Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Langpad-storiekompetisie: Vodka vir die siel


Anneke Pelser - 2010-07-13

Om te shkink of nie te shkink nie ... Dít ish die vraag.

In Moskou is daar twee dinge wat jou sal laat val dat jy hik: sneeu en vodka. Maar as jy só koud kry dat jy begin shtik en shtotter en jou bloed shtol, vat ’n kanshie!

Shluk ’n shopie.

Klink daarop en bottoms up! Net een hap. En SÍT die glasie met mening op die toonbank neer.

Van vodka, so vertel die Russe my, kry mens net twee tipes: goed en baie goed! Dié “klein water” is al langer as duisend jaar deel van hulle geskiedenis.

Napoleon se manskappe het niks anders nie as net arms en arms vol vodka teruggevat Frankryk toe – in twee rye spore.

Volgens Russiese vodkadrinktradisie kom heildronke in drieë. Daarna nóg drie en nóg drie. Om enigsins ’n kans op oorlewing te hê, moet jy “hard” eet tussenin. En mens kan deur iemand se oë tot binne-in sy siel kyk terwyl jy ’n heildronk op hom drink.

Hierna kom die grappies vanself – onder die belt, bo die belt.

Die vodkabelt bestaan uit die Nordiese state, die Baltiese state, Pole, Belarus, Rusland en die Oekraïne. Al die lande wat tradisioneel ’n groter vodka-inname het as ander lande.

Dis seker ook nie toevallig dat dit juis die mees noordelike, koudste-wintertye-lande op dié geduldige aardbol van ons is nie.

Toe ons gisteraand afstap na Ou Arbatstraat toe, waar dit krioel van toeriste, is dit weer snerpend koud. Net voor ons Boerebloed onherstelbare skade optel, stap ons die naaste snuisterywinkeltjie binne.

Toe die toonbankassistent begin benoud raak dat ons niks gaan koop nie, haal sy ’n bottel vodka en ’n paar glasies onder die toonbank uit. Sy skink vir almal wat naby staan.

“Nazdarowja!” Gesondheid!

Met toegeknypte oë sluk ek één geweldige sluk. Wie wil dan ook nou mens se siel so voor almal staan en ontbloot?

“It shlips light thlough,” spot ek manhaftig.

My vasgevriesde are begin soos kokende lawastrome bruis. Die warm pelshoed waai eerste. Toe ek soos ’n katlagter begin lag en rooiwarm lawaklippe die ruimtes inskiet, weet ek met sekerheid: Hiér moet ek uitkom! Hik.

Vergeet van matroesjka-poppies en fabergé-eiertjies – sy soek my geld! Hik.

Buite is dit snerpend koud, maar die pas ontdooide are jubel en juig.

Van één ding is ek seker: Hiér kan ek nie gaan stilstaan nie, want dan is standbeeld-vasvries soos Lot se soutpilaarvrou my voorland. En my ongeoefende vodka- leopard crawl is te afskuwelik vir woorde.

Dan liewer die Moskou-skuifel.

Om die draai by die stasie lê oompie Drankasem opgekrul – beanie laag oor sy ore afgetrek en ’n lang bruin jas styf om sy boude en bene gevou. Hy’t baie grondpad geloop, dié oompie. ’n Glimlag op sy drankbenewelde, gekreukelde gesig vertel van droomwêrelde vol goudgeel sonlig. Van oorvloed geld met ’n warm bed. Laat my dink aan Oumatjie wat ook flessie gevat het en toe metro gery het.

Halfpad op pad huis toe val my oog op nog ’n klein, treurige bondeltjie eenkant op die muurtjie voor die duikweg. Sannie Slapoog. Moederloos beskonke.

“Noem my wat jy wil – gee my net ’n bietjie vodka.”

Waar slaap sy vanaand? wonder ek. Voor môreoggend sal haar oogwimpers tieng-tieng afbreek soos bevrore stalaktiete.

By die wegneemete-karretjie voor die woonstelblok se ingang koop ons twee styf opgerolde broslekker varkvleis-schwarmas wat halflyf in ’n plastieksakkie ingedruk is om die mayonnaise-en-salsa-souserigheid op te vang.

En “dva voda bez gaas, pazhalshta.” (Twee water sonder gas, asseblief.)

“Nazdarowja,” sê ek.

Nazdarowja!

 

 

 Klik hier vir kompetisie-besonderhede.