Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Langpad-storiekompetisie: Kaapse kapers


SD Fourie - 2010-07-02

Ons Overbergse voorvaders het oor die Ghantou-pas getrek om hulle hier aan die ander kant van die berg te kom vestig. Hulle het die wêreld vir ons mak gemaak en geslagte het in liefde en vrede saamgewoon. Só glo ons. Ek betwyfel heel dikwels die liefde en vrede, want die ou spulletjie was ook maar hardkoppig as ek die streke van die nageslagte so beskou! Swaarkry was daar wel, maar ek glo nie dat hulle ooit noemenswaardige gevare getrotseer het nie. Anders as vandag, want dat ’n mens jou lewe en besittings letterlik in eie hand neem as jy die tog oor die berg aanpak, het ek die afgelope naweek deeglik besef.

So pak ek en wederhelf die bakkie met hond en bagasie, sluk ’n senuweepil vir die Kaapse verkeer. By die eerste verkeerslig sluit ons die laaste deur, kalmeer die senubrak van ’n Malteser wat al teen dié tyd sy merk op alles agter in die voertuig gelos het en vat die eerste verkeerde afdraaipad. Waar ons so hopeloos verkeerd gery het, weet ons nou nog nie, maar toe ons weer sien, staan ons by ’n bedrywige taxi-staanplek in Macassar. Ek is ’n totale senuweewrak en probeer ons Kaapse kinders skakel, maar ’n nuwe selfoon (en wederhelf se taal!) is op daai oomblik verbruikers-onvriendelik. Ons het daar uitgekom. Hoe, weet ek nou nog nie. Ons het al voorheen verdwaal, maar dit was in Kaokoland, op Usakos, met net genoeg strate vir jou een hand se vingers, en op die grasvlaktes anderkant Puros in die Namib. Ek het darem eenmaal ’n adres in Hongkong opgespoor, maar dit was glo meer geluk as wysheid!

Ons program vir die naweek was uitgewerk en elke minuut sou behoorlik benut word. ’n Besoek aan Kaappunt is altyd ’n hoogtepunt, alhoewel die trappe vanjaar soos ’n Jakobsleer voor my uitgeslinger het en ek kon sweer daar is meer as die vorige kere. Besoekers streep soos miere die berg op. Dit is blykbaar een van die plekke in Suid-Afrika wat die meeste buitelandse besoekers ontvang. Later sit ons houtgerus in die voertuig langs die see. Die mans dwaal langs die see rond, kleinseun vroetel voor in die voertuig en ek en skoondogter klets oor die bobbejane wat so astrant tussen die toeriste rondsnuffel vir iets om te vreet.

Die volgende oomblik vang my oog twee swart hande wat geesdriftig in my handsak rondsnuffel en met lang vingers deur my kredietkaarte, geld en tjekboek blaai. Die oggend se skrik lê nog vlak en met een sprong is ek uit die voertuig, maar die Nolliebloed (suinig!) begin daar en dan driftig kook, want met daai einste beursie wil ek nog môre shopping gaan doen. Spring blitsig terug in die voertuig terwyl skoondogter benoud gil: "Ma, los hom uit!" Sy is al ’n gesoute stadsmeisie en ken die reëls van die spel. Sy ken blykbaar nie haar skoonma nie. Met ’n driftige haal maak dié al haar aardse besittings bymekaar, stop dit in die handsak, gryp dit uit die verdwaasde harige tater se kloue en spring weer uit die voertuig. Met een sprong is hy op die voorste sitplek, ruk aan die radio, soek in die paneelkassie en gryp kleinseun se koeldrank. Dié klein mannetjie doen makliker afstand van sy koeldrank as sy ouma van haar handsak, maar kruip darem vinnig voor die gevaar weg en gaan sit onder die dêshbord totdat ouma vir hom die deur oopruk sodat hy ook kan ontvlug.

Teen dié tyd staan daar ’n skare toeriste om die voertuig sonder om ’n vinger te verroer en is ek bevrees dat die astrante kaper nog met die voertuig gaan wegkom. Ek gil soos ’n maer vark op my telg en sy pa om te kom red wat te redde is. Soos ’n ridder van ouds kom seun nader gedraf met ’n stuk hout wat hy van wie weet waar nader gehark het. Die kaper ken gevaar as hy dit sien, los die buit en laat spaander, maar nie sonder dat hy ’n paar behoorlike houe op sy sitvlak gekry het nie. Ek dink hy sit nou nog daar bo in die kranse en huil oor sy mislukte kaping en seer boude.

Klik hier vir kompetisie-besonderhede.