Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Haasbroek vermag iets magies in Kruispunt


Joan Hambidge - 2010-07-28

Kruispunt
PJ Haasbroek
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798151719
Prys: R144.50

Klik hier en koop Kruispunt nou by Kalahari.net!

 

PJ Haasbroek het veral as kortverhaalskrywer ’n besondere bydrae binne die Afrikaanse letterkunde gelewer. ’n Mens dink hier in die besonder aan bundels soos Heupvuur (wat bekroon is met die Eugène Marais-prys) en Roofvis. Aan sy romans het hierdie leser min erg. Die verhale is uitgesponne en die simboliek dikwels te swaar vir die teks. Maar dit is ’n persoonlike voorkeur en lees is ten minste ook gekoppel aan persoonlike smaak.

Maar sy kortverhale ... dít is nou werklik iets besonders. Haasbroek vermag in die korter kortverhaal iets magies en dit is asof hy in ’n bykans poëtiese sfeer inbeweeg en die tegelykertyd-aspek van die gedig laat gebeur. In die openingsverhaal van sy jongste bundel, Kruispunt, word ’n jong seun se ervaring van stereotipering en verlies aan onskuld so netjies saam-vertel dat ’n mens met elke herlesing ’n nuwe interpretasie-moontlikheid terugvind in die verhaal. Dit heet “Ahmo se perd” en word geplaas naby die Neretvarivier. Ons beleef ’n oorloggeteisterde gemeenskap se ervaring van ’n Kroatiese tenk en die letsels van ’n oorlog. Die jong seun dink die perd gaan deur ’n sigeuner doodgemaak word en in sy onskuld probeer hy die perd red. Die ontknoping van die verhaal is besonder slim weergegee: dit berus op ’n misverstand; terselfdertyd ontdek die seun die lyk van ’n soldaat, die broer van Rutko, wat in die oorlog vermis geraak het. Haasbroek se vertelling is besonder gelade: die seun op die drumpel van volwassenheid word gekonfronteer met klas-stereotipes, vooroordeel, die leed van oorlog en geweld. Wat ’n boeiende verhaal met ongelooflike onderstrominge.

In die tweede verhaal, “Tilapie”, vang Petrus ’n wyfiekurper en omdat die “blouweer begin grom het”, neem hy die kurper huis toe en sit dit in die bad. Gewoon omdat hy nie lus het om dit te slag nie. Weer eens: ’n verhaal oor ’n vis in ’n bad wat ’n ongelooflike analise word van ’n troebel psige. Uiteraard kan die vis nie daar bly nie (want troeteldiere word nie in die woonstelblok toegelaat nie!) en uiteindelik gooi hy die vis terug in die water.

Iewers het ’n resensent geskryf dat die slotte van hierdie bundel hom gepla het. Maar lees nou hierdie slot en ons hoef nie saam te stem nie: “Op pad na die woonstel in Altebella Heights koop Petrus vis en skyfies by ’n padkafee. Hy voel alreeds beter” (31). Navrant, sou ek meen. En sterk!

In “Die kap van die byl” word die tegniek van twee vlakke ontgin: die hede/verlede versus liefde/politiek. In hierdie raamvertelling word daar gekyk na jeugdige hartstog en of ’n mens weer so ’n verhouding kan hervat. Die liefde in hierdie geval kan nooit weer opvlam nie, weens die politieke geweld wat die private binnedring. (Dit is ook ’n knap spel met die outobiografie: die verteller is ene Piet, maar ondersoek ’n moordsaak.)

Haasbroek is bekend vir sy machismo en dit word sterk ontgin in “Ontmoeting in Bagdad”, waar die verteller se wellus gefnuik word. Dit blyk toe nie ’n vrou in die burka te wees nie, maar ’n man met ’n kromlem-dolk.

Elke verhaal in Kruispunt is goed vertel en die skrywer gee die wêreld van die macho-man weer. Machismo is egter dikwels net die masker: agter al hierdie jagstories en grootbekverhale word ons dikwels getref deur weerloosheid, soos in die verhaal “Saam”, waarin die leser die effek van ’n man wat sy seun aan die dood afgestaan het, verhaal word. Dit is ook hierdie verhaal waarin die titel verduidelik word: ”’n oog in die kruispunt van die visier” (89). Die skrywer as jagter dus, as waarnemer van pyn en ellende, en dit word vir ons verhaal aangrypend weergegee. Daar is min verhale waarin die impak van verlies so dwingend geteken word. Die verlies as leegheid word in hierdie verhaal pynlik eerlik vertel:

Die wind waai heen en weer daaroor, maar dit vul nooit met sand nie.

Dit is bar en klipperig en die middaghitte gloei tot ná sononder nog daarin, of in die winter dam die koue daar.

Die holte lê heeltyd daar en wag, en jy kan watter draaie loop, maar bly dit onthou, dat dit op jou wag.

Daar is verhale van verraad, liefdesverraad spesifiek, soos “Langs die Suiderkruis se onderpunt” waarin Haasbroek nie alleen daarin slaag om die hele Mosambiekse leefwêreld oortuigend weer te gee nie, maar die leser gevange te hou oor hóé die navorser deur sy minnares en opponent die loef afgesteek word. Op ’n keer word daar vanuit ’n perd se perspektief vertel in ’n droom!

Elke verhaal is puik gekomponeer. Dit is ’n boek wat ’n mens eenvoudig nie kan neersit nie.

Haasbroek se besondere vermoë om jou binne ’n bepaalde omgewing te plaas, moet vermeld word. Hy ondersoek die duister psige van die mens, wat hier én elders afspeel. Hy ondersoek die onbewuste en dit is ’n bundel van primordialiteit. Hy gebruik onder andere die cowboy-verhaal en Tarzan, maar dié kry ironiese eggo’s binne ’n verhaal waarin manlikheid dikwels as broos weergegee word.

Haasbroek word tereg as ’n deurwinterde skrywer beskou.

Hierdie is die uitgebreide weergawe van ’n resensie wat op FMR voorgelees is.