Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Langpad-storiekompetisie: Uit die mond van die suigeling


Kerneels - 2010-07-02

Capies, bergies, sout-van-die-aarde-mense. So eerlik soos ’n spieël, sonder skaamte, en tog … mens. Vuil, soms. Dronk, meestal. Tandeloos … Wel, ’n Capie met tande is nie ’n Capie nie.

So ’n paar jaar gelede is ons as gesin op ’n mini-toer deur ons grootworddorpies in die Oos-Kaap. Uitenhage, Despatch, Swartkops, Port Elizabeth … Pa wys ons die huisie waarin hy jare gelede gebore is. Ma wys waar sy en haar gesin gebly het toe hulle doerie jare in Suid-Afrika geland het. Sommer net ’n lekker trip down memory lane …

Die middag kuier ons by ’n oom, en ons klomp neefs besluit om tussen die duine in Blouwaterbaai ’n vleisie te braai, soos ons saam met ons ouers gedoen het toe ons nog klein kindertjies was.

So stop ons by ’n spiritshuisie op pad duine toe. 

Snaakse wêreld, die plek waar ek grootgeword het, met ’n kultuur wat eie is aan sy mense. Waar mens iewers tydens jou vrysessie met ’n meisie vir haar móét vra wat haar gunstelingdier is. As sy antwoord “jakkallas” dan weet jy jy vry oor die kleurgrens heen. Die plek in die land waar ek geleer het van “kappie-’e’”, want omtrent als wat mens praat, praat jy met kappies op die “e”.

Grênd, prêgnend, wêrk, êk … Soms kry jy ook die “opstêrs”-mensies wat platvloers probeer wees. “Êk het saks gehad agter Chackers en nou is êk pragnend.”

Jy herken hulle aan hulle praat, aan hulle stap, en soms jy ruik dit op hulle asems … Maar die beste kenmerk van hulle is hulle smiles: plooie op die gesig, monde wyd oop, en dan sien jy net tandvleis, met soms so ’n verlore tand wat vasgebyt het.

Al die jare toe ek daar gebly het, was dit maar so. Ek het wel met tyd geleer dat die plooie nie van ouderdom is nie, maar omdat hulle met lag en sonskyn in hulle harte gebore is. Dis lagplooie. Hulle is hêppy mense. Maar as ek Pa gevra het hoekom die mense sonder tande is, was die antwoord altyd dieselfde: “Vra hulle self.”

Terug by die spiritshuisie daai middag.

My neef kry parkering in die vuil stofstraatjie waar ’n klomp mense sit en kuier. Sommer so op die grond voor die gebou.

Neef is op pad slaghuis toe. Ek gaan stoor toe. Ek is lus vir wyn saam met die braaivleis.

Met die uitklim sien ek die bergies in ’n sirkel, besig om ’n papsak om te stuur. Dis asof dit volgens presiese tydsberekening plaasvind. Die sak word aangegee. Met die swaai van een hand bo die kop word die papbek oopgetrek, en die ander hand druk die kraantjie. Een, twee, drie, vier, vyf sekondes; dan word die sak vir die volgende ou aangegee. Elke derde ou probeer ’n sesde sekonde inkry, maar een of twee begin hoes, en dan sak daai sak baie vinnig terwyl die skuldige een lyk of hy met sy arms keer vir sy gesig. Niemand kry ’n druppel meer as vyf sekondes uit daai papsak nie.

En hulle lag. Tandelose pap bekke wat sopnat lag. Sommiges het tande in die kieste, maar die voortande is ’n oop gaping. Ek onthou toe weer my kleintydvraag aan Pa, oor hoekom die mense nie tande het nie, en Pa se antwoord: “Vra die mense self.”

Net daar stap ek oor.

“Middag, middag.”

“Dagsê, my lanie,” kom dit uit verskeie monde. Almal behalwe die een wat sy vyf sekondes met die papsak gebruik.

“Hoe lyk’it, my lanie. Djy is van Gautêngêlêng, so, Meneer soek sieker rigting, nè my lanie?” vra een brawe een.

“Nee man. Ek wil iets vra, maar julle moet nou nie snaaks dink nie.”

“My lanie, vi’ onse mense kan djy ma’ vra net wat djy wil. Ons neem mos nie ’n aanstoet nie, Meneer!”

“Jong, die ding staan so. Ek het nog altyd gewonder … Hoe is dit dat julle mense nie tande het hier voor in julle monde nie?” Ek begin so ’n tree of twee agteruit gee om my ’n voorsprong te gee as hulle wil baklei, maar ek kry die teenoorgestelde reaksie as wat ek verwag het.

Jy sien net tandvleis soos hulle lag.

“Meneer, la’ êk vi’ djou vertel …” Maar voor die jongetjie kan begin, maak een van die ouer mans hom stil met ’n kyk uit sy bloedbelope oë.

“My lanie. Wee’ jy wat? Ek sal vi’ djou ve’tel, en wat êk vi’ Meneer ga’ ve’tel, is die godse waarheid. Die Vader bo in die jemel ka’ die duiwel vannag stuu’ om my in myse slaap te ko doodma’ as êk vi’ djou lieg.” Sy kyk in my gesig skeur weg na sy maters toe asof hy eers by hulle wil hoor of hy maar mag vertel. Met die terugkyk praat hy verder. “Djare gele’e, toe da’ nie goed soos ’ie papsak wassie, het onse mense mos die wyn in vyfliterglasbottels gakoop. Vyftien rand vi’ vyf liters van saligheid, my lanie. Ma’ nou moet jy ok onthou, die wit mense hettie ons bainja pataal vi’ die wêrk wat onse mense vi’ hulle gedoen hettie. So, ons het toe ok ma’ gemaak sos nou hie’. Djou buddies kom dan saam na die store, en dan las ons onse gêldjies saam … Om nou daai groet vyfliter te kan koep.”

Weer kyk hy weg van my en sy ernstige verduideliking af, doer in die verte van die stofstraat op, voor hy verder praat.

“Nou, as ons eers daai groete bottel gakoep het, dan kom sit ons nou in soe sirkel soes hier. Die jong latte join ok soms in. Nou, Meneer, die jong latte wil mos groet wees. Eerste paycheck moes altyd gan vi’ soe kuier met ’n vyfliter. Want die latte is mos nou groet, Meneer sien? Ma’ hulle ken nie van onse ou manne se riels nie. Ons ou manne ken van wyn diel. Die bottel word in djouse mond gedruk, met djouse tong wat die botteltjie se bêk toedruk. As djy dan djouse tong los, en daai bottel maak so 'gloek-gloek', dan tel djy en djou manne vir vyf sekondes. Ná vyf sekondes moet djy djou tong wee’ op die bêk terugdruk en die bottel laat sak.”

Intussen het my neef teruggestap gekom met sy vleis. Hy staan hier langs my en luister. Ek is al half ongeduldig, want ek weet nog steeds nie hoe hulle so sonder tande is nie. En al wat hy vertel, is hoe hulle suip.

“Ma’ my meneer. Djy wiet. Die jong klomp is mos ma’ onnosel. Soe met die bottel se bêk en hulle se bêkke, byt hulle daai bottel tussen hulle se tanne vas. Nou, die ding sta’ so. As djy djou vyf sekondes hou, dan is djy rêg. Op ses sekondes hoes een of twee van onse ouer manne, om djou te wys djy neem liberties. Die siewende sekond gryp ons daai bottel aan sy se gat en ons trek.” ’n Paar van die jongetjies giggel onderlangs terwyl een met sy vingers oor die gaping in sy mond vryf.

“Nou, met die jonge latte wat mos soe vasbyt en die liberties trek met siewe sekondes … My lanie, as onse manne nou daai bottel soe by sy gat gryp en pluk, dan sien djy net tanne trek. Nou daai is hoe onse manne aan die gaps kom in ons bekke, my lanie. En dis die godse waarheid, so help me God, probeer hy met sy vuil hand ’n kruisie oor sy bors trek soos hy seker in die flieks gesien het.

Ek lag, maar my neef, wat intussen gevang het waaroor die gesprek gaan, byt maar swaar aan dié storie.

“Hoe kom julle jong manne dan aan die gapings as die bottels al soveel jare weg is en daar nou net papsakke is?”

“Meneer, daai is ok maklik. Djy sien, djy hou die papsak soe oor djouse mond. Dan tel djy. Een sekonde, twee sekonde, drie sekonde …” met vuil vingers wat probeer saamwys hoeveel elke sekonde is. “Op ses sekondes hoes ons om te wys djy vat liberties. Maa’ op die siewende sekonde gryp een van ons daai sak, en die ander moer jou tande uit!”

Hoe waar dit is, sal ek nie weet nie. Maar ek wil my half verbeel dat ek op skool geleer het: Uit die mond van die suigeling sal jy die waarheid hoor.

 

Klik hier vir kompetisie-besonderhede.