Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Langpad-storiekompetisie: Muzungu op ‘n Afrikabus


Piet du Toit - 2010-07-13

Ná derduisende kilometers op alle moontlike (en soms onmoontlike) vervoermiddels en paaie in Indië en Afrika oor die afgelope klompie jare het ek gemeen ek is alles gewoond en kan alles hanteer. Maar Afrika het die vermoë om jou onverhoeds te oorval en jou uitgelewer, weerloos en dikwels sprakeloos te laat. Die busrit tussen Yei in die suide van die Soedan en Kampala, hoofstad van Uganda, is ’n voorbeeld hiervan.

Ons Gateway-bus sou die Woensdagoggend stiptelik om 03:00 uit Yei vertrek. So net voor vier word die bestuurder opgespoor. Hy skop so gaap-gaap teen van die bande terwyl hy sy maag en kop beurtelings krap. Ons klim in en met ’n geknal en bolle dieselrook vat ons die pad, net so ’n uur of wat laat – glad nie ’n te slegte begin nie, meen ek.

Tot my verbasing is die bus nie eens halfpad vol nie, en eienaardig genoeg koek almal in die voorste paar sitplekke saam. Ek skud my kop en meen dis seker maar ’n kultuurding dié. Ek strek my behaaglik en dankbaar op van die agterste oop banke uit om verlore slaap in te haal. Binne die eerste kilometer buite Yei verstaan ek waarom almal voor in die bus sit, en met kultuur het dit geheel en al niks te make nie – dis ’n vorm van oorlewing! Die harde agterste vere maak van die agterkant van die bus ’n permanente trampolien. Met elke slaggat trek ek luglangs en as my sitvlak grondvat, skiet die volgende donga my in die lug op. Ná die vierde harde kennismaking met die kussinglose, klipharde bankie van die bus soek ek ook vinnig ’n gaatjie so ver voor in die bus as moontlik. ’n Paar gesoute busryers glimlag begrypend in my rigting toe ek langs ene Simon inskuif.

Elke nou en dan tuimel ’n plastieksak met ’n bol pap in, ’n aktetas, ’n radio, of ’n boks vol patats van die bagasierak af op my of van die ander passasiers se koppe. Maar niemand vind dit enigsins steurend of problematies nie, en veral nie snaaks nie. Nadat ’n besondere groot aktetas die derde keer op dieselfde man se kop geval het, het hy dit toe maar rustig onder die bank ingeskuif. Die eienaar van die tas, wat reg agter hom sit, het net goedkeurend geglimlag – dis immers nie sy probleem nie.  

Ons kom so teen 07:00 min of meer in een stuk by Kaya aan. Daar staan ’n soldaat buite so ’n mankementige geboutjie en almal klim uit en beweeg in sy algemene rigting. Ek wys my werkpermit en word deurgewuif. Die res van die passasiers skryf name in ’n boek en ons stap deur Oruba toe aan die Ugandese kant. Ek en die drie Soedanese studente saam met my is die enigstes met paspoorte. Die res stap paspoortloos die grens oor. Immigrasie by Oruba funksioneer egter eers van so rondom 08:00 se kant af. Ons doen maar die Afrika-ding van geduldig wag vir iets om hopelik die een of ander tyd te gebeur. Niemand raak opgewonde, mor of begin teen deure hamer nie. Niemand wil onmiddellik die hoof van die afdeling spreek of op een of ander reg aandring nie. Daar is egter wonderbaarlik ’n stel netjiese, skoon toilette. Ek vermoed dis ’n besondere luukse langs dié pad en verwyl die tyd behoorlik daar. Ook maar goed, want die volgende pitstop was eers omtrent ses uur verder!

Van Oruba af verander ons langafstandbus in ’n pendelbus. Vir elke man, vrou en kind langs die pad word gestop en hulle klim in, betaal en soek sit- of staanplek. Soos dit maar gaan, is “vol” ’n relatiewe begrip. Nadat al die sitplekke oorlaai is, word die staanpassasiers soos Weense worsies in ’n blikkie gepak. By elke boom en klip word net nóg passasiers ingedruk en ingeprop. Al die ekstra passasiers kry nie kaartjies nie; dis kontanttransaksies – heel waarskynlik die busbestuurder en sy trawante se drink- en rookgeld. Op die armleuning langs my sit iemand en so een of twee is min of meer ingedruk tussen my knieë en die rugleuning voor my. Nie dat daar veel spasie vir my knieë was om mee te begin  nie … Mens moet behoorlik by iemand toestemming vra om net jou eie kop te kan krap!

Van Arua af is dit ’n splinternuwe teerpad en die ekstra passasiers word progressief minder totdat die laastes net voor Pakwach afklim, waar ons die Murchison Falls Park binnery. Wat ’n ontsettende verligting! Minstens kon ons nou in vrede tot in Kampala ry, op ’n goeie pad en met genoeg been- en armruimte.

Ek en Simon kry nou kans om te gesels en vertel al ons stories vir mekaar. Hy werk in Yei, maar sy kinders is in Kampala op skool. Sy vrou het hom die vorige jaar ontval en nou hanteer sy oudste dogter die huishouding in sy afwesigheid. Hy is baie geïnteresseerd in Suid-Afrika en vra uit oor die land en sy mense. Veral die geskiedenis van die Afrikaners fassineer hom en hy luister in verwondering daarna.

Net buite Karuma gaan ons oor die Nyl en verby die indrukwekkende Murchison Falls. Nie ver daarvandaan nie kry ons ’n Nile Coach wat onklaar langs die pad staan. Ons barmhartige Samaritaanse busbestuurder vra wat fout is en bied terstond aan om soveel van die passasiers as wat maar kan in, saam te vat tot in Kampala. Dit was soos om te sê dat goud in die bus ontdek is. Al wat Nile Coach-passasier is, storm op ons bus af en almal probeer gelyktydig in met al hulle kinders en pakkasies. Totale chaos! As ek gemeen het ons was vol tot in Arua, moes ek weereens ’n kopskuif rondom die begrip “vol” maak. Dié slag was ons nou rêrig vol. En met ’n geknars van remme en ’n gekners op ons (my) tande vertrek ons met twee busvragte vol mense in een bus. In die vorige ronde kon ek nog met die nodige gepaste verwringing my kop krap; dié slag was ek redelik in die duister oor presies wie se kop waar is, myne inkluis!

Hier hou die goeie teerpad ook op. Vir die laaste 300 km tot in Kampala ry ons op ’n teerpad wat soos ’n gebombardeerde aanloopbaan lyk. Ons bestuurder raak nou ook so effe haastig en vleg vernuftig tussen die slaggate en slote deur. Die bus wankel en swaai met sy oorvol vrag en ons hou telkens asem op dat al vier wiele op die grond sal bly.

Ten spyte van die oënskynlike haas word daar steeds by elke dorpie of plekkie vir so ’n wyle gestop. Niemand klim af nie; jy kan net goed deur die venster koop. Ek en Simon is die soort van middelmanne om vir die staandes aankope te doen. Dit het ons telkens nogal goed besig gehou. Dit was tóé dat Simon ook begin met sy inkopies vir die huis. Eerste op sy inkopielys was lewendige hoenders. By elke plek bevoel en bekyk hy die hoenders en kibbel oor die prys. As die prys nie reg is nie en die bus begin wegtrek, gooi hy die hoenders so in die ry by die venster uit, tot die skellende argwaan van die eienaar. Elke dan en wan kry hy ’n winskopie en word die hoender, met sy vasgebinde voetjies, summier onder ons twee se voete ingeprop. Later lê daar so ’n stuk of ses spartelende henne onder by ons voete. As ek my voete so nou en dan net van posisie probeer verander, trap ek meestal ’n hen raak, wat dan ’n hele henne-kettingreaksie van ’n geskarrel, gewriemel, gevlerkklap en gekekkel van onder af tot gevolg het. Dan kry ek sulke effe gesteurde kyke van Simon se kant af. Ek mompel so soort van “askies” en probeer so stil as moontlik sit. Tweede op sy lys is pynappels. Laat ek byvoeg: Pynappels in dié geweste lyk eerder na familie van Upington se waatlemoene – hulle is nie klein nie. So ’n halfdosyn of wat van dié menere is ook gekoop en êrens tussen ons sitvlakke, voete en die hoenders ingedruk.

Soos ons Kampala nader, begin al meer mense afklim – iemand gee net ’n skreeu en die bus stop onmiddellik. In die paadjie langs my sit ’n groot Afrika-mamma, netjies aangetrek en baie welsprekend en vol selfvertroue. In ’n luide stem lewer sy in Engels kommentaar op alles en almal rondom haar. Sy laat niemand met rus nie en organiseer almal in haar onmiddellike omgewing. Op ’n kol is van die jonger manne wat voor in die bus sit, taamlik moeg vir haar en voeg haar goed in hulle eie taal toe wat sy nie kan verstaan nie. Sy is woedend en sê vir hulle: “We are all black Africans and we are one. We should support one another and not say bad things about one another. If you want to say bad things, you can say it to this muzungu” – en sy beduie hier na my kant toe – “not to a fellow African.” Dis tóé dat Simon my dag maak, opspring, oor my leun, sy vinger onder mamma se neus druk en verontwaardig vir haar sê: “This man is not a muzungu; he is an African.” Etlike minute lank was daar doodse stilte in die bus terwyl almal hierdie openbarende stuk inligting probeer verwerk. Mamma het haar hele wysie skoon weggeskrik en was die res van die rit sprakeloos.

As ek nou my agterstewe op die harde bankies moes deurstamp, ure lank stof moes vreet en verdrukking van ’n ander aard moes belewe om ’n ware “African” te word, dan was dit seker alles die moeite werd!

Klik hier vir kompetisie-besonderhede.