Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Langpad-storiekompetisie: Langs die pad


SD Fourie - 2010-07-13

Soms loop ’n mens se spore ver en wyd. Vergaap jy jou aan die wonders van ander wêrelde, die “ieder woelt hieronder” van vreemde nasies en hulle gewoontes en die diversiteit van die Skepping. Kom jy weer tot stilstand en blaai jy deur jou foto’s, notas en onthougoed; besef jy skielik dat dít wat die blywendste indruk gelaat het, nie die groot wêreldstede en hulle bekende toeriste-attraksies is nie. Mense in hulle eenvoud en opregtheid is dikwels jou kosbaarste herinnering.

Op die noordelike grens van Argentinië, daar waar Brasilië en Paraguay se grense in die Iguazu-rivier kruis, ontmoet ek ’n wonderlike gids en met die eerste ontmoeting bederf ek byna ons hele staptog na die Iguazu-valle. Dié valle word as die agtste wonder van die wêreld gereken en kan net te voet besoek word. Ons gids is ’n klein, donker mannetjie van Indiaanse afkoms en ’n kenner van die digte woude, die onvergeetlike delta en die talryke watervalle wat bruisend na benede stort.

Vroegoggend ontmoet ons hom buite die hotel met ’n eienaardige kalbassie tee waaraan hy kort-kort deur ’n lang, silwer pypie suig. In die kalbassie is ’n groenerige pappery van blare en onder sy arm is ’n warmfles met ’n eienaardige tuitjie waaruit hy so elke dan en wan ’n dun straaltjie water op die teeblare skink. Dié mannetjie praat ’n geradbraakte Engels vermeng met Spaans, maar is ’n uitstekende gids en laat nie toe dat sy taalgebrek met sy beroep inmeng nie. Ek mik-mik om hom na sy teedrinkery uit te vra, maar soos enige goeie gids praat hy ’n hond uit ’n bos uit en intussen neem die voortvarendheid van die Strandveldse voorgeslagte oor en gryp ek die kalbassie, roer die groenerige brousel heen en weer, neus dit soos ’n wafferse wynkenner en gee dit terstond aan ’n erg verontwaardigde man terug.

“You’ve ruined it! You’ve ruined it in five gears!” Soos ’n stout kind staan ek daar, terwyl almal beskuldigend na die oortreder staar. Blykbaar het ek alle etiketreëls oortree. “Maté” – dis nou die kalbassie – en “yerba” – die tee – is ’n baie ou tradisie en word deur die mense van die streek gebruik. Niemand, maar niémand, roer ooit aan “maté” nie – dit word slegs met goeie vriende gedeel en altyd op uitnodiging van die gasheer. “Five gears” was vir hom die oortreffende trap van my oortreding!

My oorblufte verskoning het hy soos ’n goeie gasheer aanvaar, maar later die dag het hy my van tyd tot tyd fyntjies gekap. Toe iemand verneem of die oerwoud veilig is, was sy antwoord:

“For you, it is unsafe. You are small. But for her [en hy wys na my!] it is safe. Nothing will eat her!”

Anderkant Mariental, op pad na die noorde van Namibië, ontmoet ons Shannon Claassen, die velletjiesmous langs die pad, in haar sinkhokkie waar sy vir haar ’n lewe oop bid in dié harde, droë land.

“Soos in Cool Claassen,” stel sy haarself bekend. “En Meneer moenie dink ek is nie geleerd nie. My matriek goed deurgekom met 36%!” vertel sy trots. Daar is nie werk vir haar in haar land nie. Sam het werk beloof, maar sy wag nog steeds. Nie dat sy nie probeer het nie. Haar CV vir almal gestuur. Die jong gesig is ’n landkaart van swaarkry. Die smal skouertjies geboë. Soggens en saans moet sy die velle dra vanaf die plaas doer tussen die rante, waar die hele familie velle brei en bewerk.

“Veertien dae, Mevrou, gaan partymaal verby voordat hier ’n kar stop. Dan neem hulle foto’s vir hulle Duitse koerante en koop niks. Mens hoor nooit weer van hulle nie. Was Mevrou-hulle nie laasjaar ook hier nie? Ja, ek onthou! Mevrou koop mos aljimmers by my!” Met haar bemarkingstaktiek skort niks. Oor die draad hang ’n saggebreide koedoekalfvelletjie. Hoekom dan so ’n klein kalfie?

“Die kalfie was laas winter, Mevrou. ’n Mens kry ook mos lus vir vleiskos en toe vang ons dit met die slagyster en honde.” Ons gril merkbaar.

“Hier leer ’n mens bid as die son op die kalk neerslaan en alles swart gebrand is. Dan bid ek teen doerie kalkrantjies soos ’n erdmannetjie in die son. Bid dat ’n kar moet stilhou, bid dat dit moet kom reën en bid vir vleiskos.”

Iewers in die moedelose lyf het ’n stukkie vrou oorgebly. Een of ander tyd het sy haar naels bloedrooi geverf en dit net daarna weer stomp gewerk om die ongenadige land se naam met stukkies swart karakoelvel in die wit bokvel in te werk.

“Die Here se seën op julle pad.” Dít kry ons verniet saam met die wit bokvel met die kunstige swart letters. Ure se werk met vingers wat rou gesteek is deur die naald.

“Ja, Shannon Cool Claassen. God seën jou. Ek kan nie,” groet Jan.

“Ai Meneer, Mevrou?” Eers ’n vraende blik en dan breek daar ’n laggie oor die wangspiere wat stram geraak het van son en swaarkry. Ons ry weg en wuif vir Shannon, die gladdehaarkind van ’n Rehoboth-ma wat iewers van ’n groen Ierse rivier gedroom het en haar dogter hoopvol naam gegee het. Shannon wuif terug. Tussen haar en die grootpad staan ’n doringdraad en ’n gladgewerkte sinkplaattafel met twee geel lemoene uit die Olifantsriviervallei.


Klik hier vir kompetisie-besonderhede.