Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Langpad-storiekompetisie: Gouelokkies en die 300 skrape


Marion Erskine - 2010-07-02

Ek kort ’n massering

Kyk, om ’n masseringsplek in die Verre Ooste te kry, is basies dieselfde as om ’n plek te soek wat rys bedien. Dit is oral. Net waar jy kyk. Om elke hoek en kant. Sommiges vryf net jou voete. Ander jou hele lyf ... en ander vryf (of knyp) katte in die donker. Nooit was daar ’n tekort aan plekke waar jy net rustig kan gaan lê vir ’n Thai-massering nie. In Thailand is dit nog spotgoedkoop ook, en jy betaal so R40 vir ’n massering van ’n uur en ’n half. Taiwan was dalk nie goedkoper nie, maar het ook hier en daar ’n goeie bargain gehad.

Toe kom ek mos sandland toe. Nou, net die ryk mense wat altyd SPA’s toe gaan, kan hier masserings bekostig en eendag steek ek toe my spaarboekie in my sak en kry ’n uur lank ’n massering. Jip, R600 later stap ek daar uit, glad nie impress nie, en baie armer. Dis tóé dat ek begin rondvra.

Marokko is vir jou, Marion!

Een van my vriende hier raai my toe aan dat ek die Marokkaanse plek moet gaan besoek. Hulle is blykbaar baie goed en net so oor die R300, wat in woestynprys ’n hengse bargain is. Met al die gym en stres van die laaste tyd stap ek toe mos ook Vrydag by die plek in. Word vriendelik gegroet deur die ouens by die deur en voel glad nie my spider senses tingle dat hierdie plek nie kosjer is nie. Dit lyk heel beskaaf en die Emirati-ouens sit ook oral rond. Hulle gee toe vir my ’n menu met netjiese Engels daarop. Ek kies die Thai-massering en glimlag. "Would you like to steam first?" vra die vriendelike Marokkaan vir my. "Yes, please," antwoord ek. Dis goed om al die vuilgoed uit jou sweetgaatjies te kry voordat jy dan gaan lê vir jou massering.

Babel

Ek word toe na ’n aantrekplekkie gelei, waar ek ’n paar blou satynshorts kry om aan te trek. Ek kom gou agter dat die outjie wat dit aangee, nie Engels kan praat nie. Toe ek buite kom in my ek-wil-graag-soos-Bruce- Fordice-lyk-shorts, vra die man my: "My? My? My?" Ek antwoord toe: "Your? Your? Your?" Hy sien ek verstaan nie en beduie my na die stoomkamer. Die deur word oopgedruk en ek stap binne. Dit vat my oë natuurlik eers ’n rukkie om aan die toegestoomde vertrek gewoond te raak, maar gou kom ek agter ek’s alleen in die plek. Goed – ek verkies dit so. Ek sien daar’s ’n paar plastiekstoele en gaan neem my plek in. Later staan ek weer op en asem te lekker al die stoom in wat soos laventel ruik. Meteens gaan die deur oop. Eers sien ek ’n skaduwee en toe die reus. Hierdie man wat binnestap, lyk soos Goliat. Maklik oor die twee meter lank. Hy lyk ook soos ’n Marokkaan en dra dieselfde blou shorts as ek. "Salaam!" bulder sy stem deur die klein vertrekkie. "Salaam," antwoord ek terug en kom agter ek praat een oktaaf hoër. Goed, Marion, bly rustig, vertel ek myself. Hierdie man is seker ook net ’n kliënt en laat hy nou maar in sy hoekie stoom terwyl ek in my hoekie stoom.

Die joga-mat

Goliat, of Bubba, soos ek hom nou doop, stap na ’n hoek van die kamer. Ek kan nie uitmaak of hy meer vet as spiere of meer spiere as vet het nie ... maar ek steek vas by "goeie mo#r – die man is massief". Bubba pluk ’n joga-mat uit die hoek en gooi dit op die vloer. Ga! dink ek. Hierdie bleddie Midde-Oosterse mense het die snaakste gewoontes. Nou gaan hierdie bul van ’n beer wragtig joga doen in ’n stoomkamer?! Ek kan my net indink hoe ek gaan sukkel om hierdie human pretsel los te kry as daai grote arm van hom om sy knieg vashaak. Maar ek sou dit nie sien nie, want Bubba kom toe na my toe aangestap. Ek gee ’n tree terug, maar kom agter die muur is teenaan my rug. Bubba kry so ’n grinnik oor sy gesig, gryp my aan die nek met een hand, aan die bo-arm met die ander hand en karplaks! – daar lê ek met my volle ses voet drie bo-op die joga-mat. Terwyl ek nog voëltjies tel van die harde slag, sit die man my vas. O liewe hemel, gaan my skrywerskop. Ek gaan nooit weer die son sien nie. Niemand weet ek is hier nie! Vandag word ek deur ’n 300 pond-bees verkrag!

Goldilocks and the Goliath

Ek probeer my nek terugtrek en kyk wat aangaan en merk op dat Bubba vir hom ’n handskoen aantrek. Meer soos ’n mitten, met net ’n plek vir die duim en vier vingers. Die volgende oomblik druk daai beer daai handskoen op my rug en begin skuur. Skuur, mense, asof die volgende wêreldoorlog van hom en net hom afhang. Ek voel soos ’n vuil pot wat met goldilocks-skaafwol bygekom word. Dit brand, dit pyn en dis vrekken seer. Teen die tyd dat ek my mond oopmaak en "ouch" roep, besef ek dat ek teen dié tyd al heeltemal in ’n falset oorgegaan het. Niks meer boerseunstem in dié bange lyf nie. Kyk, hy’t my daar beet dat die dooie velle op ’n stadium soos slangvelle langs my lê. Ek speel die laaste 20 minute in my kop af. Daai menu het gesê "steam" – niks van ’n moerawiese man wat die dinges uit jou uit gaan skuur nie! ’n Oomblik later skop Bubba aan my bobeen. Ja, mense, skop! Ek kyk verbouereerd op en sien hy wys ek moet omdraai. Nou was die keuse: hardloop of draai om. Ek sien dat al probeer ek vir die deur, die reus my net so gou met sy arm nader gaan trek en kies toe maar opsie twee. Ek het behoorlik tot lê gekom en toe skrop daai man amper my hele linker-nipple af. Trane van vrees en pyn het uit my oë geloop en ek het net gehoop en bid die stoom in die kamer versteek dit. Ná wat soos ure gevoel het, staan Bubba op en stap uit die vertrek uit. Nou’s dit my kans, dink ek. Ek loop gou na die deur en pluk dit oop, maar kyk in niks anders as rugvleis vas nie. Bubba staan voor die deur, draai om en wys vir my ek moet teruggaan. Soos ’n alleen soldaat ná die oorlog stap ek maar stert tussen die bene terug en gaan sit op ’n plastiekstoel.

Ag nee sies!

Voor jy kan sê "ek’s-pienker-as-’n-prawn", is Bubba terug met ’n wit emmertjie. Wat nou? wonder ek, maar kyk toe in die trommeltjie. Nou, julle het al almal gesien as julle woefie of katjie gras eet om een of ander rede wat net die hondeboek verstaan? Wel, in die emmertjie lê iets wat op ’n druppel water lyk soos daai selfde honde-spuitpoep waarvan ek praat. Bubba keer toe die stro*tspul op my uit en ek voel ek wil braak. Dit lýk so ... dit vóél so ... maar wag – dit rúík nie so nie. Dis eintlik een of ander spesery of iets. Maar voor ek weet watter spesery dit is, het Bubba my wéér beet en skrop hy my met hierdie harde stukke naeltjies en kruie. Ek weet nie of ek my pyngrens vroeër bereik het nie, maar dié keer is dit amper beter. Hy pluk my toe aan die arm en trek my na die stortkraan toe, waar ek my nou moet afspuit. (Ek neem aan al die geplukkery was omdat hy nie Engels kan praat nie). Dié keer kyk hy na my en sê: "My? My? My?" Ek antwoord toe: "Your what?" Toe tref dit my soos ’n verfkoeël in die paintball-veld dat "mai" "water" in Arabies is. Ek knik toe my kop en Bubba is daar uit.

Ek’s nog nie eers klaar met my koppie water nie, toe klap Bubba my teen die kop met ’n klomp sjampoe in sy handpalm. Weer word ek na die stort gelei en hy beduie dat ek my kop moet was. Ek voer die bevele gehoorsaam uit en uiteindelik word ek toegelaat om die stoomkamer te verlaat. 

Nee, liewe mense, dis ’n dag in my lewe wat ek (of liewer, my vel) nie gou sal vergeet nie.


Klik hier vir kompetisie-besonderhede.