Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Michael le Cordeur: Die punt is

Tyd om ’n doel te skop in elke skool


Michael le Cordeur - 2010-08-10

Dis Vrydagmiddag skuins na drie. Ek sit voor my rekenaar en skryf. Ek is grieperig en moes op doktersorders binnenshuis bly. Êrens klink die gejuig op van ’n uitbundige skare. ’n Paar vuvuzelas se nou al aanvaarbare geblêr kleur die prentjie verder in. Dis ’n prentjiemooi middag op Wellington. ’n Sonskynmiddag hier in die winter met die sneeubedekte Hawekwaberge as backdrop maak my tuisdorp een van die mooiste plekke in die land.

Dis die jaarlikse derby tussen twee plaaslike hoërskole: Bergrivier en Weltevrede. Ek het ’n verbintenis met albei: Bergrivier, waar ek in 1976 tydens die jeugopstande gematrikuleer het, is die tweede oudste bruin hoërskool in die Boland en het pas sy 60ste verjaardag gevier. Ek het ook my eerste pos as Afrikaansonderwyser hier beklee. Die skool het my die eer aangedoen om as spreker op te tree tydens die gedenkdiens vanjaar. Daarna is ek na Weltevrede, eers as departementshoof en later as adjunkhoof. My vrou is steeds Afrikaansonderwyser by Bergrivier en is op hierdie oomblik daar êrens tussen die vuvuzelas en skoolkinders. Sy’t darem beloof om gereeld die telling vir my te SMS. In my huis was daar dus nog altyd lojaliteite vir albei skole.

Tradisioneel word die sokker (of voetbal) op ’n Vrydag gespeel en die rugby die Saterdagmiddag. Dis vir my of daar vanjaar ekstra gees by die sokker is. En jy hoef nie lank te wonder waarom nie. Die Wêreldsokkerbeker het wondere vir hierdie land gedoen. Waar ek in my studeerkamer sit, kan ek alles hoor wat op die Bolandkollege se veld aangaan. Die wedstryd word hier gespeel omdat nie een van die twee skole ’n sokkerveld het nie. As voormalige voorsitter van Boland Skolesportunie weet ek dat by die meeste ander skole ook nie ’n sokkerveld is nie. En dit sluit alle skole in. Toegegee: sommige skole kon darem al ’n plan gemaak het. Dit laat my dink aan wat Koos Bekker nou die dag geskryf het: die Wêreldbeker het bewys dat ons ’n nasie is wat iets vir onsself kan doen, as ons net wil. Diegene wat nou nog hulself jammer kry en apartheid blameer dat hy nie ’n sokkerveld het nie, moet bykom. Die lewe skuld niemand niks. Dis tyd vir moue oprol en self iets begin doen. Die tyd vir bakhand staan is verby. Suid-Afrika is lankal nie meer die wêreld se grootmaakkind nie en niemand deel meer aalmoese uit nie.

In my onderbewussyn hoor ek my alma mater se skoollied. Dit word gelei deur ’n pragtige dogterstem wat beslis baie beter in Idols sou vaar as die klomp narre wat ons Sondae op die TV sien: “... want werk lewer sukses by Bergrivieeeer …” Dan trek die vuvuzelas weer los. Die wedstryd het begin. “Onthou om die stoof af te sit, anders eet jy vanaand verbrande sop,” herinner my vrou my per SMS. Hoe sy nog wragtag aan kos kan dink terwyl die hoofwedstryd begin het, gaan my verstand te bowe. Maar in ons huis is dit tradisie: as jy griep het, kry jy sop en basta.

My gedagtes dwaal weer weg. Ek onthou die dae toe ek deel was van die unifikasieproses in skolesport. Die dae van kwotas. Ek het selfs ’n artikel geskryf vir Die Burger oor waarom kwotas regverdig is. Daar was altyd een vraag wat keer op keer opgekom het: Waarom is kwotas afdwingbaar vir rugby maar nie vir sokker nie? Die eenvoudige antwoord was dan altyd dat sokker nooit ’n uitsluitingsmeganisme gehad het vir spelers nie. Hulle kon speel net waar hulle wou, ongeag kleur. Kwotas was dus nie nodig nie, omdat sokker van meet af aan ’n multikulturele sport was. Rugby, daarenteen, het spelers verbied om vir blanke klubs te speel en daarom was die sport nooit verenig nie. Die rugbyunies SARU, SARF, SARR en SARB het almal individueel rugby georganiseer in bruin, wit en swart gebiede. Kwotas was dus nodig.

Op ’n keer het ek ’n artikel geskryf dat net drie persone verseker is van hul plek in die Springbokspan: ’n bruin vleuel, ’n swart bestuurder en John Smit. Maar nie meer nie. Intussen het rugby vir sokker verbygesteek as ’n span wat verteenwoordigend van die land en sy mense is.

(’n Oorverdowende gejuig bars meteens los. My vrou se SMS bevestig dat Weltevrede ’n doel aangeteken het.)

Die afgelope vyftien jaar het ons land reuse-treë vorentoe gegee. Sportkodes dwarsoor die land is verenig, en kwotas behoort tot die verlede. Die afgelope tyd het gewys dat ons land, sy diverse samestelling ten spyt, wel suksesvol kan saamwerk as ons ’n gemeenskaplike doel nastreef. Dit het uiteindelik gekulmineer in die fenominale sukses van die Wêreldbeker. Danny Jordaan is beloon met ’n FIFA-aanstelling na sy harde werk. Die wêreld het met verwondering gereageer.

(Weer dawerende applous. Dié keer is dit Bergrivier wat ’n doel aangeteken het, beaam Sonia.)

Maar daar is nog twee aspekte van ons sport wat nie verander het nie. Die een is die gebrek aan sportgeriewe vir ons skoolgaande kinders. Dit is alles goed en wel dat ons vandag met van die mooiste stadions in die wêreld spog. Maar as die skoolgaande jeug nie ordentlike velde het nie, is die kanse dat ons spelers van die kaliber van Diego Forlan, David Villa en Arjen Robben gaan oplewer uiters, skraal.

(Weer ’n gejuig. Ek skakel my selfoon af. Ek wil nie weet wie wen nie.)

Wat ek wel wil weet, is: Wat gaan SAFA met die byna $1 miljard doen om te sorg dat die toekomstige Steven Pienaars en Aaron Makoenas in die gerief van hul eie skool die wonderlike spel van sokker kan aanleer? Wat ek ook wil weet, is wat gaan gedoen word om te verseker dat Bafana Bafana oor vier jaar demografies verteenwoordigend van Suid-Afrika sal wees? Die insluiting van bruin en swart spelers by die Springbokke en die Proteas het nie net hierdie spanne se ondersteunersbasisse verbreed nie, dit het ook gelei tot ’n verhoging in prestasie. Ek is daarvan oortuig dat dieselfde ook met Bafana Bafana kan gebeur.

Maar dan moet ons op skoolvlak begin. Dan moet ons sokkervelde in die townships bou, en skole wat oor twee of meer rugbyvelde beskik, moet dit ernstig oorweeg om minstens een te omskep in ’n sokkerveld en sokker te begin speel. Ons moet hulpbronne begin deel. Soos die afgelope vyf weke moet ons hande vat. Wat sokker in hierdie land nodig het, is ’n weldeurdagte strategie om talentvolle spelers reeds op skool te identifiseer en hulle aan hoëprestasie-programme bloot te stel. Want tensy sokker, soos rugby en krieket, begin om talent te ontwikkel, sal ons sukkel om die sukses van die Wêreldbeker op die veld te ewenaar.

Die dag as Bafana Bafana op die veld draf met ewe veel wit en swart spelers wat op meriete gekies is, sal ons die wendoel skop. En ek sal die eerste wees om my groen en geel vuvuzela wat hier langs my rekenaar op die lessenaar staan, te blaas. Ayoba one more time!

  • Michael le Cordeur is verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch en die Afrikaanse Taalraad. Hy skryf in sy eie hoedanigheid.