Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Jack Parow se debuutalbum Jack Parow ’n waterskeiding


Leon-Ben Lamprecht - 2010-07-15

So Jack Parow, die sexy Afrikaanse rapper, se vollengte-debuut het die rakke getref. Dis nou hy wie se musiekvideo van “Cooler as ekke” op YouTube al meer as 870 000 hits het.

En ek gaan nie lieg nie: wat ’n befokte hoë-oktaan 13-snit-album is dit nie. Saam met hom op die album is genoemde JR en Nel, asook Francois van Coke, Die Heuwels Fantasties en Disco.

Dié kunstenaars ten spyt vat Parow beslis centre stage en hy is op sy beste as hy snaaks of eerlik is, soos in ...

Nee, wag gou, wag gou.

Ek moet net gou iets van my hart af kry. Dis nie dat ek een van daai natbroek polities korrektes is nie. Of preuts nie. Maar daar is een ding, nee twee dinge, rondom rap of hip-hop (die onderskeid, indien enigsins nodig, is maar duister) wat my dwars in die krop steek: die obsessie met hulleself en hulle voëls (of die lengte/ dikte/awesomegeid daarvan) en die soms vrouehaterige aard van hulle lirieke.

Dis natuurlik ’n gruwelike veralgemening: iemand soos K’Naan (hy van die Wêreldbekerliedjie “Wavin’ Flag”) rap byvoorbeeld saam met Chubb Rock op sy liedjie “ABC’s” (vanaf die album Troubadour): “No B word or N word, I don't need those words (no)/ Respect for hers.”

Jack Parow is nie in daai skool nie.

Sien byvoorbeeld “Farmhouse Brekvis”: “Ek kyk net vir ’n kind en dan kom kinners sommer/ spit saucy rap, piel soos ’n komkommer.” Of later in dieselfde song: “Laat ’n girl so lekker voel mens sal sweer dis haar birthday/ coz that’s how I roll/ I don’t play fokken games/ I remember their faces but I don’t know their names.”

Of in “Ek wens jy was myne” (saam met die rapper JR): “As jy langs my staan, bra, respect the fate / ek het gisteraand in jou bitch se bek gespuit.”

Ek verstaan eerlikwaar nie die punt hiervan nie.

Nouja, die tirade daar gelaat (ek dink in elk geval nie Parow sal hom daaraan steur nie – in sy eie woorde uit “Hier’s hy nou” saam met Le Roi Nel van Foto na Dans: “voel nie ’n poes nie/ ek is wie ek is”) – kom ons keer terug na die album.

Parow raak aan allerlei onderwerpe: hoe awesome hy self is (soos in “Hier’s hy nou” en “Feite”); mense wat dink hulle is beter as hy (“Cooler as ekke”); die nostalgie (“I miss”); brandewyn (“Ricky Louw”); hard partytjie en die gevolglike babelas (“Word wakker”); en selfs sy home town (“Byellville”).

Terug by die oorspronklike punt: dis heerlik om te luister wanneer hy snaaks is. In “Parow to Paarl”, byvoorbeeld, rap hy “Parow tot Paarl/ California to Kenya/ los ek jou kak deurmekaar/ soos Caster Semenya.”

Of in “Ricky Louw”: “Want daar’s net een ding en dis fokken vir seker/brannewyn maak mos elke/ liewe ding beter/ as jy nou rugby kyk/ of met jou girlfriend peuter.”

“Byellville” is ook pragtig: “Yoooooo/ ek’s fokken fly like Batman/ rap so siek/ moet heeltyd gaan vir ’n cat scan/ quick/ vinnig/ hardloop/ to the Jack-van/ rap so tight you could swear I was a black man.”

Hy hou nie daar op nie: “I come from a town where no-one’s fokken from/ a little bit of money and ‘poof’ and they’re gone/ but I’m Bellville, bru/ CY ‘till I die/ so come down to Byellville and fokken CY.”

My gunsteling is egter uit “Hier’s hy nou”: “Meer hos as ’n rowwe stuk karhuis/ meer wors as ’n Robertson-slaghuis”.

Maar dis wanneer hy op die man af eerlik is, sonder skanse, wat hy jou totaal wegblaas. Wat ons bring by loshande die beste song op die album: “Tussen Stasies” saam met Die Heuwels Fantasties. Dis ’n song oor die hopeloosheid wat teweeggebring word deur die verlies van onskuld en die smagting om dit terug te kry:

Ek het al baie goed verloor en dit nooit ooit weer gevind nie
Ek het al baie vir my ma gesê ek is nie meer ’n kind nie
Die lewe is te hard en ek verstaan nie meer die punt nie.

Hy rap oor hoe die lewe nie voldoen aan verwagtinge nie en hoe hy hoop dat hy tog aan ander se verwagtinge sal voldoen:

Ek’s gebreek van binne soos al my speelgoed van toe ek klein was
As ek vandag wegstap sal al my goed pas in ’n klein tas
...
Ek lê onder ’n lappieskombers en probeer nog blokkies aanlas
Maar daar’s ’n kwaai oom langs my bed en hy sê vir my “staan vas”
So ek trek die kombers oor my kop en lê oop voete
En stap die lang pad in my pa se groot skoene

Hy wil net teruggaan na “die Langkloof en my ouma se plaas en saam met my suster die skape by die kraal injaag/ ek wil sit op my oupa se skoot en stories hoor van die verlede/ ek wil rondhardloop in die gras tot ek lam word in die knieë.”

En dan is dit seker maar net die liefde wat dit alles draaglik maak:

Op die ou end is al wat ek wil hoor rol oor jou tong
Jy wil by my bly
Sal jy my by die hemelpoorte kry?

Ek vermoed egter wat ek hier skryf, maak in die groter konteks nie saak nie. Want eendag gaan ons waarskynlik terugkyk na dié album, soos met Kerkorrel se Eet Kreef! of Fokofpolisiekar se As jy met vuur speel,en dit onthou as ’n waterskeiding.

Dis nie dat Parow die “vader van die Afrikaans rap kak” is, soos hy homself in “Feite” proklameer nie. Immers: Brasse vannie Kaap en Jitsvinger doen dit byvoorbeeld al baie langer. Maar Parow maak Afrikaanse rap kief en toeganklik vir ’n hele nuwe mark. Dalk is dit die regte tyd en die regte plek (en mens kan sekerlik nie Die Antwoord se aandeel onderskat nie).

Feit is, die mense laaik dit. En hoe stry mens met meer as 870 000 hits?