Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Langpad-storiekompetisie: Griekse gode?


Elma - 2010-07-02

Eienaardig, dog interessant, die mans van Griekeland! ’n Vriendin merk onlangs op dat die Griekse sokkerspan inderdaad met die aantreklikste mans in die Wêreldbekertoernooi spog – weet nou nie dáárvan nie, maar my ondervinding met hulle in Griekeland was beslis nie vervelig nie.

Met die intrapslag in die land sien mens die mans sit en speel kaart en die vroue vee en pas kinders op! Soveel te sê vir vroueregte en emansipasie. Selfs in die soewenierwinkels is klein besempies te koop om die rol van die veënde vroue te vier – dít terwyl die mans kuier! Daar is beslis ’n saak uit te maak vir male bonding – jonk en oud: Die manne sit bymekaar en kuier oor ouzo, kaarte of skaak, merendeels met ’n blêrende TV in die agtergrond.

Nietemin sorg die mans beslis vir iets moois vir die oog en dat toerisme gedy – dis nou wanneer dit hulle pas.

Die snaakste was sekerlik die man wat my oral gevolg het in ’n piepklein dorpie hoog in die berge op die eiland Naxos. Vandat ek en my twee vriendinne met ons klein huurmotortjie daar aangekom het, het hy ons in die nou straatjie agtervolg – so ewe aan my arm geraak om hallo te sê. Ek praat natuurlik nie ’n woord nie; het al geleer dis fataal. Ek kon sien hierdie man gaan my nie los nie.

En só is hy, sonder om een keer oogkontak te verloor, agter ons aan by die klein trappies op na waar twee susters pragtige weefwerk met die hand doen en weer terug na die suster se kafee, waar ons self die water gekook het vir ’n lekker koppie warm tee. (Die Griekse tee was altyd louwarm). Hier bly hy in die deur hang, soveel so dat my vriendin besluit om daar en dan ’n foto van hom te neem. En sowaar, hy is glad nie ongeneë nie, maar pluk onmiddellik ’n sigaret uit sy sak en steek dit in sy mond om so slap uit te hang – seker ’n Griekse cowboy-look. Toe ons wegry, staan hy ewe verlate en waai vir ons tot siens.

Staarder nommer twee doop ons “Apie op ’n stokkie” na die gesegde “Daar’s ’n apie op ’n stokkie voor my ma se agterdeur”. Dié meneer was uiters geïnteresseerd in drie vroue wat kaart speel op die veerboot. Aanvanklik het ons gedink hy probeer die spel identifiseer, maar later blyk dit hy staar na my en hou nie op nie – en weereens sê hy nie ’n woord nie. Ek kyk orals behalwe in sy oë, maar nee, hy staar net aanmekaar.

En dan was daar Philip van Paros. Philip adverteer sy gastehuis by die hawe en peil op enige toeris af, veral die vroue. Dit maak nie saak of jy reeds ’n bespreking het nie – jy moet dit summier kanselleer en in sy gastehuis gaan bly – en hy gee voor dat hy baie goeie Engels praat. Snaaks genoeg, ’n dag later loop ons weer in Philip vas en hy onthou ons sowaar. Hy probeer ons oortuig om minstens die tweede aand in sy gastehuis te oornag.

Toe dit nie werk nie, nooi hy ons vir ouzo, so elfuur die oggend. Ons soek eintlik ’n toilet, maar nou ja, dis dalk net die paspoort na die toilet. By die kafeetjie sit sy drie vriende om ’n tafel en kaart speel; die vroue werk in die kombuis. Hulle is erg geïnteresseerd in die drie vroue, maar kan skaars ’n woord of twee Engels praat. Skielik is Philip se Engels ook nie meer so goed nie – hy kan net vlot praat as dit oor sy gastehuis gaan. En toe is die toilet boonop omtrent teenaan die tafeltjie, wat ons uiters verleë gelaat het.

Maar die aand toe ons juis op Paros wil gaan uiteet en ek die “lamp”-tjoppies bestel, ontmoet ek ’n Griekse god. Terwyl ons nog so na die restaurant se bord buite staan en kyk, na die spyskaart en pryse, kom staan die mooiste man in die hele Griekeland aan my linkerkant en nooi ons om by sy restaurant te kom eet. En wat doen ek? Ek bly net so staan en staar in sy oë! Geen probleem met oogkontak nie. Ek het nie ’n saak met die spyskaart nie. “En jy bly net so staan!” sê my vriendin. Wie sou nie?

En dan is daar die manne wat aanvanklik maar baie bot, stil en onvriendelik is. Weet nou nie hoeveel húlle tot toerisme bydra nie, maar as mens se beursie plat is, kan jy nie kies nie. Ons land moeg ná ’n nag op die vliegtuig in Athene en die alles-in-een ontvangsheer-bestuurder-ontbytkelner by die hotel ontvang ons sonder ’n glimlag ten spyte van ons bespreking. Eers raas hy met ons omdat ons te hard praat en nie besef dat die gastekamers sommer hier aan die voorportaal grens nie. Daarna dring hy daarop aan dat ons onmiddellik betaal – en kontant, asseblief.

Maar ons is vriendelike Suid-Afrikaners en glimlag maar net met hom. Teen die volgende oggend kry hy dit reg om liggies te skerts en selfs later ’n grappie te maak in sy rol as ontbytkelner. Wys jou nou net: Vriendelikheid kan selfs die hardste neut of Griek kraak.

Dan was daar die “toergids” op Naxos, ’n gawe jong mannetjie, weereens besonder sag op die oog. Ons gaan huur ’n motortjie, want die eiland is groot in Griekelandse terme. Die mooi mannetjie agter die toonbank vertel ons in detail waarheen ons orals kan ry, hy werk vir ons roetes uit, hy gee agtergrond, vertel van marmermyne en -fabrieke en stap saam met ons uit om ons vaarwel toe te wens. Dis net daar dat my vrypostige vriendin hom sommer met drie kultuurvrae peper, onder andere hoekom so baie ou tannies swart dra. Wel, as sy ’n nabye familielid aan die dood afstaan, dra sy vir die res van haar lewe swart. Wat is dus die kanse dat ’n ou tannie nie swart dra nie?

Op die ingewing van die oomblik draai ons sommer by die marmerfabriek bo in die berge in om ons aan die reuse wit marmerblokke buite te verkyk. Hoewel dit nie lyk asof besoekers welkom is nie, sluip ons binne om met ’n Pakistani en ’n Rus kennis te maak, al twee baie vriendelik. Die Pakistani praat en die Rus glimlag stil. Ons kry ’n toer van die fabriek en elkeen ’n klein stukkie suiwer wit marmer as aandenking.

Pragtig is die ou, kort, geboë omies wat nog met hulle donkies ry. Op Santorini kom kuier die omie en sy donkie by ons gastehuis se oumatjie. Sy donkie staan rustig en wei aan die jong wingerd wat lustig groei in die vulkaanasgrond tipies aan die eiland. En op Paros laai die omie al sy kruideniersware in die twee sakke aan weerskante van die donkie se ronde maag om stadig maar seker die pad huiswaarts aan te durf.

En dan was daar die pannekoekkafeeman wat sy telefoon vir ons gee om ons akkommodasie op te spoor, die vriendelike kelner wat nooit ophou glimlag nie, die kafee-eienaar op Sifnos wat gou sorg dat ons tafelsout en nie Engelse sout koop nie, al kan hy nie Engels praat nie, en die gastehuisbestuurder op Naxos wie se ma sommer daar aan diens haar uiltjie lê en knip, en hy laat dit maar toe. Hy beloof ons vervoer terug na die hawe en die volgende oomblik land ons tasse bo-op die dakrak van ’n piepklein motortjie – sommer so sonder om dit vas te maak, kronkel ons deur die strate.

Ten spyte van die stereotipiese mans wat sit en kuier en die vroue wat werk, ontmoet ek aan die einde van die besoek ’n Suid-Afrikaans gebore vrou van Kaapstad wat ’n juwelierswinkel in Mykonos besit. Stralend gelukkig op die eiland vertel sy my hoe sy ná matriek na Griekeland gereis het, haar man ontmoet het en nie weer teruggekeer het nie, en sy was nog nooit spyt nie. En dit was presies waarteen haar ma haar gewaarsku het.

 

Klik hier vir kompetisie-besonderhede.