Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Langpad-storiekompetisie: Zoeknog, Violet Bank van onder af


Johann de Jager - 2010-07-08

Daardie bloue berge van die onderwêreld darem onder die platorand – “eskarp”, wil ek soms sê, want dit eggo die woord “skerp” tot amper ’n fotobeeld van die kantelende afgronde by Graskop, Venus, Kowyns en ’n bietjie verder aan Marieps. Mense wil altyd van bo af op die strekkende panorama afkyk, waar die laeveld stomend deur lang somers lê. Daardie blou berge haal iets uit my soos water delikate kleur en geur uit teeblare haal, maar dan moet jy die pas afry Hazyview en Bosbokrand se kant toe. Berge moet mens van onder af sien. Want niemand kan ’n berg oorwin nie. Die gevoel om as oorwinnaar bo te staan, is vals. Nee, dit vernederig jou as klein deeltjie van die skepping.

Die lang lang vlaktesomers doer onder laat mens wonder of daar nie ook ’n naam soos Sonderwinter moet wees nie – die donker klowe moes al iets soos Fluweelskadu's geïnspireer het, en die dartelende bergstrome kon iemand al aan Borrelwaters laat dink het. By Sabie is daar Merry Pebbles. Is daar nie iewers ook ’n Castle Gorge nie? Hilldrop lê ’n bietjie verder noord-noordwes. O, die blou berge van die onderwêreld darem! O, die name waarmee mens hom in die wyer prentjie probeer vestig, is darem óók ’n faktor.

Mens dink name uit as jou gees daar sweef, want arende is mos vrygemaakte mensgeeste, en ek word daar ’n berghaan wat op stygwinde en termieke hier teen die bergfasade se ribbige balustrade hangsweef, ’n loerie wat met sy oorwinningskreet in paartyd in skeurklowe afduik, van bo af tot onder op die vloerplato waar ravyne in puinwaaiers afgespoelde grint en deltas sand eindig, met gevalle rotsblokke soos ’n beeldetuin.

Dít dan, die beeld van bo, die uitsig oor die bodem van ’n lae aardkom – ’n panorama. Maar daardie blou berge van onder en van ’n afstand af gesien, is ’n uitbreiding van iets blous in ’n mens. Ek het ’n kleurspektrum in my syn, ’n gemoedsopenbaring wat psigosensitiewes glo ook buite-om as aura kan onderskei. En daardie afstandsvistas is voëlvlugte oor floragroen biome voor jou, wat verder weg vaalgroen word asof ’n mistigheid smiddags daarop daal, ’n neweligheid, wat in gebroke wolkskadu’s kamoefleerdrag van ’n geheime orde in indigo op grysgroen verbeeld. Dit is die blou in my, wyd oopgerol soos ’n geskakeerde volvloermat, ’n see van plantegroei deur ’n blou filter van ekstase gesien. 

Maar daardie bergfasade soos ’n eindelose lang nagblou duin aan die Namibkus, deur hoogwatergety en wind uitgekalwe tot ’n reuse‑ dwarsliggende vertikale blou bank voor jou, is surreëel, want op warm somermiddae sweef dit sidderend bo die plat voetstuk op silwer lugspieëlings in die eterdeinings, en ’n swewende honderde kilometer lange berg is meer as die werklikheid. Dwars-in-die-Weg het ek al as naam van ’n plek iewers gehoor. Is dit dalk hier naby?

En om blou te waardeer, moet mens laatmiddag van die Kruger Park se kant af wes ry, loodreg berg toe, stadig, veral op ’n laewolkedag as gebroke wit opdrifsels ’n ou gedig oproep wat dit as vlokkies skuim beskryf het. En ver oor die Bosbokrand en Hazyview lê Violet Bank in die pers garderobe van ’n koningin, ’n reuse-vorstin, ’n Cleopatra lank uitgestrek op haar sy met pers druiwe en passievrugte in haar een hand, terwyl die ander haar kop gemaklik stut waar sy geamuseerd deur God’s Window op jou afkyk, haar onderdaan wat hulde aan haar Skepper bring. 

Pers-mens! ’n Fluweelseintuur aan die lykant onder die oorhangskadu's van die groot aardtrap op na hemel en son, oorkant ’n nog verligte vlakte voor, en ’n perlemoenskulp-kleurespel in die lug agter. Dis die berg met name van mensplekkies, skuiltetjies, asiele in die glooiings van haar boesem weggevou: Arthur’s Seat, Zoeknog, Klaserie, York. Hier het die verskillende kulture almal kom aanspraak maak op dít wat so onweerstaanbaar mooi is.

Die berg waarop die son hoogmiddag nog loodreg op haar heimlike oksels inskyn, is dan onder stippelwolke soos merinovagte op die klasseertafels van koel dalende lug gesprei, die ene kolle-kolle spelende lig en skadu wat soos Jakob se gestreepte en bont lammers teen die skuinstes af bokspring en baljaar. Lig wat in die waas van newels bleek vertoon teen blouselskadu’s wat dit soos bloukaas teen die bergwande deur-aar. ’n Bewegende, veranderende reep bloukaas op ’n plat bord met jou horisonlyn die groen garneersel. ’n Steen lang, outydse blouseep met bont kolletjies wit.

Maar saans: laat lang sonstrale wat van agter tussen bergkantele deur hoog bo die afgronde uitsteek soos skraal, wollerige vingers oor die laaglande gestrek om mens en dier te benedy, die blou en pers net dieper geskakeer. Is daar nog name uit te dink? Dalk ou bestaandes weggesteek in die heimnisvolle klowe, ou digtersformulerings in die towertaal van Afrikaans wat dit help interpreteer wat die onmag van dié wat observeer nie met die beste wil ter wêreld suksesvol kan verwoord nie en hulle skuldig maak aan pleonasmes, clichés en toutologieë uit blote onmag voor die almag erkennend. Zoeknog bestaan al, maar is die naaste aan my hartsgevoel om iets te vernoem.     

 

Klik hier vir kompetisie-besonderhede.