Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Langpad-storiekompetisie: Sepiarit na groen heugenisse


Johann de Jager - 2010-07-13

“… dan soek ek in die maanlig al die mooiste plekkies uit
waar ek klei-osse gemaak het as ’n kind.” Toon van den Heever  

“Platteland” het ’n ander betekenis in die Hoëveld as byvoorbeeld in die Karoo of Springbokvlakte. In “Karoo” is ’n stil platheid soos ’n pan roerlose staanwater, vlak by alles verdamp. Nogal ’n naam wat hulle daar sou kon gebruik soos ander sulke beskrywendes: Verneukpan, Grootvloer en Hakskeenpan – dalk die Achilleshiel van dorstiges? En dan Allesverdamp nou, sou hulle nuwe name oorweeg.

Maar ry jy deur die Hoëveld, weet jy dis meer ’n wydheid sonder obstruksie vir die oog as platheid; die blote platlê van ’n stuk aardbioom soos ’n koggelmander op ’n klipplaat, plat om maksimum veloppervlakte aan die wintersonnetjie bloot te stel; sy lyfie uitgerol soos deeg vir plaatkoekies.

Só dink die man, die reisiger, wat suid-suidoos ry: Heidelberg verby, Balfour, Standerton oor na Volksrust en Ermelo. Hy sien weer ou, bekende bakens ná dertig jaar, en soek na ander wat verdwyn het. Lees weer prikkelname soos Tweedronk en De Emigratie – selfs Teaks End om te herinner dat Engeland se bloedspoor ook hier lê. En niemand het dit in die Afrikanerdae verander nie; daar was toe nog ’n soort eerlikheid of integriteit wat nou blykbaar verdwyn, want hy sien vreemde nuwe name, en by sommige voel hy ’n venyn aan as hy weet dat dit ou bestaandes waarmee hy grootgeword het, vervang. Hy vermoed aggressie, haat, ’n laer mentaliteit as van beskaafdes wat selfs die onaangename geskiedenis bewaar omdat hulle weet dit kan nie deur naamplakkertjies uitgewis word nie. Hoe lank voor al die heraldiese en heroïese Afrikaanse straatname uitgewis is, en net die Teaks Ends nog langs die nuwe swart name bly staan? Bou dit nouubuntu en simunye, of sluimerende wederhaat? Elke dorpie waardeur hy ry, het sulke Boerename – elkeen ook ’n Kerkstraat, wat dan seker nog vervang sal word om die ware karakter van die struggle te vertoon wanneer dit Moskeestraat word, of dalk Sjebeenstraat vir dié wat nie eens godsdiens het nie en agter die “sekulêre” staat skuil. Humanisme?

Ag nee wat, dink hy, waar is my geloof dan nou? Hy skud die gedagtes van hom af en skryf in ’n notablok: Die Hoëveld is eerder ’n deinende tog kalm diep see met die kleur van Skotse whiskey in ’n deursienglas, of dié van aardjuwele: tieroog en travertyn hier en daar. Mens sien daar altyd ver, maar soms sien jy amper oneindig ver as jy op die witwaterskeiding se hoogtes uitkom, of op die platorand wat afgronde word waar die Hoëveld bo ophou, maar van onder af berge is, pieke. Só is dit met die nuwe en ou regeerders van die land ook, dink hy, dieselfde ding uit ander hoeke gesien, kry ander waardes en vertolkings. Holisme was ’n Smutsgrappie as dit by politieke konsekwensies in Afrika kom.

Om ver te sien van die waterskeidings af is soos om ongemerk met hooggety iewers aan land te kom: Jy sien soveel dieper die binneland in en maak nuwe ontdekkings. Ja, dis ’n plek vir verrassings, selfs ná dertig jaar. Ver en helder lê die ooptes, die wydtes van die golwende goue see in skakerings van droë mos se pienk, en oker; ’n winterakwarel met ’n palet van warm kleure voltooi: pienk en taan, pienk en sepia, soos ou foto's - ’n teëbeeld vir die termometers se bibberende verhaal. Die rooigras en ramshoringkweek lê asof deur ’n landskapsargitek gekontoer vir ’n korporatiewe kompleks wat daar sou kom, maar toe liefs nooit gebou is nie om die gewydheid ongeskonde te behou, die groot Skeppergees nie te steur in sy voortgaande handewerk nie.

Minera, Zuidvaal, Zo-als-hy-lyk, Bloukop. Hy ry suid-suidoos. Ver lê die linte ylblou berge wat oor die horison, periferie van die Hoëveld, uitsteek. Daar speel miswolke soos lammers op die blou kantele – blou leiklipgrafstene, onthou hy ’n ou gedig – en dryf statig in strata gestapel soos laagkoek of outydse jodetert, waar elke lagie die sonkleure anders weerkaats soos die intieme binnekonkaaf van ’n pêrelmoerskulp, perserig – pastelkleure – rooierig, mosgroen in teenstelling met die pienk van die droë briofiet soos die voorgrondbulte naby Beginderlyn en Familiehoek. Konserwatiewe, goeie mense was eens hier. En daar iewers in die pastelwolkies lê die bergafpas van Kalkoenkrans. Kalkoene op kranse? het hy gewonder as kind. Nou wonder hy of dit die rooikop‑ bald ibis of rare wildekalkoen kan wees wat daar vernoem is. Rara Avis, rare voël, is die digbundel van ’n jonger Marais as die bekende Eugene wie se “Winternag” tans een eeu oud is, dink die man.

Sy reis gaan voort. Hy ry nou noord-noordoos, en dan lê Beginderlyn daar soos ’n albino dinosourus in die rooigras, die ou, bleek sandklipbrug uit die ZAR se dae oor die boloop van die Vaal met nou ’n groenspaanplaket wat aandui dat dit ’n nasionale monument is, nog deur SJP Kruger laat bou. Snaaks, die koperplaket is nog nie uitgebreek en as skroot verkoop nie. Selfs Kruger word vandag  as “apartheidsimbool” gesien, al was hy onskuldig aan dié produk van Cecil John Rhodes by Glen Grey en reeds dood by die latere weergawe daarvan wat tot ’n “Barthomeusnag” in die Parlement gelei het om die gees daarvan in pre-Tsafendas- en post-Tsafendas-eras te verdeel. Praat van intelligensie, dink hy, en teken aan: Mens draai by Uitspanning se outentieke plaaswinkel met die hoë, spits daknok voor die klompie nog hoër, stofbepoeierde, bruingroen bloekoms af. Nee, te veel woorde, dink hy, en wil doodtrek. Ek sal dit anders moet stel, minder pleonasties en dubbele betekenisse uithaal dat “kundiges” dit nie as toutologies afmaak nie. Of, slaak hy, ek kan hulle opinies in hulle peetjie stuur en ’n slaggie hartskryfsels pleeg; vertel van die sielsontroering wat skryfwette minag net soos hulle despotiese makers, en vertel van Uitspanning, nou ’n pleknaam wat herinner aan die dae toe daar trekboere was wat van die Hoëveld af met groot troppe skape winterveld toe, laeveld toe, getrek het. 

Hy onthou die naam Pampoenkraal onder die berge, Slangrivier oor, aan die voet van Hlangapisi. Vergane romantiek? Oom Koos Coetzer op sy sweetvos wat kom staning soek by oorle Pa: oorslaapplek vir een van die voorste troppe, en sommer vir môrenag en oormôre ook vir die agterste troppe wat nog aankom. Oom Koos wat te perd koördineer, heen en weer ry om die troppe te spasieer en hulle aankoms by die uitspannings – amptelike kampeer- en uitspanplekke langs die trekpaaie voorsien – te kontroleer.

Só ’n trek het dae lank geduur. As die eerstes al op Pampoenkraal aankom, trek die laastes eers in die Hoëveld by Springbokfontein weg. ’n Donkiewa met negosie het elke trop vergesel. Donkies loop dieselfde spoed as skape, ’n ideale simbiose, en siekes en swakkes wat agterbly, word opgelaai en gemerk vir natuurlike seleksie later by opteling. Donkies het klaarblyklik nooit siek geword nie en was so betroubaar soos dié mense in die land wat ander mense uit die vry en groter trop moet dra en, in tuie gespan voor ’n negosiewa, stil en al stuiwend en stampend agterna kom.

’n Lekkerte, onthou die man, was die krummel-putupap, kaboemielies en blouerige dlubu-kaboebone, ’n soort grondboontjie wat die Zoeloes met ’n vleisshebatjie geëet en met die kinders van die staningmense gedeel het, soos ook hulle stories oor vergane glorie. Só het die wit kinders Zoeloe leer praat soos klein Zoeloetjies, en op hulle beurt van die plaaskombuis se boerbrood, dik met varkvet gesmeer en gesout en gepeper, vir die Zoeloes gebring.

Die man onthou hoe daar elke jaar onder die berge gebrand word as die skape weer terug is in die Hoëveld vir die somer, op so ’n skaal dat die rook oor die platorand opwaai en dit in die Hoëvelddae lank dynserig is van soet welriekende graswierook. Die veldbrande het alle parasiete doodgemaak, ou vrot gras veras en ’n nuwe spens vir die trekskape se volgende winter geskep. 

Die man sug, en hou weer op ’n skotige uitsighoogtetjie stil, skink koffie, eet beskuit en maak nog aantekeninge in sy blok voor hy weer die sleutel draai en sy regtervoet laksman laat speel om die heugelike verbintenis tereg te stel.



Klik hier vir kompetisie-besonderhede.