Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Langpad-storiekompetisie: Spitsverkeer


Gerrie Odendaal - 2010-07-13

Sondagmiddae het Patrys se ma en pa agter die slaapkamerdeur verdwyn om ’n uiltjie te knip. Dan moes niemand aan daai kamerdeur klop nie ...

So het Patrys eendag van verveeldgeit die Ford se sleutels gevat en in die garage agter die stuurwiel ingeklim. Geoefen hoe om met daai hefboompie te dim en te bright en in sy verbeelding ver paaie gery ...

Toe die tyd kom vir Patrys om sy bestuurslisensie te kry, kon hy dim en bright saam met die beste van hulle. Die Ford Fairlane het syne geword en hy was reg vir die grootpad. Reg vir ’n grootse avontuur. Reg om saam met vriend Jankoos in Oos-Londen te gaan rugby kyk. Suid-Afrika teen die Leeus. Lekkerder as lekker vir iemand wat so lank oor die grootpad gedroom het ...

Hy was reg. Jankoos was reg. Die Ford het gevlieg en gewieg oor die aarde.

Hulle het die 120 kilometer tussen Cathcart en Oos-Londen maklik gery. Dit was die vroeë 70’s en die pad was stil. Soos altyd. Min karre. Lemoene vol brandewyn gespuit. Brandewyn in die Coke ... ’n vrolikheid en vryheid uit ’n ander wêreld ... en die nuutjie van kat-ogies op die snelweg.

Elke vyf meter was daar een.

“Interessant,” het Patrys gedink. “Ek wonder waarvoor hulle die goed ingesit het?”

Die gedagte aan dié nuutjie is gou vervang met die opgewondenheid oor die rugby en die saligheid van die brandewyn wat sterk begin trek het ...

Die rugby was ’n belewenis. Die Springbokke se oorwinning is behoorlik gevier.

In elke moontlike kroeg moes eers ’n heildronk gedrink word. Wie wil nou huis toe as die gees jou so beet het?

Uiteindelik het Patrys weer die lang pad huis toe gevat.

Maar daar was moeilikheid ...

Skielik was daar honderde karre op die pad. Patrys het gedim en gebright soos nog nooit vantevore nie – so elke vyf meter.

“Nee, hel, Jankoos, nou draai ek om! Dis dan nou spitsverkeer! Nou loop slaap ons op die naaste dorp!”

Eers die volgende oggend het hy die nuwe kat-ogies onthou ...


Klik hier vir kompetisie-besonderhede.