Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Langpad-storiekompetisie: Wiederschau


Swerwer - 2010-07-13

Wat sou ek nie wou gee om lekker rustig met ’n kouetjie in die hane op Myl 108 se strand te sit nie.

’n Vuurtjie wat kringlig sprankel met afgeëtste donker figure wat jou bekruip uit ’n nooit vergete kindernag. Niemand in sig – net die volmaanstrale wat sonate op deinende water speel. Onder die oppervlak, dof en verlig, dansende seewier met swaaiende spookhande, grypend na bo, grypend na lig, in pas met ’n vrees uit donker dieptes aangejaag.

G’n musiek, g’n lawaai – net die breek van branders wat met ’n laaste storm hulle woede teen die sandstrand uitrol. Spookkrappies wat dartelend en met krombeen-balletpassies die woede ontwyk, vassteek en met wikkelsnorre ’n snuifie van vanaand se spyskaart kry. In die verte skreeu ’n strandjakkals sy droewige roep in alleenheid, hartseer – deel van die woestyn.

’n Wêreld, só uit God se hande gegee.

Net duskant Myl 110 draai jy regs, Brandberg se rigting – Welwitchia-vlakte, binneland toe. Sestig kilometer die woestyn in, as jy weet waar om te kyk, ’n skeepswrak uit die 1700’s. Waar en hoe hy daar gekom het … net sy geheim. Slegs ’n houtgeraamte tussen waaisand versteek, die oorblyfsels gebleikte, beskuldigende vingers in die lug. Hy vaar tussen duine, ’n reis na vergetelheid byna voltooi.

Voort na die Gobobosebberg, daar waar gode se skatte, diep in die aarde versteek, deur die mens gedelf word: ametis, kalsedoon, kwarts, septers, geodes, dioptaas – snaakse name vir mooie gesteentes.

Die Brandberg rys ’n brood teen die horison, 65 km in omtrek, die hoogste in Namibië. Van die mooiste kunsskatte: teen mure, skuilings, oorhange – selfs die Witvrou op haar ewige staptog na nêrens. Boesman se paradys, totdat hy Duitse wet verbreek het en die paradys belet is.

Tagtig kilometer: tweespoorhobbelpad tot by Uis. Die enigste supermark/kafee in ’n 200 km-omtrek. Die hoop van vergange mynbedrywighede 'n wit spookasem teen die agtergrond.

Die Ugabrivier loop sy sandspoor langs die dorp verby. As jy gelukkig is: woestynolifante, koedoes, gemsbokke, springboktroppe – honderde.

Orals in die droë rivier is watergate, koelteplek, rusplek.

Terug op die pad, verby Uis, terug in die verlede.

Ou mynskagte uit vervloë dae, die lêplek van spoke. Op donker aande flits jou vuurtjie se lig, kom daar skadu’s teen wit vervalle geboue. Die verlede herrys beelde in die nag; jy word meegesleur, deel daarvan. In jou gedagtes hoor jy die stamp van ertsbrekers. Swetende, gespierde lywe, die kleur van verbrande hout, swoeg blink en met swaar gelaaide emmers uit ondergrondse doolhowe, oë knippend teen die helder lig. Sagte verbeelding-dreunsang kom vanaf die oorblyfsel-kampong aangerol, omklem jou hart, maak jou rustig. Graftes oor eeue heen, peinsend in hulle eensaamheid onder ’n donkermaan. Hulle staar blind, wagtend op die koms van ’n nuwe dag.

Jy wil bid, huil en skreeu; jou siel loop oor – jy word mens.

Vroegoggend met die misdou van die nag oor jou slaapsak hoor jy die roep van ’n gompou, dan – stilte. Mens en natuur word een.

Wiederschau – dis ons groetwoord as jy vra.


Klik hier vir kompetisie-besonderhede.