Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Langpad-storiekompetisie: Staning


Johann de Jager - 2010-07-13

Aankoms, aanstons by die staning, reeds binne sig in fluoor-halogeenwoestynlig van die sakson, nog skroeiend – selfs teen die laat lae helling gekantel – trek momentele realisme uit daelange hallusinasies. “Nog anderhalfuur!” skree die roeteroeper, sy stem ’n karinkel. Die vrome vroue trek hulle sluiers af, ululeer aalelujas. My reisvoogde is Kopte, Christene in ’n Dervisjgebied. Hoe anders kom ’n wit suiderling oorland lewend deur die Sahel; ons vir wie die Kalahari, Kaokoveld en Karoo woestyne is tot ons die diep Saharador die eerste keer te sien kry, en sien daar leef mense daar, hoewel in transito – ewige transito, ambulantes. Die wêreld is ons woning nie; ons reis maar net deur. My reis is slegs fisies ’n reis; geestelik ’n allegorie van die siel se strewe na uitkoms, die inkubasietye se einde as die bo-mandibel van menswees soos ’n neushoring die dophuls oopkraak.

En Wadi Salaam doem uit diep, indigo nagvertes op, soos net in die onmeetlike woestyn moontlik is: Dag, waar jy in lang skadu’s staan; lig, soos ’n wit strand; en ver vorentoe diepblou nag soos ’n see: fluwelig, poeierig, soos die donker kolle op ’n pou-oogmot, met die geel flikkering van die eerste vure bestippel. Wadi Salaam, die dal van vrede; soos die siel uit sonsteek van hongertes en sondes en sugte aan die einde van die driedaagse skof deur die Sahel ook die lewensreis mag verwag om te wees.

Die roeteroeper vertel later by die ligtende, wit, rooklose vuur dat ons nou die diep kom van niks se einde bereik het. Wadi Salaam. Hoe ver agtertoe lê rustelose jeugdrif-en-drang soos Fort Lamé en die diep kom van die ongenaakbare Bodele-depressies nie; Marsoek iewers voor, as die roeteroeper reg gekoers het. Waar lê Timboektoe nie, en die Niger, met sy laaste water op die westrajek? Waar kruis die karavaanroetes van gelowiges in die mens as spesie se oorlewing? Mense, bereid tot sterwe, met die hoop op die ewige karavaanserai. Kruise, ’n kruispad – Christene!

“Van môre af daal ons heelpad na die kusstreke van Alexandrië, al was ons in die middel van die groot depressie lank laer as seespieël,” sê die roeper op sy singerige manier, soos die woestynwind snags deur puimporieë van waaisand-gebeeldhoude dagsome en kwartsriwwe. “Nou kry ons oases langs die roete, terra firma met die sandsee al verder terug. Hier is mense, lewe: Berbers, Tuaregs, Arabiere by palmeilandjies met hulle negosie en diere.”

Aaa vir die einde, wat soos Wadi Salaam sal kom; die einde, wanneer die allegorie ’n bedevaart word; ’n opvaart, soos Hy wat ons aanbid eens op die voordek van ’n stapelwolk – sy passaatskip – onder bollende hoogwit seile die bloute bevaar het: excelsior, al hoër! En hier bid ek, nuweling van die geloof saam met die antieke eerste wat lewend in die Kopte figureer. Kan die gemaklike lugversorgde paleise wat ons kerke noem, ons charismatiese vernuwingsteologie, nuwe reformasies, ons strydende dogmas, woestyne só oorleef soos hierdie kaiing-Kopte sonder teologie – net God?

Wadi Salaam. Hoe lank nog die hallusinasie? Die Kopte teemsing hulle aalelujas. Ons is lewend deur die Sahelreis. Wat kan nou nog kom?


Klik hier vir kompetisie-besonderhede.