Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Langpad-storiekompetisie: Leeujag


Swerwer - 2010-07-13

Op ’n koue winteroggend pak ons die Toyota – ons gaan leeu jag!

Oom Sterk Koos anderkant Outjo het gebel; die leeus het deurgebreek vanaf Etosha en is besig om tussen sy beeste te maai. Kan ons nie asseblief vir Jakob bring en die gediertes kom skiet nie? Die laaste woorde was nog nie eers by die oor nie, toe is die bakkie gepak.

Hannes is co-driver; Diklieg die skinker. Dit is baie moeilik om te bestuur en jou eie doppie te gooi – seker dié dat hulle aanbeveel “moenie drink en bestuur nie” – hulle moet net agterna byvoeg “jy gaan mors”. Soos Diklieg sê as ons van die watergat af terugkruie: “Hou die dood van die paaie – ry op die sypaadjie.”

Hier by ons (Gobabis) is dit baie gevaarlik om te drink en te bestuur. Verlede Saterdag is ek en Hannes dorp toe – die nodige verversings gaan aankoop vir ‘n vergadering. By die stopstraat stilgehou en soos ’n ordentlike Suidwester my hand by die venster uitgesteek om te wys ek draai. Sal een van die plaaslike inwoners nie wragtig my bier uit my hand gryp nie! Verdomde verwaandheid.

In elk geval, ons vat die pad, heel jolig. Stywe entjie: 450 km – vyf kaste bier in die ou taal. Op Otjiwarongo stop ons om vol te maak – bier en diesel. Nou is Diklieg al so los soos tastic-rys; wil sommer ’n paar gawe anties saamvat plaas toe. Hy wil sy manlikheid aan hulle openbaar – hy gaan mos leeu jag. Vra die een jonge dame vir hom: “Vir wie wil jy bevredig met daai ou dingetjie?” Oopgemoed-dames hier in ons kontrei. “Vir my, natuurlik,” sleep ou Diklieg. Nodeloos om te sê, ons gaan alleen verder. Ek en Hannes vol lag vir Diklieg se “dingetjie” – min wetend wat voorlê.

Oom Sterk Koos wag ons by die huis in met ’n manbeker mampoer – stook dit van die maroelas in die omgewing. Slaat soos ’n vierpondhamer tussen die oë. “As jy dié ding in jou lyf het, trek jy die leeu se tande sonder verdowing,” koggel Diklieg. Die tannie het vir ons ’n feesmaal voorberei: koedoesteaks, skaappeertjies, kaboemielies en, om mee af te sluit, souskluitjies soos net sy dit kan maak.

Goed gekuier en dik gevreet gaan ons so sesuur 10 km vanaf die huis kamp opslaan, oftewel, Jakob slaan kamp op – ons lê sommer agterop die bakkie en uitvars. Van jag is daar vanaand nie sprake nie – ons is moeg, letterlik en figuurlik! Môre is nog ’n dag.

So elfuur die aand word Diklieg wakker, dik beneweld – hy moet water afslaan, of probeer. Mampoer werk mos soos slaapmedisyne: Hoe langer hoe kwater. Slinger-slinger tussen die bosse in – hoekom so ver, weet nugter alleen.

In ’n oop kol steek die man vas en verlig homself. Skielik sien hy ’n beweging – geel, en gróót. Ou Diklieg skrik net daar sy water en ligte in ’n kortsluiting in. Hy vries. Kan dit wees? Die geel ding maak sy bek oop en gee ’n oemf. Tande soos wat Dracula wens om te hê, flits in die maanlig. Diklieg uiter ’n kreun soos ’n meerkat in paartyd.

In sy benewelde toestand dink hy: Moet net nie hardloop nie, boet – dan is jy aandete. Tussen die mampoergepekelde breinselle kom die besef deur: Hier moet hy iets doen. Iets slims.

Hy trek die half los, half vol broek heeltemal uit, knyp twee balle tussen sy bene vas, hande en voete op die grond, draai sy agterent na die leeu en uiter ’n waansinnige brul. Leeu se kind kom stadig nader, ruik-ruik so aan die agterstewe en gee daai twee balle ’n ordentlike lek met sy skurwe raspertong.

’n Kreet uit die diepte van sy maag bars oor Diklieg se lippe; sy kop val vooroor, agterstewe in die lug … uit soos ’n kers.

Wat verder tussen Diklieg en die leeu gebeur het, weet ons tot vandag toe nie. Genoeg om te sê dat Diklieg dae lank moeilik geloop het. Moet van die skrik wees!

Ons het die leeumannetjie die volgende dag net vlugtig gesien. Diklieg het amper leave van sy senses geneem. Hannes sê hy sweer voor daai mannetjie tussen die bosse verdwyn het, het hy omgekyk en vir Diklieg geknipoog.


Klik hier vir kompetisie-besonderhede.