Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Resensies | Reviews

Cosi sal jou meevoer


Albert Maritz - 2010-08-04


Cosi

deur Louis Nowra
by die Little Theatre
Universiteit van Kaapstad

Regie: Scott Sparrow
met oa Guy de Lancey, Andrew Laubscher, Deborah Vierya, Emily Child, Wilhelm van der Walt en Kate Liquorish.

Cosi, The Mechanicals se pas afgelope produksie, is alles waaroor die lewe gaan; dis alles waaroor goeie teater gaan.

The Mechanicals is ’n groep akteurs in Kaapstad, die room van akteurs, wat sonder salarisse toneel op die been bring. Die Universiteit van Kaapstad stel hulle fasiliteite beskikbaar. En wanneer mens die Kleinteater op die kampus instap en jy sien die eienaardige (“intriguing”) stel, met die strome lig wat deur ’n effense waas skyn, kan jy jou nie indink dat jy hier vermaak gaan word op ’n wyse wat selfs die briljante internasionale Waiting for Godot-produksie sal beïndruk nie.

My maatstaf is altyd: as ek die produksie sit en meet en pas, en ek kom agter my mond hang oop, is ek besig om meegevoer te word. En hier het ek so oopmond gesit, toe ek boonop agterkom ek lag – hard. En dis veel gevra van ’n “smiler”.

Voor in die koor op die verhoog is Guy de Lancey, seker een van die mees besonderse talente in die wêreld. Sy manier van werk is so uitsonderlik; hy is ’n besonder sonderlinge vermaaklikheidskunstenaar. In Cosi verras hy in elke nuanse, elke beweging, elke onverwagse sagtheid, begrip, “tantrum”, “aside”, trippelpassie, handgebaar, kontak met mense en ameublement om hom. Kortom: hy verruk in ’n karakterisering wat uiteindelik op die mees subtiele manier ’n skouspel word van die emosionele bagasie wat die arme malhuisbewoner, Roy, se lewe bepaal.

Aan sy sy is die besonder afgeronde, gebalanseerde, helder vertolking van Lewis, deur Andrew Laubscher. En so kan mens op die lys afwerk. Nege uit tien van hierdie karakters sal ek in my geheue saamdra, tot ek nie meer kan onthou nie. Die ontwikkeling van die onbeholpe Ruth, die vreugdevolle warmte van die arme, arme Cherry, die onblusbare, skadelose woede van Doug, sy dapper gebroke woede – selfs na hy met die “flick-knife” bygekom is. Ook onvergeetlik is die kranksinnigheid van Justine – die verteenwoordiger van ons “normale wêreld” – en die groei wanneer ons, die gehoor, agterkom hoe in staat Lewis is om uit die skadu van die “regte regisseur” te stap. Hy neem die besluit, vind die oplossing – hoe om Henry ook te red, deur die goue middeweg te kies. Dis so raak, so waar, so eg – wat die lewe betref; wat die vermaaklikheidswêreld in Suid-Afrika betref – dis nou die dele daarvan wat ooit genoeg oplossings vind om dit reg te kry om met integriteit met die speelveld van die siel om te gaan.

Cosi laat jou met die heuglike opsie van ’n wêreld waar jy omgaan met oplossings (Cosi, terwyl jy eintlik wil rock). Dit laat jou met drukkies en egtheid; wat oorbly na almal deur die gemors gewerk het, en konsensus het om, elkeen met sy eie sterkpunte, saam te besluit op die suiwerste uitkoms.

Vir ’n onervare regisseur, Scott Sparrow, haal ’n mens jou hoed af. Hy is natuurlik omring deur van die beste “craftsmen” in die bedryf.

Selfs met die keuse van Nick, die “regte” regisseur, met sy “flings” en “tantrums”, vat hy raak. Louis Viljoen het ’n stem van ’n rockster, teruggeplaas in die keel, wat selfs met sy goeie artikulasie ’n “laid-back”-indruk skep, en die meegaande “unlikeable” tekstuur.

Hier en daar praat ’n akteur na agtertoe, wat nou eenmaal steurend is. Die gehoor is al “ingestem” by die standaard volume, en by variasies daarop, en dis tegnies steurend as die klank verdwyn. Enkele aksente werk onduidelikheid in die hand wanneer die energie nie saamwerk nie, en mens sou ’n saak kon uitmaak vir effe meer subtiliteit in die ommeswaai van spesifieke karakters wanneer dinge begin glad loop. Alhoewel: Cosi het ’n sirkuselement, en niks aan ’n sirkus, behalwe die sweefstokartieste, perde, leeus en olifante, is subtiel nie. Dieselfde geld vir veral een akteur wat baie gehoorgefokus, op ’n amper afshow-manier losgelaat is, in ’n styl wat reëlreg bots met ander, baie suiwer werk deur hom oor die jare.

The Mechanicals het ’n webwerf. Sorg dat jy ’n intekenaar van hulle goeie bemarkingsnetwerk word. En vra vir ’n terugkeer van Cosi as jy dit gemis het. Dit vergelyk dalk baie goed met die internasionale werk – wat om die draai teen baie hoër kaartjiepryse uitverkoop is. Indien dit nie dalk – ampertjies – net so goed is nie?