Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Bakkies nie so Butch; koerante 'n vreugde


Albert Maritz - 2010-07-15

When you have no basis for an argument, abuse the plaintiff. Marcus Tullius Cicero (106–43 vC)

My dosent, Johann van Heerden, was vir my ’n inspirasie. ’n Butch nommer, maar hy het sy teater geken. Ek was piepklein toe vat my pa my na ’n Pieter-Dirk Uys-stuk in die ou Space-teater. Nie die een wat nou so screwed up revamp is nie; nee – die OU Space.

Die stuk se naam was Selle ou storie. En die hoofakteurs was Christine Basson – pas klaar in Egoli, en … wag vir dit ... Johann van Heerden. Sy roem het later gekom uit die fliek Seuns van die Wolke, wat ene Pierre Eksteen my laat weet nou nog op die sluikmark oorsee goed verkoop. So Johann se jong boude – nou die dag nog heel gesog, leef nou nog voort in nuwe geslagte se verbeeldings.

Johann het altyd gesê teater is soos rofstoei. En ek is seker daar’s geen einde aan sy lekkerkry oor nou se sokker-aansittery nie. Tot PG du Plessis vir hom hieroor ook sal sê: Mnr Van Heerden – hoekom skryf jy nie ’n play nie.

*

Sokker. Pas na afloop van die finaal dink ek die rede hoekom die verloorders in élke wedstryd glad onbeskof is, is dat die sport so onwetenskaplik is - veral weens die skeidsregters. Met ander woorde, enige span kon vanaand gewen het, en die noodlot was teen Nederland – dis al. En as dit op 'n penalty shootout uitgeloop het, sou dieselfde span nie miskien ieder geval gewen het nie? En daar is so baie geld op die spel dat die oog van die naald nóg kleiner is ... Maar sowat van vloek en skel op 'n ref! Ai. Pragtige sportmansgees.

Wat mens bybly van die sokker, is die vernuf van die spelers, wat dit natuurlik lekker maak om te kyk, maar hoe te veel skeidsregters die mooi spel ruïneer. Geen wonder daar’s so baie geweld van die veld af nie. Reg is hier amper die uitsondering. En daar’s niks wat ’n mens moeriger maak as wanneer jy verontreg word nie. Maar as jy wen, is alle onreg vergete.

*

In Suid-Afrikaanse rugby speel Peter de Villiers ou SARU-rugby – die apartheidsliga vir bruin spelers. Hulle was in die reël kleiner as die SARVU-ouens. Nou het Peter boonop groot ouens om die harde en die hardloopwerk te doen – soos Bekker. En klein outjies met net soveel moed as hy wat Peter is – soos Aplon. Peter  kon al vroeër verloor het – ’n paar keer, met sy avontuurlike mix en match van spelers. En ek sweer die spelers is net so gelukkig soos wat hulle by Heyneke Meyer is. Te danke aan mense soos die briljante Peter de Villiers en Heyneke Meyer is die sport ’n positiewe een. Behalwe die uitsondering, met ’n amperse moord op ’n Italianer op die veld onlangs, en nou weer die aanhoudende gekibbel van Butch James – nee wat, hy laat Bakkies bleek lyk.

Die sokker het my selfs aan die army herinner. Veral in die openingswedstryde van die sokker het mens gewalg mens aan die sideshows. Die enkele kere wat ’n skeidsregter blaas, een ou wat die spel net laat aangaan, dan hou die acting op, en die spel word gespeel. Maar soos in die army, toe het ons geweet ... een ou wat nie van jou gesig hou nie, en jy sit DB, en klaar na jou maatjies uit. Nou, so was die sokker se openingswedstryde ook.

Ag nee, dis belaglik. Ons is uit die Wêreldbeker weens die ekstra doele teen Uruguay, na ons goalie gerooikaart is, omdat hy ....? Wat? Nee wat. Dis gans onvervullend. Met sulke negatiwiteit wil mens nie leef nie. Butch James is, wonder bo wonder, in rugby die uitsondering. Elke oordeel van die skeidsregter is teen hom. Hy skud sy kop in ongeloof. Hy ontken dat hy ooit een ou hoog getackle het.

Peter, jy’s wys, maar dié één keer vra die ouens voor hul TV-stelle jou: haal Butch uit asseblief, en moenie weer begin sonder Gio nie.

Butch, sokker was jou game op skool. Jy’s weer welkom daar.

*

Gelukkig vang my oog die skrywe van Koos Human oor die skrywe van Chris Barron oor Phillip Steyn. Human meld die skrywe van Chris Barron oor die merkwaardige man. Ek het al baie gewonder, as ek die goeie huldeblyke sien wat Barron in die Sunday Times skryf oor ons eie, hoeveel ons wat lees, nie mis nie, wat Afrikaanse blaaie dalk mis nie.

Gepraat van Koos Human: ek onthou skielik – as mens in die BAT-saaltjie op 12de laan in Bellville rondkyk, sien jy daar hang ’n paar foto’s van swaargewigte in ons leefwêreld, soos dié van Koos Human, toe hy voorsitter van BAT was. BAT staan vir Bellville Afrikaanse Toneelvereniging. Of wil ons die debat opneem omdat sommiges glo dis Bellville Amateur Toneelvereniging? Mag die dae toe daai manne en die Martie Retiefs, en die Schalk Pienaars en diesulkes aan die kant van die voorloper uitvoerende kunstenaar was, herleef.

*

Wat ’n vreugde word koerantlees nie die afgelope maande nie. Dis sweerlik ’n teken van die tye. Kyk, daar was ’n tyd toe Chris Barnard by Die Huisgenoot gewerk het. En ek het al gelees hy sê dis toe mens nog Huisgenoot kon lees. Toe maak ek ’n kabaret vir die verhoog en vir TV oor NP Van Wyk Louw. Toe kom ek agter Van Wyk Louw het vir Die Huisgenoot geskryf (DJ Opperman was daai tyd die redakteur) en dat van een van Louw se digbundels meer as 100 000 verkoop het. ’n Gedig van hom het een keer volblad in Die Huisgenoot verskyn.

Nou moet ek erken: kry ek my hande op ’n Huisgenoot, soos nou die dag met Neil Sandilands en Bienkie op die voorblad, verslind ek die ding, nes toe ek as laaitie Huisgenoot verslind het toe daar artikels was, soos die Andes-gebergte-“kannibale-storie” van Petrovna Metelerkamp.

En so betrap ek myself algaande dat ek al hoe moeiliker deur die koerante kom, want daar’s so baie leeswerk om te doen. En ek léés hulle! Behalwe vir gereelde artikels deur Rian van Heerden, Chris Chameleon, Eben Venter – o, en Max du Preez mag mens nie mis nie, en die Hanlie Retiefs, Murray – en lankal my favourites: Jaco Kirsten en Martie Meiring ... en deesdae toenemend Willem Pretorius, en nuwelinge, dink ek, soos Valda Jansen, en ... die lys is te lank om op te noem. Mense het plakboeke gemaak van Jeanne Goosen se rubriek. Maar lekker onderwerpe, en insiggewende en diep skryfwerk. Al afgesaag is George Claassen se anti-establishment wetenskap, en sy debatsvennoot Bernard Ficker se briewe, maar daar’s so baie wat daarvoor opmaak.

Die Burger van 18 Junie 2010 se kunsblad lyk na ’n kunsblad, amper soos die Sondag-koerant wat vir ’n rukkie in Kaapstad en Pretoria versprei is, en toe vervang is deur die Sondag Son. Daardie Sondag het die beste Afrikaanse kunsblad gehad in jare. Vandag in Die Burger is daar weer so iets.

My mening was nog altyd dat respek van die eie ons eie beeld sal aanhelp.

Vir my as jong akteur wat tog maar net passievol wou omgaan met, en sien dat ander ook passievol maar objektief omgaan met ons soort werk, was dit ’n skok toe ons destyds verneem die destydse nuwe redakteur van Rapport het glo gesê “Los die Afrikaanse Kuns – dit verkoop nie.”

Every child is an artist. The problem is how to remain an artist once he grows up. Pablo Picasso