Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Langpad-storiekompetisie: 'n Dag in Bangkok


Tilla Diedericks - 2010-07-13

Kuier ons in die Ooste op ons eerste oorsese vlug. Ek en die man. Ons land op Don Muang International Airport. Iemand moet ons oplaai om ons na die Indra Regent Hotel te neem, waar ons tuisgaan. Die skuifdeure van die lughawegebou gaan oop en ek smelt soos ’n KFC-roomys in die warmste, bedompigste lug wat ek al ooit gevoel het – whap! in my gesig.

Ons pak uit en stort en geniet die lugversorgde hotel. Eet aandete, drink goor wyn en gaan slaap baie opgewonde. Môre is ons eerste uitstappie in dié vreemde wêreld.

Ek trek so min as moontlik aan, want sewe-uur in die oggend lyk dit al of ons uit die sauna gestap het. Reis per luukse bus na onder andere The Rose Garden, waar nie ’n enkele roos groei nie, en toe na The Floating Market.

Ons stop by die Market se "hawe" – ’n houtplatform in die middel van ’n rivier. Die platform is omring deur allerlei bote – wel, uitgeholde boomstompe met ’n enjin. Dit lyk soos my Electrolux-stofsuier wat uitgebrand het. Ons val in die skip in, ek en die man. Die roeier sit kordaat en wag vir ons om ons sit te kry. Ons vaar nie stadig of statig nie. Ons moer rivier-af teen ’n helse spoed. Ek wil nog sê: "Waar’s my vlerkies? Ek kan nie swem nie," toe spoed ons verby ’n likkewaan wat teen die wal lê en tan.

Mense wat in allerhande houthutte langs die oewer woon, gooi hulle wasgoed in die rivier terwyl ons soos Superman verby hulle woerts. Party was afnekhoenders en party skep teewater, als uit en in die rivier. Ek wou nog opgooi, toe is ons al by die eindpunt. Niks meer as nog ’n houtstellasie nie.

Ek klim bewerig uit die boot en rook twee sigarette op een slag. Een in elke hand. Ek bewe. Ek sweet. Nou nie meer van die hitte nie, maar van angs.

Oral om ons is dit allerpragtig mooi – bootjies vol mense wat vrugte en groente en die nene weet wat smous. Jy beduie vir hulle wat jy wil hê en ’n tussenganger bring dit wal toe. Baie prettig en als.

Op die stellasie cum hawe staan Oosterse meisies met lappe om hulle lywe gedraai. Hulle dans op maat van snaakse musiek en speel met slange. Ek gril. Ek stap versigtig en wyd verby die danseresse. Ek wil asseblief net ’n tissue uit my drasak haal om die ergste sweet in my gesig af te vee.

Ek vroetel in die sak, soek tissues. Ek hoor my man hier agter sê: "No, don’t, she will be scared." Wis nie wat aangaan nie. Ek staan nog so en sweet afvee toe ’n hees stem hier langs my fluister: "Hello lady, look what I’ve got for you."

Ek draai my kop na regs. Ek sluk my kleintongetjie in. My longe val plat en my hart beland in die Christiaan Barnard Gedenkhospitaal. ’n Sentimeter van my groen oë af en straight in my face is ’n luislang se kop! Met ’n tong wat so wip-wip en oë wat so roer. Die meisie met die lappe lag hartlik. "Isn’t it beautiful?" sê sy en streel die klam ding.

"O Gotta!" gil ek en hardloop na links; los my rugsak en my man net daar. Ek spin soos ’n hondsdol haas; hardloop in sirkels totdat my man my vang en vashou en troos. Die vrou met die lappe kom aangehardloop met ’n botteltjie iets.  "Give balm," sê sy vir Jannie. "Give balm – it relax!"

Ek snuif aan die balm. Gaan sit moeg op ’n bankie. "So sorry," sê die lappe. "Very nice snake; won’t bite."

Ek snuif weer aan die balm en drink twee Comprals. "Loop soontoe met jou blerrie slange!" gil ek op Afrikaans en vlug voordat sy weer naderkom. Ons eerste dag in Bangkok was ... mmm ... ietwat grillerig!

 

 Klik hier vir kompetisie-besonderhede.