Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Artikels | Features

70x7-maalspoort


Johann de Jager - 2010-07-27

"Dis nie een kant op en ander kant af soos die Swartbergpas nie – dis 'n in-en-uitstorie dié: een kant in en ander kant uit, en daar lê die ding nou." Koos Liebenberg was aan die woord. Hy en sy Hannie was Laingsburg toe vir 'n bruilof met hulle nuwe XQ(!). 4x4, gekoop met driekwart van die pakketgeld wat hy gekry het toe hy vir 'n meer korrek geskakeerde staatsdiens plek moes maak. Hy vertel sy buurman hoe Seweweekspoort in die Klein Karoo lyk, maar "vertel" is nie heeltemal reg nie – hy smeer dit eerder aan!

"En daar lê wát toe – watse 'ding'" vra Jonas van 'next door,' gemaak verveeld. Hy is Koos se konkurrent in status en sosiale posisie vir veertig jaar. Saam het die twee gemoedelike vyande die stad jare gelede aangedurf  en saam pakket gevat toe hulle eens swart koppe – ironies – wit word.

"Die paradys, man," straal Koos. "Daar lê die paradys toe, kompleet met toegangspoort wat wyd ope staan, soos die ou gesangvers lui, want die 'ingel' met die aan-die-brand panga in die hand het ook pakket gekry en is weg, anders as by die hordes tolhekke hier in Gauteng. Wie ook al wil, mag in en uit, sonder geld. Wyn- en melkwêreld, sê ek jou, soos Kanaän!"

En Hannie vryf die brandsalfies dieper in: "Ja jong. Elke mens moet dit ten minste een keer in die lewe sien voor die goue draad afgeknip word en die wiel stukkend in die put val. Ek sal in sewentig maal sewe maal nie genoeg daarvan kan kry nie."

Jonas kyk vinnig op na sy buurvrou. Wat bedoel sy nou met daai wiel in die put? dink hy, want hy is juis besig om sy ouerige Datsun se voorwiel-bearings te vervang. Hy kon nie 'n nuwe kar koop toe hy die sonkamer aangebou het om sy huis groter as die Liebenbergs s'n langsaan te maak nie. Sy oog vang die nuwe blink 4x4 wat Koos baie opsigtelik agter sy Datsun in die oprit kom parkeer het. Sewentig maal sewe maal, dink hy. Ek weet ook waar staan dit geskryf – die ou bleddie dweper! Hierdie een gaan moeilik wees. Hy gluur Hannie aan. "Kom ons gaan in," grom hy, vee sy hande aan blouerige poetskatoen met rooi spikkels af en roep deur die kombuisvenster na sy Frieda om koffie te maak. Laat ek tog net onder daardie blink monster se koggelende oë uitkom, dink hy.

Maar onder die brisant van sy bure se woordkartetse kom die stomme Jonas nie uit nie. "Weet jy, Frieda," sê Hannie, "Meiringspoort is slegs meer bekend omdat dit op 'n hoofroete lê waar die pad ook geteer is …"

"Ja," vat Koos die woorde soos 'n aflosstokkie uit haar mond toe sy asemhaal, "Seweweekspoort is vir my onoortreflik, juis oor die kontak met die aarde, die grondpad, die effe weg van die gebaande roesemoesroetes af wees."

En daarvoor het jy nou 'n 4x4-monster nodig, grom Jonas in sy kop. Frieda probeer die gesprek verander. "Nog koffie?" vra sy.

Koos en Hannie sê gelyk nee, en sy spring net so effens vinniger as haar man weg met: "Dis nou die stilte en onopgesmuktheid daar, soos in 'n bergkatedraal. Mens ry daarheen verby twee groot damme in die omgewing – Floriskraaldam en Gamkaspoortdam. En binne word jy begelei deur die gemurmel van water wat oor klippe spoel, al langs die kronkelpad."

"En dan ry jy onder daardie gekreneleerde bergkantele teen die blou van ons hemel bo jou afgeëts," sê Koos, "in 'n stilte waarin jy jou eie bloed deur jou binne-oor kan hoor suis."

Seker maar die watwonderse 4x4 se ou trekkerbande op die klipperige pad, brom Jonas.

"En 'n voël draai bowe in eensame vlug," hervat Hannie. "'n Witkruisarend wat die dassies en klipspringertjies laat vlug."

"En die wollerige sonstrale in die oggendmis spieël kaleidoskoopkleure uit 'n jangroentjie se veredos op die koninklike aalwyne in volle vuurvlamkleure aan't blom.  Ons moet tog een aand die foto's vir julle kom wys."

Spaar my dit, soos enigiets meer in hierdie  toeristebrosjuretaal ook, dink Jonas. Waar kry die ou idioot tog hierdie welsprekendheid vandaan?

Koos gaan voort. Frieda skink ongevraagd nog koffie, want die twee bure se eerste koppies staan nog onaangeraak en koud word. Die melk het al so 'n rimpelvelletjie bo-op gevorm. Dalk hou hulle op spog as hulle monde vol is, dink sy, en bring nog beskuit ook. Maar Koos vertel: "En daardie kranswande! Man, kleur op kleur, vol rooi en bleekmostert ligene. Die kranse self terra cotta, rooi, bruin, donker omber in die klowe en ravyne, okers, gryse, gele …"

Koos haal asem en Hannie slaat die gaping: "En die plooie in die gesteentes – mens kan dit nie glo nie; jy staan klein voor die skepping. Plek-plek lê dit soos netjies gevoude stapels bedlinne van die kante af gesien; dan weer gefrommel op ander plekke. Voue en plooie in lyne en strepe!"

Koos praat haar dood: "Ja, die geoloë sê dit is honderde miljoene jare gelede gevorm toe die aardoppervlak gesmelt was. En toe dit bo begin stol, het die geweld en stuwing van die kolkende, kokende massas rots en minerale onder die halfgestolde magma bo in sulke reuseriwwe oor mekaar begin stoot en vou."

"Dit lyk kompleet soos 'n chocolate flake van die kant af gesien," tjip Hannie in.

"En dis maklik om te kry; ons het nie eens die GPS nodig gehad nie," skimp Koos en loer na die Datsun buite. "Alles op gewone kaarte. Lekker name, man: Zoar, Amalienstein."

"Langenhovenwêreld, nè," onderskep Hannie. "En die ménse! Dis so wonderlik – almal Afrikaans, en die meeste is Christelik, of ten minste met baie respek daarvoor. Zoar en Amalienstein is sendingstasies by die suidelike ingang na Seweweekspoort."

"Ons kry 'n gesinnetjie op 'n donkiekarretjie daar iewers," skaapvang Koos weer Hannie se storie, "en ek hoor Adam Small weer praat van 'n Kaapse ideolek, of 'patois', soos hy dit genoem het. Ek sou dit die brosjuretaal van die Klein Karoolinge  wou noem – iets om uit te stal, want dit lok weens die aardse musikaliteit en timbre daarvan. Dis ménsmense daardie, man – vriendelik, pittig, nederig."

Ja, hy het mos vantevore al van die Adam gepraat, sug Jonas binnetoe. Gesprekke met skrywers vir my kom wys. Dít lees hy mos. Geen wonder sy kennis van sokker is so power nie, om nie eens van rugby te praat nie.

"Nou ja," gaap Jonas uiteindelik en staan op. "Frieda, jy kan môre laat slaap. Ek moet Roodeplaatdam toe vir die visvangkompetisie. Ek gaan slaap."

"Nag, buurman," sê Koos met 'n hoonlaggie agter sy bakhand, "ek hoop jy droom vannag van sneeu op Towerkop en die Swartbergkranse wat in Seweweekspoort lyk soos versteende rooi dwarrelwinde wat daar bo vasgestol sit, terwyl mense soos engele te voet en per donkiekar daaronder jou hart se poorte binnery. Lekker slaap."