Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

Een kou’kou’ oggend by ’n boekwinkel


Francois Verster - 2010-07-20

Dis wasem uit die asem as jy jou haas na Protea Boekwinkel in Andringastraat, Stellenbosch. Ek skuifel na my gewone hoekie en slaat my oë op na die boeke. Van Adam Small, met Olive Schreiner getoebroodjie tussen hom en Salman Rushdie, tot Hemingway en Plaatjie bo-op hulle soos ’n leiklippie: dun, maar gehard teen die aanslae van tyd en vooroordeel. Praat van die prag van fossiele – en die aanwesiges is ook nie gister gebore nie: meesal gryskoppe, maar geeneen blou geperm nie. Hierdie mense spandeer eerder hulle geld op boekgoed as mooimaakgoed.

Sagte musiek en gedempte stemme ... Die mense kom stywerig ingesypel tussen die hoë rakke deur, amper so huiwerig soos munte tussen ’n Skotsman se vingers deur, maar tóg. Dis om te kom luister na die bekende Bolandse skrywer-akademikus Riana Scheepers en haar ewe vermaarde gespreksgenoot: iemand wat al ’n legende uit eie reg is, met permissie gesê, iemand dalk ietwat tussen PJ Schoeman en Karel Schoeman wat tema en talent betref. Dis PJ Haasbroek, ekonoom-skrywer, wat met die intrapslag ook ekonomie van woord en daad (dus eintlik téén óórdaad) aanbeveel. Met ander woorde, raad wat op iemand soos ek gemors word. Nietemin, Riana bely – dalk om ons aandag te kry, want almal sit geboë teen die koue, hande in die sakke, kinne onder die krae ingetrek – dat sy as skugter, hardwerkende student op hierdie einste dorp (sy praat van “koeksuster”, ons het mense soos sy – en ek – “moltreinryers” genoem) saans met twee manne bed toe gegaan het: bogenoemde Karel en die man langs haar, Piet Haasbroek. Uiteraard net figuurlik ( hoekom klink “letterlik” nou skielik beter in hierdie geval?). Met hulle boeke ja, want sy het hulle só bewonder. Vandag weet Riana sekerlik dat die letterlike en die figuurlike liefs apart gehou word in sekere gevalle, en is dankbaar daarvoor, maar laat ons nie verder op daai ene ingaan nie. Die man langs haar het inderdaad geen haas in sý broek, ek bedoel letterlik en figuurlik, nie, want hy is ’n “real man’s man”, een van hierdie wêreld wat tog uit hierdie wêreld kan skryf óór die uiteenlopende wêrelde wat hy ervaar het. Daarom word hy ook met Hemingway vergelyk – oorlog en jag en reise deur donker valleie waar onrus en ontug die lug laat sidder en spieël, in Afrika se hitte en duister nagte, om net een kontinent te noem wat hy uit sy hoed (tussenin spring selfs Bagdad soos ’n teiken op ’n praktiese pistoolskietbaan op) haal. Haasbroek is half ergerlik dat elke Afrikaans skrywer wat iets van jag of gewere weet, outomaties as “die Afrikaanse Hemingway” gedoop word. Inderdaad. En goeie skryfwerk is veel meer as dit. Hy gee toe dat Hemingway se werk hom een ding geleer het en dis dat mens moet moord pleeg – “kill your little darlings” (en ek krimp in my hoekie weg) en stroop jou sinne. Soos die wilddiewe Afrika tans stroop. Haasbroek se passie en empatie vir die ongerepte, eens-weggesteekte paradysies is eg; hy praat met gevoel hieroor. En die aanwesiges raak stil in simpatie ...

Riana verbreek die stilte deur hom een van die kontroversiële vernuwers van die kortverhaal-genre te noem. Sy praat eweneens met drif oor die manlike psige; geweld, oorlog, geslagsdrang – temas wat kort-kort na die oppervlak dwing, maar soos die oortjies van ’n seekoei: daar skuil baie meer onder waar die duiwel draai. Sy stem blykbaar saam dat hierdie bundel kortverhale Haasbroek se beste is (tot nou toe, sê hy – hy leer steeds) en dat hy die meester van ruimtelike beskrywing is. Sy behoort te weet, want hoor wie praat – en mens verstaan ook dan hoekom sy Haasbroek en Schoeman (die monnik, nie die jagter nie) ook bewonder het. Haasbroek kan ’n omgewing met een sin definieer, sê sy. En sy karakters is vlees-eg.

Hy verduidelik dat hy elke milieu in sy stories beleef het, en so ook die karakters: hulle ís eg. Hy is egter nog nie klaar nie; nie geskryf nie en ook nie geleer nie. Hy ervaar bevrediging, maar nie so dat déjà-vu nie nog lastig bly fluister nie: op hierde spore was jy wel al; verken nog verder.

Riana keer terug na die erotiese aspekte in sy werk. Uit die verhaal “Langs die Suiderkruis se onderpunt” lees sy ’n passasie voor, buk kenmerkend vorentoe en sê: “Dis hoe erotiek moet klink.” En ek herinner my aan hoe net ’n Franse nooi “merci boucoup” kan sê. Dís hoe Riana Scheepers die woord “erotiek” uitspreek. Met ’n wulpse elegansie. Elke man in die gehoor hoor sy eie hart klop en besluit net daar om Kruispunt aan te skaf, resessie te gat.

Toe ek daar wegstap (ek het darem die skrywer gegroet, met effense heimwee – goeie skrywers voel mos soos ou vrinne vir ’n bibliofiel), begin ek dink waar ek R170 gaan kry om vir Human & Rousseau vir 192 bladsye van eksistensiële ontvlugting te betaal.

Klik hier om 'n resensie van Kruispunt te lees.