Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Langpad-storiekompetisie: Is dít hoe die KGB lyk?


Anneke Pelser - 2010-07-08

“Kom ons maak die beste van vandag, want môre val ons miskien vas in die sneeu.” Só lui ’n ou Russiese spreekwoord.

Vir die sneeu kan ek nie meer wag nie, al val ons dan letterlik vas. Om darem die grys en dooie landskap in ’n spierwit sprokieswêreld van duisende kleure en weerkaatsende liggies te sien verander, sal die moeite werd wees.

Oor probleme van gladde ys in die straat sal ek my later bekommer.

Daardie renostersnot-gladde ys wat vorm as die dag se sonnetjie die sneeu net so effentjies gesmelt het en die waterigheid dan later weer verys – dis agterkop-eerste-val-dat-jy-hik-gevaarlik!

Toe ons twee weke gelede op Domodedovo-lughawe aankom, het die andersheid en grysheid my soos ’n ystervuis tussen die oë geslaan. 

Grysgroen mure, grys doeanehokkies.

Van voor af het ’n uitsonderlike lang man, lang swart jas met ’n Paul Kruger-hoed, verbygestap gekom. Flappende jaspante.

“As dít darem nie die KGB is nie …!” het ek gedink.

Dit was net genoeg om my daaraan te herinner dat ek my aan die koue boonste uithoek van die aarde in Moeder Rusland bevind.

In die huurmotor op pad middestad toe het ek my vergaap aan die plate spierwit hoëstambome wat in moerasagtige grond soos duisende voetsoldate op aandag staan.

Daar was ’n vae opgewondenheid in my lyf oor die andersheid van die plek. Dat die opgewondenheid plek sou maak vir lyfseer oor die lendelam bed waarvan die twee matrasse soos ’n toebroodjie dubbel vou as ons op hom gaan lê, het ek eers later uitgevind. ’n Gaar matras bo-op ’n ander gaar matras maak nié ’n goeie matras nie. Net dubbel gaar!

Laat vanmiddag het die sneeu aanhoudend in ligte veeragtige vlokkies begin val. Binne ure was die wêreld om my spierwit en seepglad. Die sneeu was vanjaar laat en November 2008 was tot dusver die warmste in jare.

Seweuur het ons vinnig afgestap na die inheemse eetplekkie onder op die hoek by die metrostasie. Verfrissende, koel sneeu in my gesig.

Kliengelieng het ek die voordeur oopgestoot – ingestap in ’n knus, gulhartige, warm eetkamer.

Die restaurantjie is besig. Warm, romerige groentesop, ghoelasj, stroganoff, koolpakkies, pelmeni (pastapakkies met frikkadelletjies in) en nog baie ander stomende geregte het die koue vinnig uit my ledemate verdryf.

Later, toe ons weer pad vind tussen die krioelende miernes van bedrywighede deur, lê die spierwit donskombers uitgestrek.

Skuins voor ons het ek die twee parkiehonde gewaar – die een só kreupel en stadig dat sy rooibruin hondejas vol sneeu was.

Whity het haastig so ’n paar treë voor Rusty uit geloop en dan gaan staan, omgedraai, geblaf en sy stert blý swaai.

“Kom jong, kom!” het hy geblaf. “Jy kan nie daar bly staan nie – ons sal vasval!”

Half mismoedig het ek straataf gedraai. Die lewe gaan aan, ek weet, maar waar moet dié twee vanaand slaap?

Toe ons in die sitkamer instap, bewe my selfoon.

Johannesburg spoel al weer weg!

’n Akute verlange na die Hoëveldse blitse en donderstorms laat my van voor af besef: eenmaal ’n Boer, altyd ’n Boer!

Sneeu is mooi.

Maar dis nie sneeuvlokkies in my bloed nie – dis doringboombosveld, wydverspreide donderbuie en die reuk van vars omgeploegde rooigrond!

 

Klik hier vir kompetisie-besonderhede.