Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Langpad-storiekompetisie: Van die pad af


Swerwer - 2010-07-13

Die oomblik dat jy die grenspos by Ramatlabama, duskant Zeerust, oorsteek, begin jou reis. ’n Reis wat jou neem na ’n wonderwêreld van ’n amper vergete, verbyry-stukkie Afrika – die wêreld van die Trans-Kgalagadi-deurpad tussen Suid-Afrika en Namibië.

Die pad tussen Lobatse en Jwaneng word gekenmerk deur seer duime van mynbedrywighede; skagtorings wat die landskap bederf met staal en wiel – nie dat dit jou nuutgevonde vryheid aan bande lê nie. Nee, dit herinner jou eerder aan die stad: sy gewoel, en ’n beklemmende gevoel van bedruktheid. Dit maak jou ook bewus van die ongereptheid rondom dit.

Eintlik wil jy nie in Kanje of Jwaneng, die uitvloeisels van die seer duime, stop nie; jy wil verwyder wees daarvan. Verwyder van dít waaraan jy herinner word. Dus druk jy die voertuig se neus in die rigting van Kgang – een oog op die brandstofmeter en een oog op die pad.

’n Reuse-kroonarend, gebalanseer bo-op ’n jong kameeldoringboom, sy kloue krampagtig om ’n jong, weerlose takkie gekrul, laat my die motor stop. Stil drink ek aan sy glorie en is verbaas oor sy reuse-vlerkspan wanneer my bekruip-nuuskierigheid te na aan hom kom. Vir ’n oomblik is hy ’n reuse-skoenlapper voor die son, voordat warm lugstrome hom buite kyk-bereik voortstu.

Beeste en donkies langs die pad is ’n teken van die naderende Kgang. En eensklaps is jy daar. Van Kgangdorp is nie ’n teken nie – dié lê versteek langs die pad tussen lang gras en bome: slegs bedienende vulstasies, wagtend vir dorstige motors en ewe dorstige motoriste. Dit bring die gevoel van ’n langpad, goed omarm deur alleenheid. Ek is dankbaar vir die vriendelike gesigte en Afrikaanse “Môre, Meneer”. Afrika voel vriendelik en tuis. Voor my vertrek, nadat brandstof, olie, banddruk en ’n vinnige koffietjie my en die motor verkwik het, dring die besef my binne: Baie het dié pad voor my getrek en by die inwoners ’n warmte vir die nakomelinge gelaat. Ek groet vriendeliker as in die stad, en hoop dié wat ná my kom, sal – soos ek – daaruit baat. Steeds suidwes met die motor. Die aarde se tooi verander na Kalahari-bruin en duisende vinkies sit in afwagting langs die pad. Kyk jy in die truspieël, kan jy hulle op die teerpad sien baklei oor ’n ongelukkige ruitgogga. Troupante is gewoonlik die wenner, hulle flitsende kleure helder teen ’n bruingroen agtergrond. Dis dán dat ek wens ek kon skilder.

Op ’n stadium tel ek vier-en-dertig kraaie binne twintig kilometer en ’n duiker elke twee kilometer.

My eerste kennismaking met ’n egte rooihartbees vind hier plaas. Nie dié wat jy op jagplase en in wildtuine aanskou nie – ’n regte egte ene (soos ’n klein seuntjie sal vertel), gehard deur son en weer, wat die pad deur die natuur op sy eie vind. Hy lyk kleiner en skraler, maar tog ook statig op sy eie. Daar is geen skugter, bang koes-koes-draffie vir ’n wagtende koeël of verveelde uitdrukking vir nog ’n toeris nie. Hierdie is sý domein en met ’n blaffende snork skud hy sy kop om my daarvan in kennis te stel. Dan draai hy doelbewus sy rug op my en vreet rustig voort aan geel gras. Ek laat die motor nog ’n oomblik langs hom luier voor die pad weer roep. Daar doer ver wink hittegolwe vir my, en ek moet volg.

Die afdraai na Namibië word groot aangedui: “Buitepos 160 km”; tog gebeur dit skielik in my rondkykverwondering. Dit staan in groot wit letters teen ’n groen agtergrond en ek kan ’n lag nie keer nie. Ek dink aan ’n rooihartbees wat hiervan sin sal probeer maak en dan eerder die groen van die bord sal probeer kou. Daardie woorde is vir mý ’n indringer.

Sand raak die oorheersende faktor tussen boom en gras, die aarde raak platter en jy verwag om enige tyd ’n bordjie met “Vrystaat!” daarop te sien. Die reënseisoen is aan die kom, maar die droogte laat selfs die gehardste bossie in die hitte knak. Stofduiwels rol tolbosse in ’n Kalahari-sokkerstryd heen en weer, met ’n haakdoring wat die doel keer.

Die onthougedeelte van hierdie stukkie pad was die twee perderuiters wat ek by die “Buitepos 120 km”-bordjie raakloop. Van ver af het ek hulle gesien en gewonder of dit ’n hersenskim van hitte was. Die ruiters het fier en regop in die saal gesit met velhoede uit ’n dagboek van ’n eeu gelede. Agter die saal vasgemaak het elke ruiter sy bagasie in ’n styfgerolde bondel vervoer. Die saals was blinkgery, maar ook dienend aangepas vir die oomblik. Ek het die voertuig van die pad getrek, daar waar hulle sou kruis, en met my kamera in die hand hulle aantog vir my verewig. Die voorste en oudste het langs my gestop, met die jonger een ’n skugtere afstand agter hom.

My “Middag” het half blatant geklink, maar sy kopknik het gewys dat alhoewel hy nie die woorde verstaan het nie, hy die bedoeling gesnap het. Ek het nader gestap en handvraend gewys of ek aan die perd mag raak. ’n Helder wit glimlag het oor sy gesig getrek en hy het afgeklim. Op sy beurt het hy weer die tekens van dorsheid gewys en glimlaggend het ons perd en water gedeel. Sy oë op die leë tweeliterplastiekbottel agter in die motor het ek verkeerd verstaan, en eers nadat hy my sy eie afgeleefde bottel, toegedraai in lap, wys, het ek begryp: Hy vra of hy dit kon kry vir ’n nuwe. Die leë koeldrankblikkies ook, dankie. En weereens wys hy my syne: ’n koffiebeker daaruit gemaak.

Oud en nuut het in stilte gesels. Toe ek sy verwonderde blik oor die motor sien speel, en hy myne na die perd vang kyk, het ons ten volle verstaan. Hy het gewens hy was ek, en ek het gewens ek was hy. Twee kulture het ’n oomblik deur die oë uitgeruil. Weer het sy tande wit geflits, en wou ek vra hoe hy dit sonder tandepasta doen. Daar was egter nie woorde nie en ek het dit gelos.

My nuuskierigheid veroorsaak ’n oomblik van groot pret tussen ons – met vele handgebare, en met hom wat skater van die lag vir my manewales, verstaan hy uiteindelik my vraag: Van waar en waarnatoe? Hy beduie na die boekente van die dag – oos na wes – en hou drie vingers omhoog, en dan weer, met twee vingers omhoog. Ek verstaan; sy reis is al drie dae lank en sal nog twee dae duur. Dit was egter onmoontlik om name daarby gevoeg te kry. Sy soortgelyke gebare laat my met een vinger omhoog en met ’n hopelose voorstelling van die see by Swakopmund. Die vraag wat in sy oë bly hang, kon ek ongelukkig nie beantwoord nie.

’n Stille handgroet tussen ons eindig die gesprek en lank nadat hulle stofwolk weer aarde geword het, het ek my aan die pretensieloosheid van hulle bestaan verwonder.

Die motor slurp die kilometers met ’n smulpaapgrom, en my gedagtes dartel en rondomtalie om perdrydrome – vir eers is die omgewing vergete. Dit is die trop beeste oor die pad met ’n kaalvoetklonkie wat benoud beduie om te stadig wat my terugruk. Die leë kosblikkie sonder deksel en stofpaaie oor sy gesig vertel die dag se verhaal. Ek waai in die verbygaan deur ’n oop ruit en sy kinderlike laggie volg die motor om die volgende draai.

Ek is jammer toe die Namibiese grenspos eindelik in sig kom, en met ’n heimwee dink ek aan die dag se herinneringe – wat ek weet die oudag van môre se verlange gaan wees.


Klik hier vir kompetisie-besonderhede.