Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Artikels | Features

Tussengebied: ’n Persoonlike keuse uit verskuilde en verbygegane gay-tekste (Deel 2)


Hennie Aucamp - 2010-08-03

Klik hier om die eerste aflewering van Tussengebied te lees.


In hierdie aflewering:

6. Isak Dinesen (Karen Blixen) (1885-1962): “The Monkey”, Seven Gothic Tales.
7. Elizabeth Bowen (1899-1973): “The Happy Autumn Fields”, Stories by Elizabeth Bowen.
8. Sean O’Faolain (1900-1991): “How to write a short story”, The Collected Short Stories.     
9. HE Bates (1905-1974): Triple Echo (novelle), opgeneem in Now Sleeps the Crimson Petal and other stories.
10. HE Bates (1905-1974): “The Snow Line” opgeneem in Now Sleeps the Crimson Petal and other stories.

Verhaal 6

Dit is verbasend dat bloemlesers van gay-verhale “The Monkey” van Isak Dinesen (1885-1962) verbygegaan het. Dit kom uit haar bundel Seven Gothic Tales en is, soos die bundeltitel laat vermoed, ’n Neo-Gotiese verhaal.

Die hoofkarakter is ’n abdes van ’n sekulêre klooster waar welgestelde middeljarige en ouer vrouens hul dae in vrede deurbring. Die abdes is nie so vroom as wat ’n mens wil vermoed nie, en het ’n alter ego in die vorm van ’n aap wat sy van haar neef admiraal Von Schreckenstein present gekry het. Die neef se naam is al klaar ’n aanduiding dat alles nie pluis is nie en die aap ís dan ook ’n verskrikking wat baie kwaad en skades aanrig. Vir lang tye gaan hy weg, wat die abdes rusteloos en ongedurig laat totdat hy weer terugkeer.

Dis eers wanneer haar jong gay neef haar hulp inroep omtrent ’n haastige huwelik ten einde ’n gay-skandaal te verhoed dat die “aap” in die abdes na vore kom. Sy is ’n aartsintrigant, dwing die neef af op ’n Pentiseleia-figuur wat niks van die neef wil weet nie, jaag hom selfs die viagra van haar dag in om die neef “strydvaardig” te kry.

Robert Langbaum meld in sy studie oor Dinesen, The gayety of vision, dat Boris in “The Monkey” ’n “homosexual character” is, en sê verder dat Blixen hom in ’n persoonlike gesprek vertel het dat “The Monkey” op die Eulenburg-skandaal in Duitsland (1907-1908) inspeel, ’n homoskandaal wat die burgerlike gemeenskap net soveel geruk het as die Oscar Wilde-skandaal in Engeland.

Langbaum se eksterne inligting is oorbodig: Dinesen het haar gay-“merkers” duidelik geplaas. Die mooi jong Boris is ’n tipiese “Mother’s boy” – “He was the preferred child of his mother.” Verder was hy geneig tot giggelbuie in krisisse, en die gelukkigste tyd in sy lewe was ’n reis saam met ’n vriend, by welke geleentheid hulle soms ’n bed gedeel het. Sy simpatie gaan uit na alle jong mans, “perfect in beauty and vigour”, wat gedwing word om “pillars of the community” te word. Ook is Boris ’n akteur: “a tragic actor of high standard”. Maar “butch” kan hy nie speel nie. Sy beplande bruid slaan tande uit sy mond uit.

Dinesen het ook ’n lesbiese verhaal geskryf, getitel “The Blank Page”, wat eweneens in ’n kloosteromgewing afspeel. Margaret Reynolds het dit ingesluit in haar bloemlesing The Penguin Book of Lesbian Short Stories.


Verhaal 7

Wat nie in Reynolds se bloemlesing staan nie, is “The Happy Autumn Fields” van die Iers-Engelse skryfster Elizabeth Bowen (1899-1973). Dit is een van haar beste en geheimsinnigste verhale, gekompliseer deur kronologiese versteurings en teatrale beligting, buitenshuis sowel as binnenshuis, wat ’n gevoel van bevreemding, van andersheid skep.

Elizabeth Bowen het nooit teruggedeins vir eksperimente nie, maar altyd op ’n stil en subtiele manier. Dis eers wanneer jy Bowen onmiddellik na Katherine Mansfield lees dat jy besef hóé ver sy die tegniese grense van die kortverhaal verskuif het.

In haar inleiding tot Stories by Elizabeth Bowen (1959) sê Bowen: “The fact is, that every short story is an experiment – what one must ask is not only, did it come off, but was it, as an experiment, worth making?”

“The Happy Autumn Fields” is ’n eksperiment wat dubbel en dwars slaag. Dit beweeg op verskillende vlakke, dié van reminisensie; dié van die spookverhaal, met ’n hang na Neo-Gotiek; dié van ’n lesbiese liefde tussen twee susters, wat terugskouend die sielkundige handeling – noem dit ook die spook-element – aktiveer.

Nou is dit interessant dat Bowen haar met die “teorie” van die spookverhaal besig gehou het, en boeiende dinge gesê het in haar inleiding tot The Second Ghost Book wat net so toegepas kan word op “The Happy Autumn Fields”.

Die moderne spook, sê Bowen met haar kenmerkende spitsvondigheid, het volwasse geword, en sy laat volg: “Far behind lie their clanking and moaning days; they have laid aside their original bag of tricks – bleeding hands, luminous skulls and so on.” Henrietta, die jong dogter van “The Happy Autumn Fields”, is as spook nie eens sigbaar nie, behalwe vir ’n flits, en dit is ook net vir die leser; nee, sy is gevaarliker, want sy dring in die droom van ’n onskuldige slapende vrou in, en wat ons in die eerste driekwart van die verhaal lees, blyk uiteindelik ’n episode in die verre verlede te wees. Weet ons dat ons ’n droom lees? Nie met sekerheid nie. Bowen sê self: “Who knows what has gone on, anywhere?” Maar die ligspel in hierdie eerste driekwart van die verhaal, die mesmeriserende beweging van karakters oor ’n stoppelland, onder ’n herfslug, soos ’n film wat in vertraagde spoed draai, het iets ontsenuwends. Weer kan Bowen omtrent die spookverhaal aangehaal word: “There must be, and must be conveyed, a sense of the strange – unearthly expectation and apprehension can only be rendered in fairly fine terms.”

En wat sy oor beligting in die moderne spookstorie sê, geld presies wat haar eie praktyk betref: “Half-tones of daylight, the livid hush before thunderstorms, glass-clear dusk or hallucinatory sunsets suits them (ghosts) better than out-and-out pitchdark night.” Een voorbeeld uit die daglig-tydsverloop in “The Happy Autumn Fields”: “There was no end to the afternoon whose light went on ripening now they had scythed the corn. Light filled the silence which ... was complete.”

Ook nie só stil nie: rawe maal in die herfslug. Eindelik sak die son weg agter die bome, maar vul nog vir ’n rukkie die voorkamer waar die gesin, ma, dogters, seuns, die besoeker wat ons in die eerste driekwart van die verhaal leer ken het, nou bymekaar is. Lampe word ingedra. Die jonger dogters, Sarah en Henrietta, om wie die hele verhaal draai, is intens lief vir mekaar, en tydens die gesin se wandeling oor die stoppellande na die horison het hulle telkens agtergebly. Wat hulle bind aan mekaar, naas lyflike bewustheid van mekaar, is woorde. Liefdeswoorde; liefdesverklarings.

Maar hul liefde word bedreig. Die besoeker, Eugene, gaan Sarah om haar hand vra.
Eugene vra Henrietta om Sarah nooit onder haar oë te laat uitgaan nie, en hierop volg fatale woorde:

Henrietta cried: She is never out of my sight. Who are you to ask me that, you Eugene? Whatever tries to come between me and Sarah becomes nothing. Yes, come to-morrow, come sooner, come – when you like, but no one will ever be quite alone with Sarah. You do not even know what you are trying to do. It is you who are making something terrible happen. – Sarah, tell him that is true. Sarah –

Iets verskrikliks hét gebeur, nog dieselfde aand. Terwyl hy terugry huis toe, het Eugene se perd om ’n onverklaarbare rede geskrik; Eugene het afgeval en is dood.

Om Elizabeth Bowen se meesterlike verhaal “The Happy Autumn Fields” ook maar naastenby te probeer begryp, moet die kronologie van die verhaal herskep word.

Wat daardie herfsdag gebeur het, het lank, lank gelede gebeur. Die ou huis van die storie word afgebreek, en ene Mary en Travis soek tussen die rommel. Hulle kom op ’n koffer met dokumente af, en Travis neem dit dorp toe, en beloof om Mary oor twee uur te kom haal. Mary val in ’n diep slaap. Sy is nie meer Mary nie, maar Sarah, sonder eie identiteit, en in haar slaap skree sy “Henrietta”. Travis neem Mary weg. Hy het intussen deur die dokumente in die koffer gewerk. Nee, sê hy, Mary kan nie ’n afstammeling van Sarah of Henrietta wees nie. Hulle het nooit getrou nie en is redelik vroeg dood. Ook meld die dokumente dat Eugene die dag van “The Happy Autumn Fields” in ’n fratsongeluk dood is.

Verhaal 8

Reeds die titel “How to write a short story” sou voornemende samestellers van gay-bloemlesings verby Sean O’Faolain (1900-1991) se verhaal kon laat kyk het. Op die koop toe is dit werklik ’n didaktiese verhaal, en as sodanig ’n meesterstuk. Binne een verhaal word gedemonstreer hoe ’n verhaal vertel kan word en hoe ’n verhaal nie vertel moet word nie.

Die gegewe is ’n tipiese kosskoolgegewe: ’n ouer seun, skoolkaptein, sonder ’n jong seun as sy “geliefde” uit, en alles verloop rustig totdat die kaptein die seun Frank brutaal sodomiseer. Frank word siek, tot ’n wyse ou dokter besef dat hy ’n geweldige sielkundige skok gehad het, en geleidelik bring hy hom terug na normaliteit. Die ironie is dat hy nou ’n persoonlikheidsverandering ondergaan, en ook hipermanlik word, soos die kaptein.
Frank trou nooit nie, maar die suggestie is dat hy tog homofiele neigings het. Die aand waartydens die verhaal hom met terugflitse afspeel, bespreek Frank en ’n veel jonger vriend, ’n bibliotekaris, laasgenoemde se kortverhale. Die bibliotekaris stel kuns bó die lewe; met Frank is dit net andersom. Frank se verliefdheid op die bibliotekaris verblind hom vir laasgenoemde se tekortkominge as skrywer.

Die waarheid is dat ’n “derde party”, naamlik Sean O’Faolain, vir Frank, die bibliotekaris en vir ons, die leser, leer hoe om ’n goeie kortverhaal te skryf.

My volledige bespreking van “How to write a short story” is opgeneem in my handleiding Die blote storie 2.

Dit is lonend om Ruth Rendell se verhaal “The Fallen Curtain” met “How to write a short story” van Sean O’Faolain te vergelyk.

 Verhale 9 en 10

My volledige bespreking van die novelle The Triple Echo en die kortverhaal “The Snow Line” van HE Bates (1905-1974) word in hierdie bundel opgeneem, en hiermee word twee merkwaardige tekste aan die leespubliek gegee wat tot dusver toe nie aan Bates as ’n skrywer van gay-tekste gedink het nie. Bates was, soos Sean O’Faolain, Elizabeth Bowen, Eudora Welty (1909-2001) en Tsjechof, ‘n voortreflike teoretikus oor die kortverhaal. Het “verbode” temas dalk ’n ekstra aantrekkingskrag vir teoretici oor die kortverhaal, omdat sulke temas die vindingrykheid van die skrywer tot die uiterste toe beproef?


Word vervolg. Hou LitNet in die komende weke dop vir Hennie Aucamp se besprekings van die ander verhale op sy lys.