Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Artikels | Features

Tussengebied: ’n Persoonlike keuse uit verskuilde en verbygegane gay-tekste (Deel 1)


Hennie Aucamp - 2010-07-28

My stuk “Ander weides, ander keuses” het ’n oorsig gebied van gay-bloemlesings uit die tweede helfte van die vorige eeu tot 2007 toe.

Soos in gemelde stuk, wil my hipotetiese bloemlesing “Tussengebied” ook ’n oorsig bied, weer met die klem op literêre gehalte. Ek het my toegespits op verskuilde tekste, dit wil sê tekste wat nog nie in standaard gay-bloemlesings opgeneem is nie, en sluit dus aan by die kategorie “concealed gay literature”, soos in Leavitt en Mitchell se Pages passed from hand to hand.

Daar is een spesifieke rede waarom ek op soveel verskuilde verhale afgekom het, en dit is dat die kortverhaal ’n beroepslewe lank my spesialisasiegebied was. Op dié wyse het ek verhale teëgekom van skrywers wat nie met die gay-kwessie geassosieer word nie; verhale van Toergenjef, Tsjechof, Guy de Maupassant, Thomas Mann, Isak Dinesen, Sean O’Faolain, Primo Levi, Ruth Rendell, WG Sebald, Julian Barnes, Ruth Prawer Jhabvala en ander. By party skrywers is die gay-kodes yl, by ander byna blatant.

Ek het met groot onwilligheid die verhale “The open boat” van EM Forster en “Star Quality” van Noël Coward weggelaat uit my lys, om die eenvoudige rede dat verhale van hierdie twee skrywers in al die standaard-bloemlesings van gay-verhale voorkom. My keuses verskil bloot van dié van ander bloemlesers, en oor smaak, weet ’n mens, val nie te redeneer nie.

Ek het geen onderskeid tussen gay- en lesbiese verhale getref nie, omdat die ooreenkomste tussen gay- en lesbiese verhale dalk groter is as die verskille. En dalk ís daar geen verskille nie, soos Patrick Higgins in A Queer Reader (bl 3) probeer aandui: “The stem ‘homo’ was Greek rather than Latin, meaning ’same’ rather than ’man’, thus allowing ’homosexuality’ to be employed to cover female sexuality as well.”

Ook onderskryf ek nie die opvatting dat gay-/lesbiese skrywers beter oor hul eie geslag skryf as byvoorbeeld oor die teenoorgestelde geslag nie. Van die klassieke verhale oor gays is juis deur vrouens geskryf, soos byvoorbeeld Willa Cather, Isak Dinesen (Karen Blixen), Anna Blaman, Marguerite Yourcenar, Daphne du Maurier, Ann Beattie, Alice Munro. Ook in Afrikaans het enkele vrouens uitstekende verhale oor gays geskryf, soos Rita Gilfillan, Riana Scheepers en Jeanette Ferreira.

Die omgekeerde is nie noodwendig waar nie. Daar skyn bra min substansiële verhale oor lesbiërs te wees wat deur mans geskryf is; “Paul’s Mistress” van De Maupassant en “Chagrin in three parts” van Graham Greene, maar ander belangrike titels bly hierdie skrywer ontwyk.

Eers volg my keuses vir “Tussengebied” in kronologiese volgorde, wat die leser terselfdertyd iets van die blywendheid van die tema homoseksualiteit, by mans sowel as vroue, laat sien, en daarna volg besprekings van die ingeslote verhale.

  1. Ivan Toergenjef (1818-1883): “Khor and Kalinich”, A sportman’s notebook.
  2. Guy de Maupassant (1850-1893): “Twee klein soldaatjies”, Uitgesoekte kortverhale deur Guy de Maupassant; asook talle ander versamelbundels.
  3. Anton Tsjechof (1860-1904): “Terror: My friend’s story”, The Oxford Chekhov, Volume IV.
  4. Thomas Mann (1875-1955): “The Fight between Jappe and Do Escobar”, Collected Stories.
  5. Willa Cather (1876-1947): “Paul’s Case: a study in Temperament”, The Troll Garden.
  6. Isak Dinesen (Karen Blixen) (1885-1962): “The Monkey”, Seven Gothic Tales.
  7. Elizabeth Bowen (1899-1973): “The Happy Autumn Fields”, Stories by Elizabeth Bowen.
  8. Sean O’Faolain (1900-1991): “How to write a short story”, The Collected Short Stories.     
  9. HE Bates (1905-1974): Triple Echo (novelle), opgeneem in Now Sleeps the Crimson Petal and other stories.
  10. HE Bates (1905-1974): “The Snow Line” opgeneem in Now Sleeps the Crimson Petal and other stories.
  11. Eudora Welty (1909-2001): “First Love”, The Collected Short Stories.
  12. Maeve Brennan (1916-1993): “The Servant’s Dance”, The Rose Garden: Short Stories.
  13. Primo Levi (1919-1987): “The Juggler”, Moments of Reprieve
  14. Primo Levi (1919-1987): “A long duel”, Other People’s Trades.
  15. Gore Vidal (1925-): “Clouds and Eclipses”, Clouds and Eclipses: The Collected Short Stories.
  16. Ruth Prawer Jhabvala (1927–): “Parasites”, opgeneem in East into Upper East: Plain Tales from New York and New Delhi
  17. Ruth Prawer Jhabvala (1927–): “Bobby”, opgeneem in East into Upper East: Plain Tales from New York and New Delhi
  18. Ruth Rendell (1930-): “The Fallen Curtain”, Collected Stories.
  19. Susan Sontag (1933-1999): “The Way We Live Now”, The Best American Short Stories, 1987.
  20. Alan Bennet (1934-): “A common assault”, Untold Stories.
  21. Julian Barnes (1946-): “Vigilance”, The Lemon Table.
  22. WG Sebald (1944-2001): “Ambros Adelwarth”, The Emigrants.

 

Verhaal 1: Ivan Toergenjef (1818-1883): “Khor and Kalinich”, A sportman’s notebook

Ek begin my keuses effens aarselend met “Khor and Kalinich” uit A sportman’s notebook van Toergenjef (1818-1883), maar met die herlees van hierdie verhaal het ek besef dat die oomblikke van homosensibiliteit net te min en te ondergeskik is aan die hooftema, naamlik die geaardhede van die twee titelkarakters, om die verhaal as gay te laat kwalifiseer. Die verteller verwys meerdere male na die mooi jong peasant Fedya; ja, reeds in die sin wat Fedya aan die leser voorstel: “We went in and were met by a young peasant lad of about twenty, tall and good-looking.” Kort hierna, maar ook later, word Fedya se sneeuwit tande gemeld, en die verteller praat spoedig van “my friend” Fedya.
Op die koop toe is Fedya nie geïnteresseerd in trou nie, en sê: “What should I get married for? ... I’m all right as I am. What good would a wife be to me? Someone to quarrel with, eh?”

Khor, Fedya se vader, korswil met Fedya oor sy wit hande en silwer ringe, maar heeltemal onskuldig, sonder homosensuele ondertone. Die verteller wat die gejil rapporteer, heg dalk ’n ander interpretasie aan Fedya se hande en ringe, vandaar die aandag aan die gemelde besonderhede.

Daar is ’n kort, intieme toneeltjie waar Fedya die verteller na sy slaapplek vir die nag neem, naamlik in die soet hooi in die skuur. Fedya sê “nag” en trek die deur agter hom toe, en – baie beduidend – die verteller sukkel om aan die slaap te raak. Vroeg die volgende dag word hy deur Fedya gewek, en dan volg dié reël: “I had taken a great liking to this gay, alert young fellow; ...”

Dit mag wees dat ek heeltemal te veel in ’n paar sensuele oomblikke inlees, en hiermee stap ek af van “Khor and Kalinich na verhale wat hul gay-kodes ondubbelsinnig opvolg.

Verhaal 2: Guy de Maupassant (1850-1893): “Twee klein soldaatjies”, Uitgesoekte kortverhale deur Guy de Maupassant; asook talle ander versamelbundels

Guy de Maupassant (1850-1893) was wêreldwys en straatwys, soos sy tydgenote die skilders Toulouse Lautrec en Edgar Degas; en soos húlle het hy van homoseksualiteit onder vrouens en mans geweet. Sy verhaal “Paul’s Mistress” handel oor ’n man wat selfmoord pleeg wanneer hy ontdek dat sy minnares lesbies is. Ook die verhaal “Twee klein soldaatjies” (ja, in Afrikaans vertaal) eindig tragies; dié keer ’n gay-verhaal, maar subtieler vertel as die lesbiese verhaal.

Twee jong soldate wat hulle diensplig in Courbevoie doen, kom van dieselfde landsdeel, en is in hul eensaamheid volkome op mekaar aangewys. Wanneer hulle Sondae vrykom, het hulle na die platteland gestap totdat hulle ’n bossie bereik het wat hulle piekniekplek was. Hulle was rustig en gelukkig daar, want dit was asof hulle in hul tuisomgewing is.

Op ’n dag het ’n melkmeisie met ’n koei verbygekom, en later het sy hulle van die melk gegee. Die een soldaat, Luc, het na weke begin aanlê by die meisie, en spoedig het hulle in die bos in begin verdwyn. Die agterblywende soldaat, Jean, se wêreld het in duie gestort: “En arme Jean bly sit, so desperaat dat hy nie begryp nie, sy siel oorweldig, sy hart gebroke, sonder om homself te verstaan.

Wanneer die twee soldate terugstap na die kaserne, leun hulle oudergewoonte oor die brugreling en kyk na die Seine. Jean leun al verder en verder oor en stort by die brug af en sink weg in die water. Sy ontstelde maat dink dat dit ’n ongeluk was, en dis dan ook wat hy by die kaserne vertel, maar die slotreëls hef dié moontlikheid op: “Verstik van emosie, kon hy (Luc) niks verder sê nie. As hy maar net geweet het!”

Verhaal 3: Anton Tsjechof (1860-1904): “Terror: My friend’s story”, The Oxford Chekhov, Volume IV

Toe ek op ’n keer al die verhale in die Oxford Chekhov probeer lees het, het ek op die raaiselagtige verhaal “Terror: My friend’s story afgekom. Twee driehoeksverhoudings oorvleuel, beide met homoërotiese ondertone.

Aangesien ek ’n hele opstel aan hierdie verhaal bestee het, “Wit nagte: ’n variasie op ’n Tema”, wat later, met Abraham H de Vries se sewentigste verjaardag, in ’n huldebundel verskyn het, naamlik Elke slot ’n weerbegin, gaan geen verdere aandag aan “Terror: My friend’s story” gegee word nie. Net dít: Hoekom so ’n dramatiese titel? Gaan dit dalk hierom dat die verteller homself, baie jare ná die insident in “Terror”, van homofiele verlanges verdink, en hoekom ’n ondertitel, “my friend’s story”? Wil hy sy eie emosionele aandeel aan die saak van hom wegkaats, en op sy vriend, die boer, verplaas?

Verhaal 4: Thomas Mann (1875-1955): “The Fight between Jappe and Do Escobar”, Collected Stories

Die homofiele verlangens van Thomas Mann (1875-1955) is lankal nie meer ’n geheim nie. Navorsers verwys daarna, veral Anthony Heilbut in sy boeiende studie Thomas Mann: Eros and Literature, en Mann self meld sy aangetrokkenheid tot mooi jong kelners in sy dagboeke. Die roman Ein Perfekter Kellner van Alain Claude Sulzer, wat ook in hierdie bundel bespreek word, speel regstreeks in op Mann se aangetrokkenheid tot een bepaalde kelner.

Tog is dit bitter moeilik om sonder meer van ’n gay-teks by Thomas Mann te praat. Daar is natuurlik Der Tod in Venedig, wat deur Visconti verfilm is en deur Benjamin Britten in ’n opera omgesit is. Beide filmmaker en komponis het die simboolwaarde van die beeldskone seun Tadzio onderbeklemtoon, want op die doek en die verhoog is ’n mens in die eerste plek ’n mens. Daar is nogal meer as net ’n oppervlakkige ooreenkoms tussen Tadzio en Johnny Bishop in Mann se verhaal uit 1911, “The Fight between Jappe and Do Escobar”: beide is beeldskoon, en beide koketteer met mans, Johnny bewustelik. Die verteller van die verhaal, indertyd dertien jaar, is ’n bietjie bang vir geweld, en is nie gretig om die geveg tussen Jappe en Do Escobar, twee vyftienjariges, by te woon nie, maar Johnny hou van geweld en die verteller, heimlik verlief op Johnny, moet maar saamgaan.

Die openingstoneel van die verhaal is belangrik. Die verteller en die jonger seuns in die verhaal, Johnny Bishop en Jürgen Brattström, is op die strand by Travenmünde, en lê in ’n badhut. Die twee jonger seuns het op hul rûe gelê, poedelnakend, maar die verteller het sy handdoek om hom gedraai. “Miskien is jy nou te groot om kaal te lê,” het Johnny met ’n mooi glimlag gesê; ’n nogal ambivalente reël. En dadelik is ’n erotiese subteks geskep, wat verdiep word deur die verteller se knaende bewustheid van die selfversekerde Johnny.

Anthony Heilbut beskou “The Fight between Jappe and Do Escobar” as een van Mann se mees liggaamlike tekste. Die openingstoneel wys al heen na die Freie-Körper-Kultuur wat in die twintiger- en dertigerjare van die vorige eeu so gewild was in Duitsland. (Sien ook die artikel “Die somer van 1929” in hierdie bundel.)

Waarop Heilbut ook wys, is die verband tussen wellus en geweld. Die verteller is eintlik passief, maar in ’n droom veg hy weldadig, straks ’n bliksemafleier vir sy passie vir Johnny.

Seunsliggame kry baie aandag in “The Fight between Jappe and Do Escobar”. Johnny, ’n klein voyeur, wei uit oor Jappe se breë borskas en kragtige arm- en beenspiere, soos hy dit by die swembad gesien het. Die twee vegters kom nie so goed daarvan af nie. Do Escobar, wat ’n dandy genoem word, is totaal verkeerd aangetrek vir die geveg, en sy broek bly afval. Hy kry ’n bloedneus, en die geveg moet stopgesit word omdat sy neus nie wil ophou bloei nie. Die skeidsregter vir die geleentheid, Herr Knaak van die Kurhaus, beslis dat die geveg gelykop geëindig het.

Thomas Mann, maar ook Anthony Heilbut, kan nie uitgepraat raak oor Herr Knaak wat algemene en privaatlesse gee in dans en “deportment” nie. Hy het plomp heupe en allerlei affektasies, wat die seuns laat wonder oor sy seksuele gerigtheid, en dan is hy nog balletmeester by die Kurhaus. Gelukkig vir sy reputasie is hy getroud en het kinders.

Herr Knaak het reeds in Mann se novelle Tonio Kröger opgetree, en moet hom kennelik gefassineer het, sy dit dan net as verwyfde tipe. Met Herr Knaak ’n grensgeval, Do Escobar ’n dandy, en die verteller en Johnny gay, of in ’n gay-fase, verdien “The Fight between Jappe and Do Escobar” weldeeglik ’n plek in die stoet gay-verhale van groot skrywers van die twintigste eeu.

Verhaal 5: Willa Cather (1876-1947): “Paul’s Case: a study in Temperament”, The Troll Garden

“Paul’s Case” van Willa Cather (1876-1947) is ’n problematiese verhaal, en sy verdoeselde aard het dalk met sy verskyningsdatum te maak: ’n “moderne” verhaal in 1905.

Talle lesers voel dit aan as ’n gay-verhaal, omdat die jong seun Paul so ’n herkenbare gay tipe is, naamlik ’n “dandy”, ’n woord wat meerdere male opduik in die verhaal. Dit kan egter wees dat die leser met ’n vals aanname werk: ’n dandy is nie noodwendig gay nie – dink maar aan Aubrey Beardsley.

Die seun van die verhaal is dan ook net ’n week lank ’n “dandy”, nadat hy geld van sy bank gesteel het, en hom by die Waldorf in New York inbespreek het en hom aan die “glam” en “glitter” oorgegee het van ’n teatrale bestaan waarvan hy so baie gedroom het. Soos dit dan ook in die verhaal staan: “Everything was quite perfect; he was exactly the kind of boy he had always wanted to be.” Hy was skielik wel geklee, en omring van mooi dinge, veral vars blomme, kuns en teater.

Is daar gay-“merkers” in die verhaal? Paul dra, baie ongewoon vir ’n skoolseun, ’n rooi angelier in sy knoopsgat. Val dié verhaal saam met die Engelse fin de siècle toe ’n groen knoopsgat-angelier dié kenteken van Oscar Wilde en ander estete was?

Die titel en ondertitel van die verhaal is op sigself ’n subteks: “Paul’s Case: a study in Temperament”. Maar wat wil dit eintlik sê? Dat ’n oorverestetiseerde lewenswyse abnormaal en dekadent is? Die woord morbied word ook in verband met Paul gebruik. Paul “(had) a shuddering repulsion for the flavorless, colorless mass of everyday existence; a morbid desire for cool things and soft lights and fresh flowers.”

Kan dit wees dat Cather se titel en ondertitel iets meer wil verbloem as eksessiewe dandyïsme, naamlik homoseksualiteit? Hier is die merkers ambivalent, soos in die volgende sin: “His eyes were remarkable for a certain hysterical brilliancy, and he continually used them in a conscious, theatrical sort of way, peculiarly offensive in a boy” (kursivering van my). Daar word ook genoem dat hy oordrewe reageer op die aanraking van ’n onderwyseres, maar spoedig word genoem dat die aanraking van mans dieselfde negatiewe reaksie aan hom ontlok.

Moet daar iets ekstra ingelees word in Paul se gehegtheid aan die toneelgeselskap wat in ’n “downtown” teater speel, en waar hy los werkies vir Charley Edward, die jong hoofspeler doen, onder andere om as sy verkleder op te tree? Kwalik; Cather beklemtoon dat dit die kunsmatige van die teater is wat hom aantrek en nie ’n spesifieke persoon nie.

Die sleutel tot Paul se seksoriëntasie lê in ’n tergende onderbeklemtoonde episode tydens Paul se kort New York-verblyf. Paul het ’n “wild San Francisco boy” ontmoet, ’n Yale-student wat op ’n blitsbesoek aan New York was; en ná hulle ’n soort kameraderie oor sjampanje ontwikkel het en saam die naglewe van New York tot sewe-uur die volgende oggend toe beproef het, is hulle terug hotel toe, maar die vriendskap tussen hulle het afgekoel. Het die “wild boy” van San Francisco dalk handtastelik geraak? Ons sal nooit weet nie.

As “Paul’s Case” ooit verfilm moet word, sou hierdie wilde nag in New York uitgebou moes word, sê maar deur die geniale draaiboekskrywer Ruth Prawer Jhabvala. Sy het invullings voorgestel vir die verfilming van Maurice van EM Forster, wat meer struktuur en geloofwaardigheid aan Forster se gay-roman gegee het.

Vraag blý: Wás Paul gay?

In Pages passed from hand to hand: The Hidden Tradition of Homosexual Literature in English from 1974 to 1914, onder redaksie van Mark Mitchell en David Leavitt, word ’n ander raaiselagtige verhaal van Willa Cather opgeneem, naamlik “The Sculptor’s Funeral”, eweneens uit die bundel The Troll Garden.

Soos die ondertitel van Mitchell en Leavitt se bloemlesing sê, gaan dit om verskuilde gay-verhale. In hul bespreking van beide “Paul’s Case” en “The Sculptor’s Funeral” is dit duidelik dat die samestellers albei verhale as kriptiese gay-verhale beskou. Hulle noem ’n belangrike kwessie in hul kort inleiding tot Willa Cather, en dit is dat een van Cather se grootste bewonderaars die “effeminate aesthete” Stephen Tennant was, en dit kan wees dat beide Paul in “Paul’s Case” en Harvey Merrick, die beroemde beeldhouer van “The Sculptor’s Funeral”, ook as ietwat vroulike estete gesien kan word. In laasgenoemde verhaal onthou ’n onsimpatieke dorpsgenoot van die plekkie in Kansas waar Merrick vandaan kom, hoe onbeholpe Merrick as plaasseun was, en ook dat hy ’n “ladylike voice” gehad het.

Eintlik moet “Paul’s Case” en “The Sculptor’s Funeral” as ’n tweeluik gelees word. In beide verhale ontsnap twee estete aan hul benouende plattelandse agtergrond, maar met ’n verskil: Merrick het ’n versiende vader wat sy seun laat studeer, ook in Europa; en ja, Merrick het ’n groot talent. Dít is op die ou end Paul se werklike tragedie: hy is ’n “temperament” sonder ’n talent. Sy selfmoord is onvermydelik.


Word vervolg. Hou LitNet in die komende weke dop vir Hennie Aucamp se besprekings van die ander verhale op sy lys.