Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Poësie op die verhoogplanke


Albert Maritz - 2010-08-04

PG du Plessis se bydrae tot ons verhoogskat is legendaries. Maar werk soos sy Siener in die Suburbs kry te min blootstelling op die min verhoë wat tot die beskikking is van die Afrikaanse ou.

Waar Don Lamprecht in die Francois Swart-produksie van Siener in die Suburbs glo geskuim het om die mond – van egtheid – en gesigte gesien het, het Siener nie veel “luck” die afgelope paar jaar nie. Dis by die KKNK opgevoer, maar opinies was ongeërgd. 

Ek is ’n baie groot “fan” van  die UK-dramadepartement. Ek is al deur die UK op talle terreine beïnvloed, in hoe ek byvoorbeeld Shakespeare benader. Hulle het Siener vanjaar aangebied. Hierdie opvoering was as ’n stilistiese, amperse poësie-oefening – deur ’n meester – goeie oefening vir die studente, maar nie so suksesvol uit die oogpunt van die dramaturg nie.

Die stuk kon slaag vir oomblikke, maar het geneig na ’n statiese aanbieding, wat spelers beperk in hul pogings om hul karakters realisties te ontwikkel. Die keuse van musiek was ongelukkig erg in kontras met die inhoud van die stuk. Dalk die strooitjie wat die kameel se rug breek: die gemis aan Jakes se “bike”.

*

In Suid-Afrika is daar twee baie sterk poësiesamesteller/-regisseurs. Hulle is Sandra Temmingh en Juanita Swanepoel. Ek het die voorreg gehad om doerie jare, nadat ek gatvol uit toneelspeel getree het, deur Sandra nader gehark te word om in haar skole-poësieprogram op te tree. Vir my, Illse Roos, Gretha Brazelle en Edward Turner (as hy nog gelewe het, sou hy saamstem) was dit onvergeetlik.

*

’n M-student op Stellenbosch het vanjaar ’n poësie-produksie aanbied as regie-eksamen. Mari Borstlap is ’n verlangse familielid van Gert Borstlap (alias André Hugeunet). As skoolkind was sy reeds self skrywer en regisseur van ’n “tweedespan”-skoolproduksie. Hulle was die protes-groep – die groep wat onafhanklik wou optree toe daar nie in die eerste span plek was nie. Die stuk was fassinerend. Dis toe die begin van die “Tienertoneel Prestige-aand” wat by Hoërskool Durbanville aangebied word. Dit was dusver nog altyd ’n alternatief, juis vir nie noodwendig wenstukke nie, en sonder ’n kompetisie-aspek, maar tog met trofees! Stukke wat nie deur die wysstes van wyses – die ATKV-beoordelaars – raakgesien is nie, het darem iewers bietjie loon kon kry, vir eerlike werk. Van vanjaar af is die “Prestige-aand” in Durbanville Hoërskool se Tienertoneelweek verswelg.

*

Met vanjaar se M-eksamen-produksies tref Mari Borstlap die grootmenstoneel!  Sy is duidelik beïnvloed deur Marthinus Basson en Jaco Bouwer. Baie indrukwekkende visuele laat die mond oophang. Innoverende gebruik van beligting maak wêrelde oop met hierdie erg onderskatte onderdeel van teater. Akteurs (karakters) praat met mekaar deur ’n abstrakte taal – Breyten Breytenbachiaans. ’n Teks deur Mari Borstlap, gebaseer op die werk van Breytenbach, stel karakters teenoor mekaar in dialoog. Die M-doel is “om te probeer vasstel of die toeganklikheid van poësie verbreed kan word deur dit teatraal aan te bied”. Dis die verskil tussen hierdie aanbieding en ander voorafgaande werke op Stellenbosch.

’n Ou proefneming wat strook met Mari se opdrag, is ’n KKNK-produksie, “Skilder”. Hier is in 2004 dialoog wat kom uit die poësie van twee skilder/digters direk op karakters se tonge gelê. Stefan Terblanche en Martiens van der Linde se skilderye en hulle digkuns is gebruik om ’n verhaal van twee karakters uit te beeld, asof in ’n gewone toneelstuk. Die digkuns was die woorde, en die verskuiwende skilderye die veranderende stel. Regie was deur Marion Holm.

Ook in ’n KRUIK-skoleprogram jare gelede het een lid van die geselskap ’n Breytenbach-gedig voorgedra. “Swart Stad” was polities en emosioneel gemotiveer, en definitief nie die kos van die man op straat van daai tyd nie.

Helaas, deur dit te interpreteer, en vars te hou deur herinterpretasie, gebaseer op persoonlike analise, was die gedig keer op keer vir die gehoor ’n uiterste vreugde. In Riviersonderend se skoolsaal, op ’n Vrydagoggend laat, is dit die gedig wat die gehoor aan die einde van die program gevra het weer voorgedra moes word.

So, soos met Shakespeare, moet die voordraer beslis woeker met die inligting in die gedig en dit namens die gehoor inklee met stem en gevoel. En dis ’n element wat wel in Mari Borstlap se “Ontslape” voorgekom het, maar in dié stadium nog inkonsekwent. ’n Mens het die gevoel gekry die akteurs maak beurte om baie sterk te imponeer; maar by tye gaan hulle te gewoon met die materiaal om. Die goeie nuus is dat die akteur – selfs in die mees gevorderde omgewing – steeds koning kraai.