Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Myburgh se album Woestyn ánders, maar op ’n herkenbare manier


Leon-Ben Lamprecht - 2010-07-08


Woestyn

Myburgh

Kyk, as ’n mens nou van die begin af eerlik is, dan is Myburgh se album Woestyn onkonvensioneel. Dis nie dat dit nie effektief is nie, of vermaaklik, of so left of centre dat dit skaars as musiek herkenbaar is nie. Dis bloot ánders, maar op ’n herkenbare manier. As mens nou sou moet, sou jy dit dus met die Windies-hotkloukolwer Shivnarine Chanderpaul se kolfstyl kon vergelyk.

Die album is ’n mengsel van allerlei klanke: folksy kitare, trompette met ’n Spaanse geurtjie, elektriese kitare wat net-net wil herinner aan iets grungy (al het Myburgh sy lang hare wat hom so effens na oorle’ Kurt Cobain laat lyk het, laat waai).

En dis ook nou maar wors: Woestyn is nie die tipe album wat jy in jou karradio pop en na een keer se deurluister volbors mee saamsing nie. Jy gaan dit ook nie sommer speel om die partytjie lewe te gee as jou neef Gerbus van Pofadder kom kuier nie. Dis nie ’n album vol Lady Gaga-hooks nie (nie dat dit ’n vervelige een-noot-geneurie is nie).

Sien, Myburgh is, te oordeel aan sy lirieke, ’n woordeman. En dis op dié end waar die album se sterkpunt lê. Terwyl die lirieke jou dan insuig, kom die musiek suutjies nader en slaan kloue in jou onderbewussyn, dat jy jouself later vang koffie maak op ’n Maandagoggend 06:14 en “Swart Piet” neurie.

Myburgh takel ook allerlei onderwerpe, nie net daai muse, die liefde, nie.

Die openingsnit, “Iets kry”, sing hy byvoorbeeld oor mense se gefuif tydens somervakansies en hulle versugting dat die feesgees moet bly, kompleet met ’n trompet om die pret te onderstreep:

En die kinders raak simpel en die klere al minder
’n Gees wat die mense van werk laat vergeet
Die brouery se lorries staan tou op die snelweg
Die produkte kry skaars kans om die rak te raak
Dalk sal jy, dalk sal jy die somer iets kan kry wat tot winter bly.

En later:

Maar die maande mars verby met die pogings desperater
Die denke aan die winter top die glase weer op
(...)
Dalk sal jy, dalk sal jy iets kan kry wat wil naby bly.

“Swart Piet”, die tweede snit, en my persoonlike gunsteling, wroeg met die dood wat kom kuier: “Swart Piet is weer in ons buurt/ daar is geen skadu aan sy figuur.” Hy dra “’n jas van verdriet”, en jy kan maar weet, hy dra “’n bundel datums” met “finale ultimatums” – “hy het jou dag ook daar in.” Soos jy dan nou kan dink, is Swart Piet ook nie ’n welkome besoeker nie:

Eendag loop alles klopdisselboom
Dan kyk ek weer en ’n lewe verdwyn soos ’n droom
Hy’s die kuiergas wat jou gees belas.

Myburgh sing egter wel oor die liefde, en wanneer hy dit doen, is dit nie trekkerig en spookasem en soetsappig nie.

Kyk, of luister, dan na “Betyds”. Met ’n stadige ritme en so nou en dan ’n wenende elektriese kitaar bo-oor dit als sing Myburgh van die een wat hom, so klink dit, gered het van sinisme oor die liefde:

Oor velde heen die drade val en waar die stof nog lê
Doen jy ’n sagte dans met my
Hier sal iets nuuts weer groei.

Maar al is die dans sag, is dit soms nodig om ongeduldig te wees, want “dis soms beter om net in te bars/ as om saggies te staan en klop”. Sy beloning?

Jy vat my en maak my heel
Ek het dit amper skoon misgekyk
Jy vat my en maak my heel
Betyds het ek opgekyk.

“Woestyn” en “Pilaarbyter” span die elektriese kitaar harder in, terwyl hier ook twee Engelse liedjies, “Into me” en “Them”, op is. Ek moet eerlik wees, ek is nie mal daaroor nie. Ek kan nie presies my vinger daarop lê nie, maar dis asof die Afrikaanse nommers ’n dieper eerlikheid openbaar, asof Myburgh meer oopmaak en minder skanse op het. Maar dalk is dit bloot oor hy in sy moedertaal sing?

’n Mens kry die gevoel hierdie album is met moeite en deernis stadig aanmekaar gesit. En as ek moet raai, is dit dan ook hoekom dit jou stadig beetkry.

Dis nie vir almal nie, maar as dit vir jou is, gaan jy nie sommer kan ophou luister nie.

  • Stuur ’n e-pos aan wen@litnet.co.za en jy kan n kopie van Woestyn danksy Rhythm Records losslaan.