Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Jy kan nie anders as om Rietbron lief te hê nie


Jason Lloyd - 2010-07-28

Die digter en filosoof Adam Small het sy eerste lewenslig aanskou aan die oewers van die Bergrivier in die Wamakersvallei. Hy is op Wellington gebore. Het egter nie daar grootgeword nie, maar op die buitewyke van Robertson – Goree. In 1978 verwoord Small sy liefde vir die “rooibruin grond” van Goree in sy biografiese drama The Orange Earth. Dit sou later, in 1996, deur Daniel Hugo in Afrikaans vertaal word met die titel Goree. Dié drama is in die buiteland, Nashville, Tennessee, asook in Atlanta, Georgia opgevoer.

Dit is aan dié drama wat ek gedink het toe ek drie weke gelede die piepklein gemeenskap van Rietbron – so 60 km vanaf Willowmore – besoek het. En op my terugvlug ’n week gelede vanaf Kaapstad na Oos-Londen sou ek Rietbronners in James Baldwin se essay “Journey to Atlanta”in sy bundel Notes of a Native Son raaklees: “Negroes who were born with the fortunate ability, to laugh all their troubles away. Somewhat surprisingly, they are not particularly bitter towards the Progressive Party …” (Hier dink ek bepaald aan die vergifnis-gesindheid van bruin mense omdat die meerderheid van hulle in 1994 vir die Nasionale Party gestem het.)

Dit is ’n arm landskap waar swaarkry niks snaaks en ongewoon is nie. Waar jy verstik in die stowwerigheid van die “rooibruin grond”. Waar kinders met hul snotneuse hoenders, honde en katte in die strate vir vermaak verjaag. Waar speelgeriewe skaars is. Waar kledingstukke of koerantpapier die wind uit die Hop-huisies met stukkende vensters moet hou.  Waar – soos SV Petersen gedig het – “[h]ulle op skuld leef/ tot Vrydagaand./ en tot die einde van die maand ...”

Maar dit is ook ’n landskap waar mens, dier en God na aan mekaar leef. ’n Plek waar jy angorabokke blêrend teen die rûens kan hoor. Waar die kraai van hoenders vroegoggend nog as horlosie vir die oumense dien. Waar die voëls nog steeds die teenwoordigheid van ’n slang aankondig. Waar ystervarke se spore na sonopkoms nog in tuine gesien kan word.

Waar aunties nog ’n koppie suiker of koffie tot die einde van die maand heen-en-weer uitleen. Waar niemand rustig slaap as hulle bure honger gaan slaap nie.

Waar rooi vleis, pampoen, kool en wortels nog sonder enige fênsie speserye voorberei word.

Waar alle kinders almal se kinders is. Waar wegkruipertjie en tou-tou spring nog vir die kinders cool is. En waar alle kinders se prestasies die hele gemeenskap se prestasie is.

Rietbronners het ’n unieke en ’n besonderse menswees wat jou verlief maak op die omgewing en sy mense. ’n Mens kom altyd versterk daarvandaan terug. Jy kan nie anders as om – soos die digter en joernalis Antjie Krog die golwende rooi gras van die Vrystaatse vlaktes bemin – ook Rietbron lief te hê nie.

’n Greep uit Small se Goree kan ook op Rietbron se gemeenskap van toepassing wees:

Hy sing en sy stowwerige, bruin mense sing agter hom aan … al daardie mense met die kroeskoppe en die platneuse, net soos God hulle gemaak het …!