Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Nuwe boeke | New books > Afrikaans

Nuut by Lapa-uitgewers


2010-07-13


Nuut by LAPA Uitgewers
dié Julie:

Karla Krullebol, ’n Hand vol sterre, Wonderlike Afrika, Vuurvreter, Reuk van die dood.

Klik op boekomslag en bestel hierdie boeke nou by Kalahari.net!


Kategorie: Kleuterfiksie
Formaat:
Sagteband; 210 x 280 mm
ISBN:
9780799346770
Prys:
R70



Klik en koop

Karla Krullebol
Skrywer: Theresa van Baalen
Illustreerder: Chris Venter

Karla Kriel met haar krullebol
hou glad nie van hare was nie.
Sy kam nie graag haar haarbos nie
en maak dit ook nooit vas nie.

Karla se ma is moeg gepraat. Daarom besluit sy Karla hoef nooit weer haar hare te was of te kam nie. Karla is natuurlik baie in haar noppies! Maar dan gebeur iets vreesliks – ’n vreemde, klein pienk mannetjie besluit Karla se vuil, deurmekaar hare is die perfekte plek om ’n heerlike partytjie te hou ...

’n Lekker lawwe, uitbundige rymverhaal wat kleuters se tone sal laat omkrul van lekkerkry!

Die skrywer
Theresa het haar eerste stories as kind reeds op haar ma se Olivetti-tikmasjien getik, en niemand was blyer oor die uitvinding van die rekenaar as sy nie! Sy woon reeds byna twintig jaar in Port Nolloth, waar die omgewing en die mense haar inspireer. Sy is ‘n kunstenaar en skrywer, wat ook gereeld by die skoolbiblioteek vrywillige diens doen. Sy is versot op kinderboeke omdat daar soveel ruimte is vir kreatiwiteit. Haar werk sluit in Aspris Krokkedis.

Die illustreerder
Chris woon in Kaapstad. Hy studeer grafiese ontwerp en verwerf sy graad in 2008 met meriete. Hy is tans ’n vryskut-illustreerder en sing ook in ’n plaaslike koor vir jongmense. Hy eksperimenteer graag met verskillende mediums en style in sy werk. Sy werk sluit in Middernagfees.

Karla Krullebol is beskikbaar by toonaangewende boekhandelaars asook direk vanaf LAPA Uitgewers. Kontak LAPA by 012 401 0700 of besoek ons webblad: www.lapa.co.za.


Kategorie:
Liefdesroman
Formaat: Sagteband; 129 x 198 mm
ISBN: 9780799347074
Prys:
R99,95

Klik en koop


’n Hand vol sterre
Skrywer: Bets Smith

’n Hand vol sterre is ’n heruitgawe van Bets Smith se eerste romanses, Die lyfwag en Die verste ster.

Die lyfwag
Lourens Marken is ’n vleier en ’n vrouehartdief … met ’n misdaadrekord. Wat soek hy werklik op die berg saam met die span wat in die TV-realiteitsoorlewingstryd om die miljoen rand meeding? Net Ika Freylinck weet sy het haar vriendin se plek ingeneem, maar sy het ’n probleem: Ryna se pa het ’n lyfwag vir sy dogter saamgestuur, maar Ika weet nie wie dit is nie. Is dit Lourens? Dié man wat Ika se gevoelens so omroer, wat haar irriteer, maar tog fassineer?

Die verste ster

Mieke weet sy moet haar verspotte tienersimpelgeid hokslaan. Sy’s net navorsingsassistent vir Ian McLachlan, astrofisikus, half verstrooide wetenskaplike. Én dertien jaar ouer as sy. Maar sy’s besig om hopeloos te val – óf na die son, waar lig en warmte is, óf die donker duisternis in. Mieke besef deeglik dis sý wat by Ian toenadering uitlok, wat hom stilmaak wanneer hy teëstribbel. Sy moet wegkom, ver weg van haar liefde én die vernedering, die donkerte in ...

Bets Smith
Bets het begin skryf omdat sy aan haarself wou bewys sy kon die storie wat binne broei, op papier kry. Deesdae skryf sy omdat sy glo baie grootmense vandag hunker na die sprokies van hulle kindertyd met gelukkige eindes waar die goeie die slegte oorwin en die held en heldin by mekaar uitkom. Omdat sy met storieskryf die karakters en gebeure kan manipuleer, probeer sy geloofwaardige sprokies vir grootmense skep.

Sy is voltyds onderwyser wat letterlik en figuurlik in die boendoe van Mpumalanga se Laeveld bly, ’n omgewing wat skeppingswerk inspireer.

’n Hand vol sterre is beskikbaar by toonaangewende boekhandelaars asook direk by die uitgewers. Kontak LAPA Uitgewers by 012 401-0700 of besoek ons webblad: www.lapa.co.za.

Kategorie: Niefiksie
Formaat: Sagteband; 210 x 260 mm
BLADSYE : 192
Prys: R200
ISBN: 9780799346718

Klik en koop

Wonderlike Afrika (Hersiene bygewerkte weergawe)
Skrywer: Dawid van Lill

Wonderlike Afrika: die vasteland met die grootste woestyn en die langste rivier; grootste landsoogdier en die grootste voël; hoogste vrystaande berg; tweede grootste varswatermeer; tweede hoogste waterval ...

Wonderlike Afrika is ’n boek wat ’n bondige oorsig gee oor Afrika, die lande, mense en agtergrond. Gaan op reis deur die Afrika-kontinent; lees oor kulture, musiek, klimaat en verskeie lande in Afrika se samestelling; en ontdek allerhande interessante feite. Dit is bedoel vir lekker lees en opsoek van feite, vir deurblaai en verwonder aan die kleurfoto’s, vir meer en meer weet oor die wonderlike vasteland waarop ons woon: wonderlike Afrika!

Wonderlike Afrika: die vasteland met die meeste onafhanklike lande, wat elkeen sy eie storie te vertel het. Party is maar so groot soos van die wêreld se groot stede; ander is reuse wat oor miljoene vierkante kilometer strek. Elkeen van die 53 lande – met sy vlag, landswapen, geldeenheid, tale, spreuke en ander algemene inligting – is in die boek opgeneem.

Wonderlike Afrika is die langverwagte bygewerkte en hersiene uitgawe van die immergewilde boek wat in 2005 verskyn het.

Dawid van Lill, beter bekend as die vasvra-kampioen van Suid-Afrika, was 12 jaar lank ’n uitsaaier, maar hou hom deesdae besig met Ek weet (’n weeklikse vasvraprogram vir skole) en ook die opstel van vasvraprogramme vir radio en televisie.

Wonderlike Afrika is ook in Engels beskikbaar as Amazing Africa.

Ander titels in die reeks sluit in:
Wonderlike diere van Suid-Afrika
Amazing animals of Southern Africa
Wonders van Afrika
Wonders of Africa
Mensgemaakte wonders van Afrika
Man-made wonders of Africa.

Wonderlike Afrika is beskikbaar by toonaangewende boekhandelaars asook direk vanaf LAPA Uitgewers. Kontak LAPA by 012 401 0700 of besoek ons webblad: www.lapa.co.za.

 

Kategorie: Fiksie
Formaat: Sagteband; 129 x 198 mm
Bladsye: 312
ISBN: 9780799346602 Prys: R150




Klik en koop


Vuurvreter
Skrywer: Leon van Nierop

Die vermaaklikheidsbedryf bereik in 2009 ’n laagtepunt. Baie produksiehuise speel bankrot en kameramanne sit sonder werk. Die pryswenner-kameraman Henno Barnard bly op ’n rivierboot op die Choberivier duskant Kasane in Botswana, waar hy insetsels maak vir ’n Suid-Afriaanse TV-program wat skielik eindig. Hy moet nou ander bronne van inkomste vind.

Die bestuurder van ’n TV-produksiehuis, die beeldskone en gevaarlike Kim Naude, reis na Botswana om hom as haar eksklusiewe kameraman op te lei. Selma, die medebestuurder van ’n Lodge in Kasane, versoek hom ook om haar met ’n kortrolprent te help. 

Maar dan word verskeie moorde in die omgewing gepleeg en besef Henno dat almal nie is wie hulle voorgee om te wees nie. Boonop is iemand agter die stories aan wat hy nou vir televisie skiet en hulle nie sal huiwer om hom uit die weg te ruim om die beeldmateriaal te kry nie. En dan kry hy ook geheimsinnige besoeke van die magiese en skaars spookvoël ...

Leon van Nierop is ’n bekroonde skrywer wat reeds 23 vollengte-romans geskryf het, asook verskeie radiovervolgverhale, TV-reekse, dramas, rubrieke, boek- en rolprentresensies, kortverhale en akademiese boeke. Hy het verlede jaar die Caxton-toekenning gekry as beste skrywer van die jaar, en sy drama Twyfelberg is met die tweede prys vir RSG-SANLAM se radiodrama-skryfkompetisie bekroon. Van sy bekendste TV-reekse sluit in Ballade vir ’n enkeling en Wolwedans in die skemer. Hy het die kykNET-sepie Villa Rosa geskep, asook die trefferradioverhaal Stralerjakkers (waarvan daar ook ’n resepteboek uitgegee is). Van sy bekendste romans is Plesierengel, Adrenalien, Sielsmokkelaar en Paradys.

Vuurvreter is beskikbaar by toonaangewende handelaars asook by LAPA Uitgewers. Kontak 012 401 0700 of besoek ons webblad by www.lapa.co.za.



Formaat:Sagteband, 152 x 222 mm
Bladsye:329
Kategorie: Speurroman
Prys: R130
ISBN: 9780799342406


Klik en koop

Reuk van die dood
Skrywer: Riana Mouton

Reuk van die dood
Iemand is besig om jong vroue in Gauteng te ontvoer en te vermoor. Die moorde is onheilspellend, want die slagoffers word gemartel en uit woede vermoor. Junior Scheepers is die speurder wat die moordenaar moet vang, maar hy het probleme van sy eie. Sy lewe val uitmekaar na sy egskeiding en indien hy nie daarin slaag om by sy eie donkerte verby te kom nie, gaan hierdie moordenaar nog heelwat skade aanrig.

In die tradisie van die meesters van misdaadfiksie soos Ian Rankin, Deon Meyer en Faye Kellerman, verskyn Riana Mouton triomfantelik as die eerste vroulike Suid-Afrikaanse speurromanskrywer met ‘n uiters spanningsvolle debuut. Die tydsberekening is perfek, want die Suid-Afrikaanse misdaadfiksie-genre is tans geweldig gewild en word gereeld in resensies, artikels en forums bespreek.

Oor die skrywer
Riana Mouton is ‘n voltydse skrywer en woon tans vir ‘n seisoen in Whangaparaoa, Nieu-Seeland, waar sy navorsing doen vir haar volgende roman.

Reuk van die dood is beskikbaar by toonaangewende handelaars asook by LAPA Uitgewers. Kontak 012 401 0700 of besoek ons webblad by www.lapa.co.za.