Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Les Javan en die Delta Vastrapgenootskap se Hiervandaan op die man af


Leon-Ben Lamprecht - 2010-08-06

Hiervandaan
Les Javan en die Delta Vastrapgenootskap
Bestel Hiervandaan nou by Kalahari.net!


Dis nie maklik om te beskryf hoe Les Javan en die Delta Vastrapgenootskap se musiek klink nie. So, terwyl ek verder dink hieroor, hier is solank bietjie agtergrond.

Les Javan, voorheen van Die Gramadoelas (waar hy saam met die ontslape Alex van Heerden gewerk het), is die huidige inwonende kunstenaar by Solms-Delta, ’n wynplaas net buite Franschhoek.

In 2007 het die Delta Trust, wat in beheer staan van Solms-Delta, besluit om ’n Kaapse musiekprojek in die landelike wynlande op die been te bring. Die idee is basies om dié musiek (wat onder meer Khoi- en San-invloede het) se oorsprong te ondersoek en behoue te laat bly.

Einste Alex was ook betrokke by die projek voor sy dood in 2009.

Die Delta Vastrapgenootskap bestaan uit musikante van dié projek (soos die vrouekoor, ook bekend as die Delta Soetstemme).

Gaaf, noudat julle in the know is, hoe klink die musiek?

Die woord wat aanhoudend aan my kop hamer, sou vars wees. Dis ’n flippen interessante mengsel van bietjie folk, bietjie boeremusiek, dalk selfs bietjie goema en ook ’n bietjie gospel.

Elf van die 13 liedjies op die album is uit Javan self se pen.

Onbeskaamd is die album se hart in die Kaap en op die plaas. Hulle sing byvoorbeeld van Franschhoek en Villiersdorp in “Franschhoek toe”, van die Klein Karoo in “Ouma se kind” en die Bergrivier in “Veilig in die Here”.

Of dit luisteraars van elders in die land sal pla? Ek twyfel. Dis die tipe musiek wat jy bloot op die agtergrond kan luister, of op die oop pad op pad na Pofadder, of intens kan luister met ’n glas wyn in die donker na ’n lang dag by die werk. Die Kaapse aard is bloot waarin dit afspeel: dis steeds toeganklik en ’n lekker luister.  

(Maar ek het seker maar ’n vested interest. As ek my tjommie Die Generaal mag aanhaal: “Ek voel oor die Kaap soos Katelane oor Katelonië.” iKapa libré! Kug. But I digress.)

Javan skryf liedjies sonder vreeslike pretens. In die openingsnit, “Met jou aan my sy”, verklaar hy opgewonde oor ’n opgewekte melodie “daar’s ’n lied in my hart/ met jou aan my sy”.

Maar luister jy bietjie verder, is dit tog nie net suikerlirieke nie: “soos ons stap in die stofpad/ hand aan hand verby/ al die swaarkry van ons volk en ons land/ en ek sien my koningin/en die liefde wat sy bring/ sy laat die storms en die swaarkry verdwyn.”

So ook in byvoorbeeld “Veilig in die Here”. Die Soetstemme-koor sing hier: “Die Here het kom kuier, maar daar’s niemand by die huis.”

Ook die liedjie is heel opgeruim met ’n donkielong wat in die agtergrond sy ding doen.

En dan sing hulle: “Veilig in die Here by die Bergrivier se wal/ onderkant die water is dit stil ... almal het gekom om die liefde te kom hê/ maar onderkant die water is dit stil.”

(Javan het terloops in ’n onlangse onderhoud met Johnny Davids op RSG te kenne gegee dat dié liedjie oor ’n kerkdiens by die Bergrivier gaan waar mense verdrink het.)

Op die laaste drie snitte (“Gemoedsrus”, “Ouma se kind” en “Hanna”) maak Javan en makkers die dinge stadiger, vir ’n heel gepaste einde.

Dis op die einde moeilik om te beskryf wat Hiervandaan so anders en talmend maak.

Dis nie of Javan en trawante byvoorbeeld ’n luidier tydends paring opneem vir agtergrondmusiek nie: die klanke is herkenbaar en vervreem nie. Dis sonder tierlantyntjies.

Die lirieke is ook in ’n sekere sin eenvoudig – dis op die man af.

Dalk is dit juis waar die slaankrag lê?