Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Langpad-storiekompetisie: Verlore in vertaling?


Willemien Jansen - 2010-07-13

Al wat hierdie dag kan red, is sigarette, chips en bier, dink ek toe ek in die straat afloop na die kafee naby my woonstel. Dit was ’n uitputtende dag met té veel vreemde geluide en té veel dinge vir my brein om te absorbeer. CAUTION, CAUTION: INFORMATION OVERLOAD! Aan die voet van die heuwel sprei die see voor my uit. Iets omtrent die see hier lyk af. Dis te blou, te kalm. Iets omtrent die hoek van die water is ook nie heeltemal reg nie. Ek het al probeer om dit aan mense te verduidelik, maar sonder enige sukses. Dis soos The Truman Show. So asof ek oor die water kan loop wanneer ek ook al wil, ’n deur in die hemele kan oopmaak en my dan in my ouma se sitkamer sal bevind, waar alles warm en bekend en veilig is. En vir die duisendste keer die afgelope paar weke dink ek verbouereerd by myself: “Ek bly in Korea!”

Die kafee is ’n klein, eenvoudige plekkie waar jy net die nodigste kan vind, maar ek is mal daaroor. Aangesien ek waarskynlik die winkel se enigste Westerse kliënt is, ken die eienaars van die winkel my al. Elke keer as ek ’n nuwe Koreaanse frase leer, oefen ek dit op die vrou wat in die winkel werk. Vandag probeer ek “Sien jou weer”, wat giggels agter die toonbank ontlok en my bloedrooi laat. Buite die winkel staan ek onseker oor wat om volgende te doen. Miskien moet ek strand toe loop en na die branders gaan kyk. Ek grou in my sak op soek na my iPod toe ek ’n stem agter my hoor. Ek draai om om te sien dat die stem aan ’n ou man met ’n krom rug en ’n kierie behoort. Daar is ’n opgewondenheid in sy stem en ’n reuseglimlag op sy gesig, maar ’n hartseer in sy oë. Hy swaai sy kierie opgewonde in die lug terwyl hy praat en dan vir my wag om sy vraag te beantwoord. “Uh, I don’t understand you. Sorry. Korean, no. Sorry!” probeer ek in Engels, maar dit keer hom nie. Hy lag, gryp my arm en sleep my teen die heuwel op. Heeltemal verward volg ek.

Hy wil seker net hê ek moet hom teen die heuwel uithelp – hy het ’n swak been, dink ek terwyl ons loop. Die ou man probeer steeds met my praat en verstaan blykbaar nie dat ek geen idee het wat hy besig is om te sê nie. Ek wens regtig ek kon iets sê – net een vraag beantwoord – maar die vreemde en onbekende woorde vloei almal saam in klanke wat ek glad nie kan ontsyfer of herken nie. Sy entoesiasme en my need to please maak my net meer senuweeagtig, en ek voel hoe ’n hoofpyn besig is om agter my oë te ontwikkel. Uiteindelik bo-op die heuwel, sleep die man my na ’n woonstelblok en wys af na trappe wat na ’n vloer onder die grond gaan. Goed, miskien bly hy hier, dink ek. Miskien wil hy my aan sy familie voorstel; dalk is hy die oupa van een van my leerlinge, dink ek angstig terwyl ek hom volg. Ek voel ’n knop in my maag en weet wat ek besig is om te doen, is baie dom. Net omdat ek in ’n vreemde land is, beteken nie dat ek nie in die moeilikheid kan beland nie. Maar ek sien die opgewondenheid op sy gesig en kan myself nie so ver kry om om te draai nie.

Aan die onderpunt van die trappe maak hy ’n deur oop en wys vir my dat ek moet ingaan. Binne word ek halfhartig deur twee Koreaanse vroue gegroet. Ek kyk verbouereerd rond en besef dat dit ’n koffiewinkel is. Onder ’n woonstelblok. Hoe vreemd. Nee, nie vreemd nie – net anders. Dit ruik soos ou rook en stof, en die banke is vaal en verbleik. In die hoek sit die enigste klant ’n blokkiesraaisel en invul terwyl hy sy koffie drink. Die ou man gaan sit op een van die banke en wys vir my om langs hom te sit. En daar is die enigste Koreaanse woord wat ek met selfvertroue kan sê, handig: “Aniyo, aniyo. No,” sê ek en gaan sit oorkant hom. Een van die vroue bring vir ons koffie en gluur my aan. En dan tref dit my: ’n Russiese prostituut. Hulle dink ek is ’n Russiese prostituut! Hoekom anders sal ’n jong Westerse vrou saam met ’n ou Koreaanse man koffie drink? Dit maak sin in ’n dorp waar daar ’n reuse‑ Russiese woonbuurt is en ek op ’n weeklikse basis gevra word of ek van Rusland af kom.

Die ou man beduie dat ek my sigarette moet uithaal en ek bied vir hom een aan. Dan sit ons ongemaklik in stilte. Hy wend ’n laaste paar pogings aan om met my te praat, maar gee uiteindelik op en kyk eerder nuus op die TV teen die muur. Ek sit op die punt van my stoel, ongemaklik in die stilte en onseker van waar om te kyk en wat om te doen. Ontspan, probeer ek myself oortuig. Niks gaan gebeur nie. Niks is verkeerd nie. Hierdie is nie die donker kontinent nie. Alles is onder beheer. Dit laat my egter nie meer op my gemak voel nie. Dan, net so skielik soos wat ons ontmoeting begin het, kom dit tot ’n einde. Die ou man betaal vir die koffie, staan op en beduie vir my om dieselfde te doen. Hy loop teen die trappe op en ek volg, maar nie voor ek sy kierie, wat hy by die deur vergeet het, gryp nie. Buite in die sonlig raak ek liggies aan sy skouer en hou sy kierie na hom toe uit. Verras vat hy dit en hou my hand tussen syne. Hy gee ’n laaste hartseer glimlag, klink sy kop, draai om en loop, en laat my geskok voor die gebou. Uiteindelik draai ek om en loop in die teenoorgestelde rigting na my woonstel.

’n Paar treë verder bars ek uit van die lag. Wat op dees aarde het pas gebeur? Ek kan nie wag om by my woonstel te kom en onmiddellik ’n e-pos aan al my vriende by die huis te stuur nie. Hulle sal nooit my storie glo nie. Hulle sal waarskynlik ’n bietjie kwaad wees omdat ek so roekeloos was. Wel, miskien is ek naïef. Miskien ís ek roekeloos en simpel en onverantwoordelik. Of het ek pas ware, outydse goedheid beleef? Dalk is daar tog dinge wat nie met vertaling verlore raak nie.


Klik hier vir kompetisie-besonderhede.