Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Langpad-storiekompetisie: Kraanvoël se reise op pap tyres


Harry Louw - 2010-07-02

Kraanvoël het by Alexcor in Alexanderbaai as ’n painter gewerk. Sy naam het hy gekry deur sy waardige manier van stap. Hy het so vernaam ’n afgemete tree op ’n slag gestap, soos ’n kraanvoël deur die vlei. Hy het daar in die buitekamp vir enkellopende mans gebly, soos die meeste van die jongmanne daar. In daardie dae was dit die manne se doelwit om getroud te kom en dan saam met die vroutjie in ’n huis in die binnekamp te gaan bly, waar die getroude mense gebly het.

In Alexanderbaai was hubare meisies nie in oorvloed nie, so jy moes jou aanstaande vroutjie in ander dorpe loop soek. Soos meer mans getrou het, is die naaste dorpe soos Port Nolloth se hubare vroutjievolk uitgedun en die manne moes verder gaan soek. Die meisies in Vredendal was die gewildste, want almal het geweet dat die druiweboere se dogters die mooiste was en dat hulle geseënd was met meer dogters as seuns. Die druiweboere was maar te bly, want met dié dat die plaaswerf vol kinders raak, raak dit moeilik om die vrede te bewaar en ’n man wil mos graag in die aande ná ’n lang dag tussen die ranke jou velskoene op ’n vreedsame huis se stoep kom afskop.

So het die manne dan elke paydag hulle geldjies gepoel en dan in een mouter afgesit na Vredendal toe, waar hulle dan nou onder die hubare dogters gaan vry het. Só was dit dan nie ’n ongekende gesig toe ou Kraanvoël en sy vier kamerade in sy kar klim om af te sit Vredendal toe nie. Nou hierdie keer was my pa nie by nie, want hy was toe al getroud en het saam met Hannie in die binnekamp gebly. Die storie soos my pa dit een luilekker dag in die garage vir my gesit en vertel het, is een wat hy toe by een van die manne gehoor het wat saam met Kraanvoël soontoe gery het. Omdat Kraanvoël verlangs van my moedertjie familie is (hy het van Koekenaap af gekom), het my pa eers versigtig by die garagedeur loop uitkyk dat hy nie die toorn van my moedertjie op die hals haal nie.
Die storie werk dan nou só. Ou Kraanvoël se mouter het, soos alle mouters in Namakwaland, net vier wiele gehad. Spaarwiele was ’n luukse wat net die heel rykstes kon bekostig. Die vier wiele wat sy mouter opgehad het, het beter dae geken en jy kon die staaldraad plek-plek sien uitloer soos ou tannies by hulle gordyne. Gelukkig was dit heelpad sandpad, en so het hulle darem nie te veel probleme gehad nie. Maar papwiele was daar wel. As jy in Namakwaland ’n papwiel kry, dan hou jy dadelik stil, anders gaan jy jou tyres beskadig.

Sodra jy stilhou, haal jy die tyre af. Dan trek jy die tyre van die rim af en haal die tjoep uit. Die tjoep word dan opgeblaas en die gaatjie word gesoek met jou wang so teen die tjoep. As jy die gaatjie kry, skuur jy die omliggende gedeelte om die gaatjie en sit ’n bietjie lym op. Dan wag jy een minuut en plak dan die Tip Top-lapding oor, en dan is jy reg om die tjoep weer in die tyre te sit, die tyre oor die rim te trap en die tyre dan op te pomp. Dan sit jy die wiel op die kar en dan kan jy laat sak en ry. Ek het dit laasmaand met my Mazda se spaarwiel gedoen en drie uur lank gesukkel teen ’n haas se spoed.

Daardie dae was daar nie geld vir domkragte nie, so vier van die manne moes die kar optel en dan moes een ’n houtblok (wat handig in die diekie gelaai is) onder die onderstel inskuif. Nou, dié naweek het die ongeluk die manne gery. Van Alexanderbaai af tot by Vredendal en terug het hulle 55 papwiele gehad. Hulle was later so geskool met die roetine dat hulle die proses, vandat die kar stop tot hy weer wegtrek, in vyf minute klaargemaak het ... Of dit waar is, weet ek nie. Want toe ek my vadertjie ongelowig sit en aankyk, het hy net teruggeleun en lekker gelag, en my dan so tussen die lagtrane deur gesê: “Jy moet onthou dat hulle een minuut vir die lym moes wag om droog te raak.”

Of al hierdie manne vrou gekry het in Vredendal, weet ek nie. So ek sal nie kan sê of al hierdie harde werk om soontoe te gaan en terug te kom die moeite werd was nie, maar al wat ek weet, is dat die manne dit gate uit geniet het en dat almal vrolik was en nie kon wag vir die volgende trip Vredendal toe nie.
Ou Kraanvoël lewe nie meer nie. Miskien paint hy die hekke by die hemelpoorte en staan en dink hy met ’n salige glimlag aan sy vroutjie, wat hy in Vredendal ontmoet het. Die druiweboer se dogter met die kuiltjies in haar mollige wangetjies en die agterstewe van ’n muil.
Al wat ek wonder, is hoeveel papwiele hy op sy pad hemel toe gehad het, want dít is waar hy rus.


Klik hier vir kompetisie-besonderhede.