Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Is dit regtig hoe die DA onder Zille lyk?


Jason Lloyd - 2010-07-21

Dit verbaas nogal dat die vuurvreter-politikus Patricia de Lille dit oorweeg het, of nog steeds oorweeg, om tot die pos van nasionale voorsitter van die Demokratiese Alliansie verkies (of is dit benoem?) te word.

Enersyds omdat die DA se verbintenis tot ’n nierassige Suid-Afrika deur ’n groot deel van die bevolking bevraagteken word, en andersyds omdat die posisie van nasionale voorsitter volgens die DA se federale grondwet bloot seremonieel – sonder enige mag – is.

Dié sogenaamde rassisme en antitransformasie-houding van die DA – wat glo op alle vlakke van die samelewing manifesteer – is snuifgetrapte aarde, oorbekende geskiedenis waaroor al tot satwordens toe geskryf is.

Met die nuus dat De Lille se Onafhanklike Demokrate (OD) moontlik in die toekoms gaan ontbind en sy die pos van DA nasionale voorsitter gaan kry as beloning(?), het ek die DA se federale grondwet gaan bestudeer om te kyk hoe lyk die party binne-in. Ek het gaan kyk na die verteenwoording van gekleurdes in die party se federale, provinsiale en parlementêre strukture.

Die uwe het gevind dat die DA se aanspraak op interne “reënboognasie-verteenwoordiging” nie in die kol is nie. Indien die oënskynlike “verhaal” van “sogenaamde rassisme en antitransformasie-houding” wat die DA glo na buite voorhou, waar is, speel dit beslis as ’n “vervolgverhaal” binne die partystrukture af.

Dit ten spyte van die DA-leier en Wes-Kaapse premier, Helen Zille, se aanspraak dat navorsing toon dat die DA “die land se mees nierassige party is”.

Ek moet egter toegee: Zille het ’n nuwe dimensie in opposisiepolitiek in Suid-Afrika teweeg gebring, wat baie goed en stimulerend vir ons ontluikende demokrasie is. Hierin het sy baie sukses behaal en moet daarvoor geprys word.

Ongelukkig ploeter haar party met ’n oorgeërfde spierwit “Tony Leon-leierskap” voort asof Suid-Afrika hom nog in ’n PW Botha-era bevind. Die toets om die “Tony Leon-nalatenskap” ongedaan te maak, het sy tot dusver gedruip. Sodoende ontneem die DA homself aan blootstelling en geleenthede om ook die aspirasies van die meerderheid van Suid-Afrika te verwesenlik.

Hierdie verskynsel loop soos ’n geroeste draad regdeur die siel van die DA – vanaf Zille tot onder by die gewone DA-lid. In die geval as daar wel ’n gekleurde in ’n “position” is, voer hy of sy of ’n “spookbestaan” of het hy of sy – soos in baie gevalle – geen mag of invloed nie. Window-dressingis dus hier aan die orde van die dag.

Hierdie verskynsel herinner sterk aan die posisie van gekleurdes in die Nasionale Party na 1994. Laat ek praktiese voorbeelde aan die hand doen om te illustreer:

Voor die 2009-verkiesing het die (bruin) DA-LP Donald Lee en die (swart) DA-LP Motlatjo Thetjeng (wat voor die verskiesing na Cope oorgeloop het) diens verrig as nasionale woordvoerders van die DA. Vergelyk jy hulle openbare profiel met dié van Jessie Duarte, destydse ANC-woordvoerder, is dit feitlik nul. Hulle was net in naam woordvoerders – niks anders nie. Lee, ook DA-skaduminister oor sport, maak egter net naam as iemand wat gereeld “leë geluide” maak jeens transformasie in sport. Wyle digter-dominee Patrick Petersen sou in dié geval miskien gesê het: om ’n buikspreker vir die teenstanders van transformasie te wees.

Ironies genoeg het Zille – destyds nadat sy in 2004 tot die parlement verkies is – naam gemaak as DA nasionale woordvoerder. Dit is ’n posisie wat sy gebruik het om haar openbare profiel te bou; om in 2007 as DA-leier bekroon te word.

Na verlede jaar se algemene verkiesing is ’n jong swart vrou, Lindiwe Mazibuko van Durban, as LP verkies en later as DA nasionale woordvoerder aangewys. Mazibuko se openbare profiel kan egter nie met dié van Jackson Mthembu, ANC-woordvoerder, en Phillip Dexter, Cope-woordvoerder, vergelyk word nie. Daarvoor kan niemand haar blameer nie, want (wit) LP’s soos David Maynier, Greg Morgan, Niekie van den Berg en Dianne Kohler Barnard oorskadu haar as skaduministers. Boonop is sy Van den Berg, ook ’n junior LP wat verlede jaar verkies is, se adjunkskaduminister oor kommunikasie. Hoe kan ’n nasionale woordvoerder van enige party ’n adjunkskaduminister wees? Dit maak nie sin nie. Sy behoort ’n volwaardige skaduminister te wees – net soos Zille toe sy as nasionale woordvoerder ook skaduminister vir onderwys was. En hoekom verhef die DA jong nuwe LP’s se openbare profiele bo dié van hul “swart” nasionale woordvoerder? Is dit ’n geval dat Mazibuko net ’n woordvoerder in naam is en niks anders nie?

Die sentiment dat die (swart) Joe Seremane, huidige DA nasionale voorsitter, die tweede mees senior posisie naas Zille in die DA beklee, is nie waar nie en klink net mooi op die oor en op papier. Bestudeer jy die DA se federale grondwet sal jy vind die (wit) DA-LP James Selfe, voorsitter van die federale raad, die nommer twee is. Seremane beklee ’n seremoniële posisie sonder enige mag. Sy posisie as federale voorsitter is bloot net as voorsitter van die federale kongres, wat elke twee jaar vergader. Tussen die kongresse het hy geen mag nie; behalwe as om in die federale raad te dien.

Daarteenoor het Selfe baie meer magte en is verantwoordelik vir die organisering en administrasie van die DA, om besluite van die federale raad en federale uitvoerende komitee te implementeer. Hy is ook voorsitter van die federale uitvoerende komitee; ’n struktuur soortgelyk aan die nasionale werkkomitee (NWK) van die ANC, wat die dag-tot-dag-bestuur van die organisasie behartig.

Al die ander oorblywende invloedryke top-posisies in die DA – dié van parlementêre leier (Athol Trollip), hoofsweep (Ian Davidson), adjunkhoofsweep (Mike Ellis), hoof uitvoerende beampte (Jonathan Moakes) en federale tesourier (Clive Hatch) – word deur wit mense beklee.

In die Wes-Kaap – waar die bruin meerderheid die DA aan die bewind gestem het – is Zille en 60 persent van haar provinsiale kabinet wit. Ook is hul provinsiale leier die afgelope klompie jare wit. Tydens die verkiesing verlede jaar het Trollip, ook die Oos-Kaapse DA-leier, beide die eerste posisies op die Oos-Kaapse lys vir die Nasionale Vergadering en die lys vir die Provinsiale Wetgewer beklee. Dit terwyl sy (bruin) provinsiale onderleier, Donald Smiles, die skokkende vyfde posisie op die lys vir die Nasionale Vergadering beklee het. Smiles het net-net die parlement gehaal.

Hier mis die DA dan (weer eens) ’n gulde geleentheid – soos die DA-strateeg, Ryan Coetzee, dit in 2007 in ’n interne partydokument stel – “dat kiesers hulle werklik met die DA moet kan vereenselwig”. En dat die DA “net so diep moet omgee oor daardie ‘leweringkwessies’ wat swart Suid-Afrikaners raak soos oor daardie kwessies wat wittes raak”. Hopelik sal dit – soos Enyinna Nkem-Abonta gesê het toe hy in 2005 as DA-LP bedank het en by die ANC aangesluit het – “die antiswart kultuur van die DA” in iets positiefs vir die land omskep.

Wat egter nog gesê moet word, is wat Richard Calland in sy boek Anatomy of South Africa: Who holds the power? oor die DA skryf: “All men. And all white.”  ’n Mondvol. Is dit regtig hoe die DA onder Zille lyk?

En is De Lille regtig bereid om in die DA in so ‘n magtelose posisie verkies of aangestel te word?