Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Langpad-storiekompetisie: Mosambiek toe – die “macho-roete”


Henning Janse van Vuuren - 2010-07-13

Dit is nog ses maande voor die Wêreldbeker en ons buurman se laaitie blaas sy vuvuzela een strook deur. Hy is ’n klein mannetjie. Daarom kon ek aanvanklik nie glo hý is vir die oorverdowende geskal verantwoordelik nie.

In my geestesoog begin ek ’n chaotiese, onbeheerste toevloei van buitelanders sien. Tot so ’n mate dat ek nie my gat kan draai nie. Ek sien brandstoftekorte. Diesel, leaded en unleaded. Ek sien massas bulderende vuvuzelas, duur vlugte en onbekostigbare akkommodasie by my gunstelingwegkruipplekke.

Kloustrofobie is ’n lelike ding. “Ons beter hier uit,” sê ek vir Elize. “Ten minste tot die wedstryde in die Laeveld verby is.”

Ek bel my broer. Hy het ’n vriend. Almal kom. Vrouens, kinders, die lot. Mosambiek toe. Lank voor Bafana aan ’n bal kan raak, is ons kampplek al bespreek. Elf mense: ses volwassenes en vyf kinders. Reinhardt is op een jaar die jongste en Dawie, wat al diep in sy veertigs torring, die oudste.

Die tydskrif sê jy kan bo in die noorde van die Kruger Wildtuin begin. Pafuri. Van daar af kruis jy die Limpopo-rivier by Mapai en druk deur Vilankulos se kant toe. Die macho-roete. Ons drie manne grinnik meewarig, want op die foto is ’n Land Rover en ’n Toyota van sorts. Die strydbyl tussen die grootpraterige kletsers oënskynlik begrawe.

Die tyd het aangebreek. Ons drink almal Mefliam, plak stiekers op die Pajero’s en stop die yskaste vol rum en ander teenvoeters vir hardnekkige muskiete.

Laatmiddag op Vrydag 11 Junie 2010, terwyl Bafana besig is om in Soccer City op te warm, slaan ons tent op in Punda Maria. By ontvangs word die wedstryd op ’n tamaai platskerm vertoon. Dit is so vol dat ons sukkel om sitplek te kry. My nuuskierigheid skakel mettertyd om in geesdrif. As ek twintig minute later my hande op ’n vuvuzela kon kry, sou mense maklik kon glo daar is ’n hondsdol olifant in die kamp los.

Die wedstryd eindig een elk. Bafana kon gewen het. Ons praat nog ’n bietjie sokker en steek die sekelbos met Blitz aan die brand. Vlammetjies lek oranje-rooi met spiritspers punte om die stompe; die sterre skitter oneindig wit teen die swart uitspansel en in my palm glim die Windhoek goud.

Punda wen loshande 3-0!

Maar in die agterkamers van my kop knaag iets. Die grenspos. Ek is al voorheen by lughawens eenkant toe geroep. Vrae gevra. “Dit is omdat jy soos ‘n Columbian drug dealer lyk,” het ’n vriend die vertwyfeling al in die verlede by my aangespreek.

Die volgende oggend gaan die res sonder voorval deur. Almal behalwe ek en Elize. Ons moet so ’n rukkie wag. Dit blyk dat my voertuig nie op die sisteem is nie ...

“Is dit ’n import?” Huh? “Waar kry mens die kar se enjinnommer?” Ja, nou vra jy my ’n ding. Die polisieman is vriendelik. “Julle wit mense hou van kamp.” Uiteindelik is die SARS-vorms uitgesorteer en die Pajero wonderbaarlik tog op die sisteem.

Mosambiek. Bem Vindo!

Ons is in. Yeah! Jy kan sommer dertig meter verder al jou eerste 2M (uitgespreek “doish em”) koop. Tensy jy van Laurentina hou. En daar is drie soorte! Die rand is vier keer sterker as die Metical en ons ondersteun graag die plaaslike inwoners. 

Hiervandaan help ’n GPS tog. Tweespoorpaadjies. Kremetartwoude. Kronkels en klei. Beesmis en stof. Statte en jillende kinders. Vriendelike glimlagte, oop palms en ’n knik vanaf ’n dikwiel.  En natuurlik nog ’n Manica.

Die bier in Mosambiek is uitstekend.

Dit is reeds laatmiddag wanneer ons afkronkel Limpopo-rivier toe. Die nuus was oral dieselfde: Die rivier vloei te sterk – niemand kan deur nie. Ons wriemel met sawwe bande deur die dik sand en klim gelate uit. Die Limpopo lê soos ’n uitgevrete luislang tussen ons en die oorkantse oewer, waar die paadjie die ruigtes in kronkel. Vilankulos lê dáái kant toe. Die ompad lyk lank en swaar.

Dan, onverwags, sien iemand dit. Honderd meter stroomop sweef ’n bakkie soos iets uit die Ou Testament oor die rivier.

Eureka!

Ek het besluit om nie hier te noem dat Armand in die sand vasgeval en met ’n kinetiese tou uitgepluk moes word nie. Dit sou onregverdig wees, omdat hy die waentjie moes sleep en alles.

Nietemin.

Die man met die geprakseerde visserskuitplatform/‘pont  sê in suiwer Afrikaans hy vat enigiets teen seshonderd rand oor (ek het gestry tot sy ore tuit – dit blý R600) – net nie Toyota Cruisers nie. Ons moet alle bagasie uitlaai. Die ekstra batterye, yskas, jerry-kanne, tasse, kruideniersware, slaapsakke, tent ...

Dit voel amper soos by Tiger Wheel & Tyre. Die voorste wiele moet eers met die twee planke oplyn en dan versigtig tot op die vreemde, drywende, wankelende gevaarte. So begin die rit. Met stokke stuur vier gespierde jong manne die ding stroomaf en honderd meter verder ry jy goddank weer aan wal. Eers nóú begin jy wonder wat van jou bagasie. Die onderhandelinge met ’n ander entrepreneur besorg kinders en bagasie teen ’n addisionele honderd rand ook aan hierdie kant.

Kort voor die son sak, is die drie voertuie oor. Agter ons wag ’n groep van sewe voertuie om môre-oggend die rivier te kruis. Die adrenalien het ons nou so wakker dat ons aanhou ry tot twee-uur die volgende oggend. Net voor Mabote slaap ons sommer in die voertuie. Ek meen, wie is nou lus vir tent opslaan?

Net kinders kan klaarblyklik in enige posisie geslaap kry. Vyfuur maak ons koffie. Ons stoot aan. Die oggend is heerlik vars en dit is reeds heelwat warmer as die Republiek met sy winterlyf. Mopanieveld. Dik sand. Groen lower. Die mense raak meer. Strukture stewiger. Die Portugese was hier. Gebeure weef ineen. Iewers hou ons brunch; moet ek ’n jerry-kan in die tenk leegmaak; kom ons donker op Pomene aan. 

“My alternator het gegaan,” verklaar Dawie. Dis niks. Waarom bekommer oor die dag van môre?  Ons het immers vir vyf nagte op Pomene bespreek.

Spierwit sand en koel blou see, palmbome en ellelange, eindelose strande met besadigde branders. Advertensiemateriaal. Min dinge is nou lekkerder as om vyf dae lank op te staan net wanneer jy wil. Kinders wíl natuurlik met vakansie so sesuur opstaan ... Ons maak self krap gaar, eet pow, roei oor die lagune, snorkel in die see, lê leeg.

“Nou wat nou van die alternator?”

Vyf dae is om en my verstand het reeds die meeste onnodige denkprosesse laat vaar. Ek onthou darem basiese goed soos my naam en waar ek my beursie wegsteek. Volgens plan moet ons oppak en met die EN1 ongeveer 300 kilometer suid ry tot in Xai-Xai, waar ons vir twee nagte bespreek het.

Dit is darem nie asof ons hoegenaamd níks gedoen het nie. Ons hét die battery gelaai.

“Kom ons cruise en kyk hoe ver ons kom.”

Ons kom toe so honderd kilo’s. Vol battery uit my voertuig; sy pappe in myne. So gaat ons. Die weer het intussen onplesierig geraak en op ’n stadium reën dit nie meer nie – dit sous. Ek hoor dis half moeilik wanneer jy graag – soos die ander mense – jou ruitveërs en ligte wil aanskakel, maar terselfdertyd probeer om nie die battery pap te maak nie. Die ander gemors is die EN1. Niemand weet meer waar hy is nie. Party ry links; sommige sit in die modder vas; regs oor ’n wal, in die middel deur ’n slaggat, gaping in die middel.

Open season!

Iewers ry ons agter ’n klomp jongmense wat lekkergoed soos mieliepitte by die ruite uitskiet. Ek sê al die lelike Afrikaanse woorde wat ek ken.

So vyftig kilo’s voor Xai-Xai is die teerpad mooi en kan ons laat waai. In die donker. Die een met min ligte in die middel. Daai spietkop weet nou nog nie wat dit was nie.

Ons arriveer moeg in Montego. Die man in beheer van sake is klaarblyklik nuut en wil nie vrywillig sluk aan ons internet-booking en bewys van betaling aan die een of ander agentskap nie. Ons koop vir hom ’n bier en nooi hom vervolgens hartlik om die kwessie die volgende dag saam met die eienaar te kom opklaar.

Later is almal tevrede en twee dae later mik ons vir Parque Nacional Do Limpopo om Suid-Afrika deur Giriyondo binne te kom.

Maar nie voor ons eers in Chokwe stilhou vir ’n laat middagete nie. Musiek word om die beurt uit iemand se kattebak verskaf en ons het nie ’n idee wat ons by die kelnerin bestel nie. Dit smaak heerlik. Dagmar het op pad kleedkamer toe per ongeluk by die kombuis-area ingeloop. Sy vertel dit is maar beter dat ons toe reeds klaar geëet het. 

O ja, ons het die alternator op Xai-Xai laat regmaak. Die liggies op die paneel brand nog, maar hy laai.

In die Oorgrenspark loop ons ander reisigers raak. Hulle vertel dat iemand se Land Cruiser in die Limpopo-rivier geval het. Ek het voorlopig besluit Land Cruiser-bestuurders is die onbeskofste op die pad, so dit pla my nie.

Ook nie my buurman se laaitie se geblaas op sy vuvuzela nie.

Wel, nie meer so baie nie.

 

Klik hier vir kompetisie-besonderhede.