Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Die benederyk is grootse literatuur met 'n ruim en ryk verwysingsveld


Chris van der Merwe - 2010-07-14

Die benederyk
Ingrid Winterbach
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN:9780798151474
Prys: R165.75

Klik hier en koop Die benederyk nou by Kalahari.net!

 

Ingrid Winterbach het naam gemaak as skrywer en ook as skilder; geen wonder nie dat skilderskap so prominent figureer in haar jongste roman, Die benederyk. Die sentrale karakter, Aaron, uit wie se perspektief die gebeure weergegee word, is ’n skilder, terwyl sy broer, die wonderlik beminlike Stefaans, wat feitlik net so belangrik in die verhaal is as Aaron, ’n verteller is. Hulle vul mekaar aan in hulle waarneming van die lewe; elk is op sy eie manier besig met die soeke na lewensin; hulle omskep die vrae en traumas van die lewe tot skilder- en woordkuns onderskeidelik.

Die buiteblad bied ’n bruikbare sleutel tot die aard en tematiek van die roman. Swart is die prominente kleur; maar teen die bokant van die blad is daar ’n ook ’n heldergeel lig, en saam daarmee ’n verskeidenheid kleure, met veral groen en rooi prominent. Ook in Winterbach se roman is daar heelwat vorme van donkerte; maar juis teen die agtergrond van hierdie duisternis is die “ligpunte” des te meer indrukwekkend – die tekens van positiewe ontwikkelinge en van hoop. Die verskillende kleure op die buiteblad is ’n voorteken van die unieke verskeidenheid van mense en ervaringe wat in die boek uitgebeeld word, van die “veelkleurigheid” van die lewe.

Die titel verwys na die onderwêreld en die hel; die “benederyk” maak dan ook in verskillende gedaantes sy verskyning in die teks. Daar is die hel van dwelmverslawing en van depressie; ook die hel van die demone in die mens wat jou tot ondergang kan dryf – ’n ondergang waarin diegene wat die naaste aan jou is, dikwels saam na onder getrek word. Die mens is kwesbaar op velerlei maniere; ook die realiteit van siekte en dood is immer aanwesig. In die woorde van Van Wyk Louw: “Niemand tref dit móói met die heelal nie”; die paradys is vir goed verlore.

Maar naas die vele verskyningsvorme van die hel op aarde is daar ook in die roman karakters wat verlossing uit die benederyk ervaar; wat deur die donkerte heen beweeg om by lig uit te kom. Hiervan is Stefaans die opvallendste voorbeeld. By Stefaans is die tema van dwelmverslawing prominent; dit is nóú verbonde aan die tema van hergeboorte, van die reis deur die donkerte na die lig. Oor baie dinge word in die roman slegs kursories vertel; baie dinge word verswyg; maar van die hellevaart van sy dwelmverslawing vertel Stefaans in besonderhede (230–43, 269–76). Hy het dit persoonlik beleef, en hy beskou dit as sy verantwoordelikheid om van sy verslawing en sy genesing te getuig (234). Aan die begin van die aangrypende vertelling van sy hellevaart (269–76) vertel Stefaans van ’n koerantberig wat hy gelees het: van ’n Australiër wat, as ’n tipe pelgrimstog, Everest gaan klim het. Vir die man was dit wesentlik ’n soektog na groter lewenshelderheid. Wanneer hy te midde van ’n storm uitroep: “I’ve got it all figured out”, betaal hy die tol vir sy hubris, en word hy “gatoorkop weggeboul die sneeustorm in”. Sy makkers vind hom later; hy lyk “so dood as wat dood kan wees”, maar wonderbaarlik herstel hy - hoewel met ’n halwe neus, ’n halwe arm, net een hand en ’n pikswart vel. Tog is die depressie waaraan hy gely het, weg, en hy begin met die wêreld te praat (269).

Hierdie verhaal toon ’n duidelike parallel met Stefaans se storie; dit verbreed die tema van dwelmverslawing tot ’n ’n breër menslike ervaring van sterwe en hergeboorte, van ’n reis deur die duisternis na die lig. Stefaans vertel sy geskiedenis stap vir stap: die ervaring van ’n oerleegte (270); ’n tydlose ervaring waarin alle lig verdwyn (272); waarin hy nederiger raak, kleiner, nader aan die grond (273); waarin hy van vertroude konsepsies afstand moet doen (274) en leer om te berus in die nie-weet (275). Wanneer hy uit die put van dwelmverslawing kom, moet hy gedesensitiveer raak, sodat hy weer kan voel (276). Hy het die pad van verdorwenheid enduit gestap en kan nou van sy val en genesing getuig (243). Herhaaldelik word Stefaans met Lasarus vergelyk, want in ’n sekere sin was hy ook dood, en leef hy weer.

Stefaans, wat tydens sy verslawing alles verloor het – sy werk, sy huis, sy vrou (232) – word nou ’n bouer. Dit is ’n gepaste werk, want ook figuurlik gesproke is hy iemand wat opbou en herstel. Met die wysheid wat hy bekom het, met sy simpatie en sy hernieude belangstelling in die bonte verskeidenheid van die lewe, is hy ’n belangrike ligpunt in die verhaal. Hy is ’n troostende teenwoordigheid vir Aaron wanneer hy rou oor die dood van sy geliefde Naomi (113) en hy toon ’n lewendige belangstelling in die skilderye wat Aaron maak (210) en wat vir hom so lewensbelangrik is.

Stefaans verdiep hom in die geskiedenis van die familie; hy werk soos ’n romanskrywer en soek na verbande, na samehang (314). Hy weet dat om homself te verstaan, hy meer moet weet van die geestelike nalatenskap van die voorgeslagte, en hy stel veral belang in sy oupa Jesse, wat hom so diepgaande beïnvloed het en met wie hy hom in soveel opsigte kan identifiseer (236-7). Oupa Jesse was ook skuldig aan “substance abuse” (112); hy het lid geword van die Vrymesselaars, wat ook met lig en donker werk (247), wat ook belangstel in die ervaring van “terhelleneerdaal” (283) en die deurbreek na die lig (284).

In die geskiedenis van doktor Reynecke en sy seun Josua, so nóú verbonde aan die geskiedenis van Aaron en Stefaans se ouers, gaan Stefaans in op die fatale invloed van ’n demoniese vader op sy vriende en veral op sy seun Josua. Stefaans vertel die Reynecke-verhaal met groot deernis, veral teenoor Josua, en hy vind troos in die moontlikheid van verlossing vir die seun (219) en in die geloof dat die destruktiewe kringloop oor die geslagte heen uiteindelik verbreek kan word (228-9). Stefaans laat die lig van sy wysheid op die familiegeskiedenis val, ’n wysheid wat hy uit ’n verskeidenheid bronne haal – of dit nou die I Ching, die Bybel of die Qur’an is (333).

Tog, ondanks sy insig, openbaar Stefaans ook die beperktheid van menslike kennis. Sy vertellings word dikwels per sms gestuur, wat ’n suggestie van onvolledigheid bevat – die enkele woorde laat meer ongesê as wat dit sê. Stefaans bly steeds ’n soeker; hy kom nooit uit by ’n finale punt waar hy alles weet en alles gevind het nie. Wanneer hy ’n nuwe belangstelling in die lewe en in die liefde kry, raak sy beminde weg en kan hy haar nie vind nie (295-7, 308) – byna soos Henry van Sewe dae by die Silbersteins, vir wie die begeerde Salome steeds ontwyk.

Ook by Stefaans se broer Aaron vind ons die tema van die “benederyk”, van die deurgang deur depressie na nuwe lewensmoontlikhede. Na die dood van sy geliefde Naomi verval hy in ’n depressie (147 ev); daarna hoor hy boonop van ’n gewas op sy nier (151); en ’n verdere slag tref hom wanneer dit lyk of sy jongste skilderkuns nie waardeer word deur Eddie Knuvelder nie, die man wie se van herinner aan die Nederlandse literatuurhistorikus Gerard Knuvelder, die kanoniseerder van die letterkunde. Eddie het in die verlede Aaron se werk bemark en dit is in sy lokale uitgestal, en nou voel dit vir Aaron of sy lewensaar afgesny is. Maar dan kom die verrassende wending in die slot, wanneer dit blyk dat Eddie gereël het dat Aaron se skilderye in Berlyn uitgestal word. Daarmee is Aaron uit die diepte; hy begin selfs erotiese fantasieë te kry oor Wanda, die kuratrise van Eddie, wat vroeër so ongenaakbaar voorgekom het – die rou oor Naomi is kennelik aan die verbygaan.

Die romangebeure word uit Aaron se perspektief gegee, en die leser is dus beperk tot wat hy weet en tot wat hy wil bekendmaak. Oor vele dinge is Aaron onseker – hy bly byvoorbeeld in die duister oor Eddie se sienings en motiewe; hy is nog meer in die duister oor sy raaiselagtige buurvrou Bubbles, wat blykbaar met allerlei mafia-bedrywighede besig is en wat op onverwagte oomblikke ’n pistool kan uitpluk, wat nogtans uit Milton se Paradise lost aanhaal en wat ten slotte net so onverklaarbaar uit sy lewe verdwyn as wat sy daarin verskyn het. Van Violet, Bubbles se vriendin wat steeds aan haar sy is, weet Aaron nog minder. Oupa Jesse, wat so ’n belangrike rol in Stefaans se narratief speel, se oorsprong is onbekend. Van Benjamin, Aaron se jongste broer, weet ons wel dat hy, soos Stefaans, deur ’n diep depressie gegaan het en wonderbaarlik herstel het, maar meer as dit gee Aaron nie te kenne nie. Ook van die vrou van wie hy geskei is, en van Naomi wat hy liefgekry het, vertel hy byna niks nie. Die roman is soos ’n skildery met oop ruimtes waar die leser/kyker self die oop plekke kan invul. Daarmee word die geheel in misterie gehul; daar is ’n suggestie, in die woorde van Opperman, van die “klein wit kol van my wete”, en daarteenoor: “’n duister land/ bedreig my alkant” (“Man met flits”).

Ook die herhaalde verwysings na Josef en sy broers, die magistrale epos van Thomas Mann, sluit hierby aan. Mann se roman gaan diepsinnig in op verbande tussen die generasies, op vrye wil en voorbestemdheid, op patrone wat herhaal word. Maar die roman begin met ’n vermaning – ek haal aan uit die Engelse vertaling:


Very deep is the well of the past. Should we not call it bottomless?
... For the deeper we sound, the further down into the lower world of the past we     probe and press, the more do we find that the earliest foundations of humanity, its history and culture, reveal themselves unfathomable.

Die roman bevat ’n sterk element van besinning oor kunstenaarskap. Aaron se volgehoue denke oor sy skilderkuns kan geïnterpreteer word as ’n indirekte besinning van die implisiete skrywer oor kuns in die algemeen, maar veral oor skilder- en verhaalkuns. Aaron se beskouings bied ’n indirekte kommentaar op die roman waarvan Aaron se besinnings ’n deel vorm. Baie van die dinge wat Aaron oor die kuns kwytraak, is dan ook van toepassing op Winterbach se roman. Aaron verwonder hom oor die eindelose tonaliteite van swart; hy is geïnteresseerd in swart as heroïese kleur (88); en ook Winterbach se roman gaan oor die “tonaliteite van swart”, oor die heroïese worsteling met duisternis. Aaron is nie in pas met moderne modes in die skilderkuns nie – hy skep meer behae in die werk van die Romaanse, Middeleeuse en Renaissance-meesters (98). Hy strewe na “die diepte en eenvoud van Giotto se visie en na Piero se stralende klaarheid, sonder om die dissonansie van my eie tyd prys te gee; ek streef na Masaccio se humanisme, na die Katzenkammer Kids se streetwise streke” (100). Ook in Die benederyk is daar ’n verbinding van eenvoud en diepte, ’n helderheid sonder ignorering van die “dissonansie” van ons tyd. Verder is daar in Winterbach se roman die deernis en die humanisme van Masaccio. Saam met hierdie “hoë” kuns word die “streetwise streke” in die strokiesprent van die Katzenkammer Kids genoem, wat aansluit by die kennis van “straatwerklikhede” soos dwelmverslawing in die roman.

Aaron beweeg in sy jongste kuns weg van die niefiguratiewe, hy begin representasie in die kuns te herwaardeer. Sy kuns het nou minder gedistansieerd geword, nader aan die lewe (165). As uiteindelike maatstaf geld vir hom die waarheid van die vorm – nie die waarheid van “alles weet” nie, maar die waarheid van deurleefdheid, van outentisiteit (256). Winterbach se werk het ’n soortgelyke ontwikkeling ondergaan, vanaf die eerste werke onder die skuilnaam Lettie Viljoen tot by Die benederyk. Haar werk het eenvoudiger geword, meer realisties, nader aan die lewe – oor lewenskwessies soos wanhoop, liefde en nood (143).

In skerp teenstelling met hierdie benadering tot die kuns vind ons die destruktiewe opvattinge van die kunstenaar Jimmy Harris – anargisties, sonder kennis van die tradisie, op die “cutting edge”. Sy naels wat hy voortdurend byt, is ’n teken van sy “selfmutilasie” (61); ten slotte sterf hy, blykbaar nadat hy sy are gesny het en ’n video-opname daarvan laat maak het. Dit is die tipe vernietigende “postmoderne” kuns waarvan Aaron, en by implikasie die implisiete outeur, hom/haar distansieer; dit staan teenoor die kuns van iemand soos Masaccio, van wie daar gesê word dat sy kuns ’n helende element bevat (58).

Aanvanklik is Aaron ’n eensame man, worstelend met sy kuns en geïrriteerd wanneer hy lastig geval word. Geleidelik verander hy egter. Hy toon groter meelewing met sy dogter Stefanie in haar depressie, en ’n sterk band ontwikkel tussen hulle (185-6); hy begin hom bekommer oor die welsyn van sy broers en kinders (173); hy raak hartseer oor die leed wat sy ouers moes verduur (173); hy betreur die “verdorwenheid van die wêreld; die daaglikse onheil op elkeen se pad” (174). Aaron het, soos Van Melle se oom Diederik, geleer om te huil.

In hierdie verandering van Aaron het sy buurvrou Bubbles waarskynlik nie ’n geringe rol gespeel nie. Sy word binnegelaat deur die getroue bediende Gloria Sekete, wat normaalweg ongewenste besoekers buite hou. Gloria weet waarskynlik dat Aaron vir Bubbles nodig het; Bubbles ruk hom dan ook telkens (teen sy sin) uit sy eensaamheid en dwing hom na buite. Bubbles se naam herinner aan Bubbles Schroeder, die vrou van losse sedes wat vermoor is, en wie se moord onopgelos gebly het. Winterbach se Bubbles is ook (skynbaar) ’n vrou wat met gevaarlike bedrywighede besig is. Sy word deur agtervolgers bedreig en kan onverwags ’n pistool uitruk (22); sy is gewillig is om diegene wat vir Aaron ontstel, uit die weg te ruim (31). Maar Bubbles het ook ’n ander kant. Haar oë verskil van mekaar – die groter regteroog is die een waarvoor ’n mens in jou pasoppens moet wees; maar sy het ’n kleiner, milder, humane linkerogie (290). Die leser vermoed dat daar onder haar gevaarlike uiterlike ’n humaniteit skuil. Bubbles bedek haar gesig gereeld met ’n gorilla-masker; waar die meeste mense probeer om hulle “gorilla”-kant te verberg, gebeur die teenoorgestelde by Bubbles: sy hou ’n gevaarlike front voor waaragter ’n sagter kant skuil. Sy trek Aaron uit sy kluisenaarslewe; sy sien sy behoeftes raak; sy gee aan hom kassette waarop hy die belangrikheid van “patience” en “endurance” leer (139). Sy verskyn in sy lewe wanneer hy haar nodig het; en wanneer dit met hom beter gaan, verdwyn sy weer net so skielik.
Bubbles is ’n heerlike karakter, vol onverwagse streke; sy bring ’n noodsaaklike ligter element in die roman. Sy word so deur Aaron beskryf:

Sy is deel van die militêre vleuel van Zen; hulle vat nie kak van enigeen nie. Hulle onderrig is direk, op die man af, brutaal as dit moet; hulle mors nie tyd met ’n gepamperlang van die student nie. Lê die plak ín. Kaplaks! Smak! Word wakker student, uit jou eeue lange slaap, uit jou talle nederige inkarnasies van klip, slak, padda! Word wakker en smell the coffee, trek opsy die sluier van maya en kyk! Sién! Rol op die grond met die trane van vreugde en verheldering wat oor jou wange stroom! (172)

Die dialoog tussen haar en Aaron, waarin tale vryelik gemeng word en die leuen nie vir die waarheid skrik nie, is kostelik. Ek gee een voorbeeld:

"Jy moet meer uitkom," sê Bubbles. "Kyk hoe lyk jy."

"Amen," sê mevrou Sekete.

"Hoe lyk ek?" vra hy.

"Jy lyk worried en harassed."

"Ek voel dit nie," sê hy, "ek voel trouens piekfyn."

"You could have fooled me," sê sy.

"Jy hoef jou in elk geval nie sorge te maak oor hoe ek lyk nie," sê hy. "Moet jy nie
werk nie? Het jy tyd om so rond te hang?"

"Confucius sê: Man who rebuffs friend, ends up in gutter," sê sy.

Ter wille van mevrou Sekete se Christelike ore bedwing Aarom hom om nie iets
lelik afwysends oor Confucius te sê nie. (195-6)

Aan Bubbles se sy, soos ’n skaduwee steeds op die agtergrond, is haar vriendin Violet, onopsigtelik soos ’n viooltjie. Dit is opvallend hoeveel karakterpare in die roman voorkom, met een karakter wat op die voorgrond is, en die tweede van wie ons min uitvind. Soms vorm die karakters ook groepe van drie (241). Voorbeelde van karakterpare is, naas Bubbles en Violet, die skilders Jimmy Harris en Moeketsie Mosekedi en die kuratrises Wanda en Zelda. Dit herinner my aan die twee slanke, ononderskeibare misses Silberstein in Sewe dae by die Silbersteins, en ook aan Jock Silberstein se stelling wat as motto voor in die boek gebruik word:

Ons is nie alleen nie ... Ons besef aldag meer ons gesamentlike aandeel in die lot van die mensheid. Die eensaamheid is die verlange, die pyn by
aanskouing van die valse beeld van die enkeling wat stuksgewys met ons nuwe insig verdwyn.

Soos genoem, stel Aaron, as fundamentele maatstaf vir goeie kuns, die waarheid van die vorm. Hierdie maatstaf kan ook op Die benederyk toegepas word: die vorm is inderdaad in ooreenstemming met die temas en strekking. Die uitdaging vir die skrywer van ’n boek soos Die benederyk is om die ervaring van die duistere, dikwels chaotiese werklikheid tot sinvolle struktuur te omskep. Die onverwagte gange van die intrige, soos die siekte van Eddie Knuvelder en sy uiteindelike ondersteuning van Aaron se kuns, die dood van Jimmy Harris en die verskyning en verdwyning van Bubbles, is tekens van die onvoorspelbare en ondeurgrondelike aard van die lewensgang. Die oop plekke in die verhaal, die leser se gebrekkige kennis van baie van die karakters en hul situasies, suggereer die tema van menslike onsekerheid en onkunde. Die paradoksale waarheid wat uitgebeeld word, is dié van menslike insig in ’n omringende see van onkenbaarheid.

Die vertelling wissel gereeld tussen verskillende verhaallyne. Daardeur word afwisseling verskaf wat help om die leser se belangstelling te behou – dit is amper soos ’n televisiedrama wat uit kort tonele opgebou is. Maar die wisseling tussen die verhaallyne het ’n dieper funksie: daardeur word die lineêre verloop deurbreek om te fokus op dit wat die verhaallyne verbind, die tydlose temas van ondergang en redding. Die vertellings wissel ook tussen hede en verlede, om die verstrengeling van die tye te suggereer. Die tydsverloop word as ’t ware deur die vertelwyse gestol, sodat die struktuur soos ’n mosaïek is, of ’n skildery; soos wat die vertelling voortgaan, word telkens ’n nuwe deeltjie bygevoeg om die patroon van die geheel te voltooi.

’n Goeie voorbeeld van hierdie vertelwyse vind ons in hoofstuk 5. Dit begin met die vertelling van Stefaans se jeug, soos deur Aaron onthou. Dit word gevolg deur die vertelling oor die “Luceferiaanse”  dr Samuel Reynecke. Die inligting wat Aaron oor hom verskaf, is kennelik ten dele deur Stefaans aan Aaron gekommunikeer – Aaron vertel dus oor wat hy by sy broer gehoor het (76). Hierna volg die tragiese verhaal van Josua, die seun van Samuel Reynecke, ’n verhaal waarin Stefaans hom verdiep het. In teenstelling met hierdie verhaal van demone en van ondergang volg die intrede van die vrolike Bubbles, wat Aaron ompraat om haar met haar inkopies by Checkers te help. Terwyl hy op haar wag, dink hy na oor die kunsopvattinge van Jimmy Harris; hy word byna by dwelmsmokkelary betrek; sms-boodskappe van Stefaans stroom in oor die lot van Josua Reynecke; vervolgens laat Bubbles blyk dat sy die Russiese skrywer Gogol lees; en die verhaal word afgesluit met nog sms’e van Stefaans: oor Thomas Mann, Samuel Reynecke en oor die onbegryplike gang van die lewe.

Verskillende fasette van die “benederyk”-tema kom saam hier voor: demone en ondergang naas redding en omgee vir ander; kuns en (self-)vernietiging' dwelmverslawing en genesing. Deur die naas mekaar stel van die verskillende verhaal-ontwikkelinge, deur die suggestie van verbande tussen hulle, word die veranderende, tydsgebonde gebeure opgeneem in onveranderlike, tydlose temas. Verder, deur die teruggang na die verlede vanuit die hede word die verstrengeling van hede en verlede gesuggereer. Die verskillende verhaallyne wat saam in die een hoofstuk gevoeg is, suggereer ook die verbintenis tussen Aaron en sy broer, tussen vader en seun Reynecke, tussen die Reyneckes en Aaron-hulle se familie. Inderdaad is daar, in die woorde van Jock Silberstein, sprake van “ons gesamentlike aandeel in die lot van die mensheid”. Om die besinning en rasionele denke ten opsigte van die Reynecke-verhaal te balanseer, word die tema van onkunde en onbegryplikheid ingebring deur die onbepaalbare Bubbles en deur die laaste sms’e van Stefaans. Hierdie hoofstuk is soos ’n kleiner, relatief selfstandige eenheid wat volmaak die groter geheel weerspieël.

’n Kenmerk van die roman is die groot aantal verwysings daarin. Sommige van die skilders na wie verwys word, het ek reeds genoem, maar daar is ook ander: Signorelli, Joseph Beuys en Goya. Wat skrywers betref, is daar naas Thomas Mann ook Cormac McCarthy (The Crossing) en TS Eliot. Die insigte van die I Ching staan naas dié van die spirituele leier Krishnamurti en dié van die Bybel – veral die Ou Testament is ’n inspirasiebron. Sangers en sangeresse na wie verwys word, sluit in Brenda Fassie, Sinead O’Connor en Laurie Andersen – almal mense wat lewenskrisisse tot kuns getransformeer het. Deur hierdie verwysingsveld word die romanwêreld grootliks verruim en verryk.

Jare gelede het ek as student geleer, via Wellek en Warren, wat die fundamentele kenmerk van groot literatuur is: “the amount and diversity of material integrated”. Dié maatstaf het mettertyd uit die mode geraak, maar dit bly steeds ’n goeie formulering wanneer ’n mens na grootse literatuur verwys. Sonder twyfel gee dit ’n raak karakterisering van die jongste, fassinerende roman van Ingrid Winterbach.

Hierdie resensie is 'n uitbreiding van 'n resensie wat vir die program "Boekkeuse" oor "Fine Music Radio" gedoen is.


Klik hier om Thys Human se resensie van Die benederyk te lees.