaris vir die Christelike Studentevereniging, of die CSV, was. Ons het eers geweet dat hy in die dorp is wanneer die huurmotor hom voor ons deur kom aflaai. By een spesifieke geleentheid sou hy ook die Sondagaand in ons kerk preek. Toe Dominee begin aantrek vir die diens, vind hy uit dat hy wel die baadjie van sy swart pak gebring het, maar nie die broek nie! Tussen hom en my pa het hulle toe begin raai watter man in die dorp min of meer dieselfde mate as hy het – hy was geset en my pa skraal, dus kon hy nie vir die dominee ’n broek leen nie. Dis by die tweede man dat hulle toe ’n swart broek kry wat hom pas en Dominee preek dié aand toe in geleende klere!

Ek staan een middag en skottelgoed afdroë ná middagete toe ek die gevoel kry dat ek nie alleen in die kombuis is nie. Toe ek omkyk, staan die dominee in die eetkamerdeur. Hy vra toe vir my hoe ek geweet het hy staan daar. Natuurlik het ek nie ’n antwoord gehad nie – ’n mens sê mos nie vir die dominee dat jy sy teenwoordigheid “gevoel” het nie. Toe vertel hy my van telepatie.

Mnr Dix, my wetenskap-onderwyser, was nou nie eintlik ’n gas nie, maar ook nie ’n huisvriend nie. In elk geval, ons het byna nooit ons deure gesluit nie, en baie dikwels is die stilte in die huis deur klavierspel verbreek. Ons was later glad nie meer verbaas as die klavier sommer skielik “self” begin speel het nie. Gelukkig was hy ’n goeie pianis; dus is sy musiekbesoek altyd verdra en sy spel geniet, hoewel dit altyd onverwags en ongenooi was.

My vraag ná al die jare is: Het al dié besoekers dan nie die spreukwoord geken wat sê dat ongenooide gaste agter die deur hoort met ’n bord vol bene nie? Maar nou ja, ons mense was mos altyd bekend vir ons gasvryheid.

 

27 Mei 2010

 << Terug na Vintage@LitNet <<