Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Langpad-storiekompetisie: Die barrakuda van Khor Najd


Anneke - 2010-07-02

Na Khasab, in die Musandamprovinsie van Oman, daar waar ek vir oompie Moses raakgeloop het, was ons al ’n paar keer vantevore.

Die area het ’n bekoring van sy eie. Geen wolkekrabbers nie, en niks wat blink en goud is nie. Net doodgewone steenhuise, en hier en daar oorblyfsels van antieke modderstrukture en uitgediende forte.

En dís waarnatoe ons vandag weer op pad is. GPS, kameras, koelboks en stoele ingepak.

Spesiaal vir Chris: ’n ekstragroot toiletrol! Voor hy weer kniediep in die moeilikheid beland.

Langs Emirates Road laai ons die tier in die tenk. R2,50 per liter. By die winkeltjie kry elkeen ’n tikka-hoendersamie en ’n botteltjie Sterboks-koffie.

Anderkant die grenspos, reg op die Strait van Hormuz, waardeur sewe van die wêreld se olieproduserende lande se olietenkskepe deur ’n 25 km noue waterstraat beweeg, lyk die omgewing ’n bietjie anders. En die seewater is blou!

Teen die voet van die berg, net-net bo seevlak, kronkel die teerpad soos ’n seeslang vir kilometers aaneen; versteende modderhoopberge met Osama-gate orals. Plek-plek is die tekstuur van die modder pure koraalrifmooi. Waar die grond té onstabiel is, vat die seeslangpad ons weer boontoe tot bo-op die nok van die berg. Met ’n asemrowende uitsig oor die talle fjords.

By Al Harf draai ons van die teerpad af met ’n grondpaadjie wat weer 200-300 meter skerp afdaal tot op seevlak en uiteindelik by ’n afgesonderde strandjie reg langs ’n antieke begraafplaas eindig. Die son wil-wil ons hier langs die laagwater in die kom teen die berg vaskeer.
Groot, plat, bottelgroen, mosbedekte rotse lê ontbloot in die son.

Skuins agter ons in die wadi (rivierafloop), midde-in die begraafplasie, staan ’n vierkantige koepeldakmodderhuisie. Dit lyk soos ’n plek van aanbidding. Teen die een kant van die wadi is ’n reuse-sementwaterafvoersloot – anders spoel die bergwater déúr die begraafplaas en rakel dit ou beendere op. Nou kyk, dis sulke dinge wat my aan’t hardloop sal sit dat jy net hakskene sien.

Ná ’n paar foto’s ry ons weer bult uit na die akasiawoud. Dis by die Golden Tulip Hotel verby, 13 km anderkant Khasab, sommerso tussen die berge waar niks en nêrens bymekaarkom. Sekere tye van die jaar is dit ’n grasgroen piekniekplek in die koelte. Daar pak ons die stoele en braaier uit, braai ’n worsie en vat ’n blaaskans.

Man! Dit laat my sommer terugverlang na Sondagmiddagslapies op Ouma se lappieskombers onder die wilgerboom van Tamboekiesfontein. Behalwe vir die nuuskierige kaalgeskeerde Arabiese bokke (kon netsowel boerbokke gewees het) en lastige vlieë sou dít nou die ware Jakob kon wees.

Toe is dit weer skyt-skyt die bult uit (no pun intended, Chris!), haarnaalddraaie, steiltes en afdraandes na Khor Najd toe.

Daar, by die afgeleë strandjie, vang ons die vissermanne net betyds – besig om hulle skuit af te laai. Grote, blinke tunalywe van 30 kg wat hulle sommerso neus eerste regop staanmaak in plastiekkratte agterop ’n ou Land Cruiser, stertvinne in die lug. En tussen al die tuna lê ’n paar ander visse ook – ene met ons naam daarop geskrywe. Vir 20 AED koop ons ’n gewigtige barrakuda (selfs Jona sou vir dié een geskrik het), draai dit in Tertius se Sondagkoerant toe en bondel haar, lyf dubbel gevou, binne-in die koelboks, bo-op die oorskietwors en waterbottels.

“As ek sê lê, dan lê jy en moenie my so dreig met daai ondertandjies nie, gehoor! Vir jou eet ons vanaand óp – huidjie, muitjie en stuitjie.”
Home James! Monica gaan dit nie verdra om te lank met binnegoed en al in die koelboks rond te lê nie, én ... of ons by die grenspos deurgelaat gaan word met die vis in die punch, is nog ’n ander storie.

Ons verklaring sal dieselfde wees as die ou omie s’n wat destyds aan Fauna en Flora moes verduidelik oor die wildsboudjie. “Je honor, al wat ek het, is die ou vissie waarop my vroutjie sit.”

Hoe verder ons ry, hoe pittiger raak die vissermanpraatjies, hoe warmer word dit en hoe dorser raak ek. Maar die waterbottel is in die koelboks, ónder die vis. En vir Monica wil ons liewer nie nou steur nie; sy loer hoeka so oopbek soos ’n gaar vis daar onder die Gulf News uit.

Op pad terug, anderkant Ras Al Khaima, tussen die pad en die see, lê die skerp, hoë duin wat ons telkemale al van die water se kant af aangevat het. Hóé, vra ek jou, ry mens hier verby sonder om ’n bietjie te speel?

Die enigste probleem is: Die sand is deurmekaar gekarring. Vele ander 4x4’s het intussen hierdie duin probeer.

Dis baie sports. Af teen die duin, onder omdraai, terug boontoe. Gee vet! Die koelboks, stoele en tafeltjie bokspring só agterin dat ek bang raak vir ’n stertvin deur die gesig. Ná die derde probeerslag en ’n paar soutbosskrape teen die regtermodderskerm af is dit tyd vir plan B.

Met ’n wye draai oor harder sand kry ons weer die Fortuner se neus bo-oor die duin. Niks wat ’n bietjie spoed nie kan regmaak nie.

Monica grynslag nog steeds.

“Jy moet lekker lag! Ons sal sien wie sluk vanaand vir wie in!” Wie laaste grynslag ...

Toe is dit weer langpad. Die iPod maak musiek en ons begin Noot vir Noot speel – Suid-Afrikaanse pop oldies wat ons almal dekades terugsleep studentedae toe. Dis reeds donker toe ons by die huis aankom. Tertius gaan check gou die honde en Chris maak kotelette van Monica.

Agtuur sit ons elkeen met ’n yslike barrakuda-filet en gebotterde aartappels op die bord.

En vir brêk(vis) is daar oorgenoeg leftovers.

 

Klik hier vir kompetisie-besonderhede.