Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Langpad-storiekompetisie: Parys - Toe nie so romanties nie


Marieke Snyman - 2010-07-02

Ek was 18 jaar oud en het besluit om die jaar ná skool vir myself te neem. Om myself te vind, jy weet.

Ek het Europa gaan verken en in Nederland au pair.

Eintlik was ek maar vrek bang om êrens heen te gaan. Dit vat tyd om guts aan te groei om die wye wêreld alleen aan te pak, dink ek. Iets waarvan ek nie in oormaat gehad het nie. Maar desnieteenstaande oortuig ek toe een van my mede-au pairs om vir ’n naweek saam met my Parys te gaan verken. Duidelik moet sulke reëlings nie in twee 18-jariges se hande oorgelaat word nie.

Diana, my host-ma, het ons op die busstasie in Den Haag, waar die toer begin, gaan aflaai. Vyfuur die oggend, might I add. Vandaar kry ons die bus na Eindhoven – nie ’n te aangename ondervinding nie, want die reuke van so 40 plus mense wat meng op ’n bus waar niemand glo in vensters oopmaak of AC gebruik nie, is nie te gesellig nie.

Wanneer dit kom by reis na vreemde plekke, is ek uiteraard op my senuwees. Hoekom, weet ek nie, want hoe erg kan dit wees om op ’n vreemde dorp te beland en nuwe mense te ontmoet en plekke te sien wat jy nie andersins sal sien nie? Moet seker my ma se skuld wees, want elke dag het ek ’n e-pos gekry wat sê: "Wees asseblief versigtig. Dis gevaarlik. Jy is ’n meisie." Etsettera!

So, op Eindhoven kom ons agter dat Riana nie ons toerkaartjies by haar het nie. Die musiek van Jaws begin in my ore druis, my hart begin vinniger klop, my hande sweet en my linkeroog twitch. (Alhoewel – as ek reg onthou, het my st. 7-Biologie-meneer gesê dis ’n tekort aan yster wat jou oog só laat maak. I beg to differ.) Die dame wat ons kaartjies wou sien, moes my seker jammer gekry het, want sy gaan toe maar eerder op hulle stelsel in en print vir ons nuwe kaartjies. Thank God for small mercies, sê dié wat glo.

Terug op die bus en op pad Parys toe. Ek is eintlik ook maar opgewonde, want ek beplan om my droomman daar te ontmoet. Het Tom Cruise nie hoeka vir Katie Holmes op die Eiffel Tower gevra om met hom te trou nie?

Nou ja, soos ek gesê het, ons het al vyfuur uit Den Haag gery. Met die stop in Eindhoven en toe weer êrens in België het ons eers net na ses die aand in Parys aangekom. ‘n Láng dag op ’n bus. Eish!

Ons het ’n uur op ons hande gehad voor ons as toergroep ’n boottrippie op die rivier sou vat om Parys te sien. Ek en Riana het nie eers drie treë gestap nie, of so ’n Oosterse knaap wat deel van die toer is, stop ons.

"I have no friends. May I walk with you? My name is Nur."

Ag jeez, my hart is reeds drie keer kleiner as die res van die samelewing s’n, so nog voor Riana kon refuse, sê ek toe ja. Hy piekel toe maar agter ons aan.

Dit was heel gesellig. Die boottrip was vrek koud – dit was Oktobermaand – maar die Eiffel Tower met sy liggies was asemrowend. Rêrig stunning.

Anyways, die eintlike drama begin eers die volgende dag. Ons besluit toe om nie Versailles saam met die toergroep te gaan besoek nie, want ons wil die Eiffel Tower gaan klim. Ek en Riana en ons nuwe skaduwee, Nur, gaan soek toe die treinstasie.

Ons het lank gesoek. ’n Klein Fransmanseuntjie wat tien woorde in Engels kon praat, beduie maar net in ’n rigting, waarin ons toe stap. Daar gekom, het nie een van ons  ’n clue hoe die kaartjiemasjien werk nie.

Nog ’n Fransman besluit om ons te help. Met ons kaartjies reg, hardloop ons na die trein wat amper gaan ry en Nur is eerste op. Maar net toe ek en Riana wou opklim, slaan die deur voor ons toe. Nur op die trein en ek en sy op die stasie.

Fransman gil toe vir ons: "No worry; I help you," en trek my aan my arm na die naaste bus. Hy beduie iets vir die drywer en dié laai my en Riana op die volgende stasie af, waar – wait for it – Nur vir ons staan en wag.

Eventually kom ons in Parys aan. Word of advice: "Exit" in Frans is "sorti". Weet dit, anders sukkel jy net soos ons ’n halfuur lank om die treinstasie se uitgang te kry.

Die eerste plek wat ons besoek het, was die Notre Dame. Doen jouself ’n guns en gaan op ’n Sondag tydens ’n diens na dié kerk. Kyk, ek gaan nou al jare lank nie meer kerk toe nie, maar as jy die koorgesang hoor en na die mooi vensters kyk en al die ou goed in die kerk sien, daal daar ’n gevoel van vrede oor jou.

Sadly het die vrede nie lank gehou nie, want toe ons uit die kerk kom, kon ons nie uitfigure hoe om by die Eiffel Tower uit te kom nie. En die stasieman is ook nie bereid om ’n woord in Engels te praat nie. Eintlik is die Fransmanne maar drolle, behalwe vir daai eerste een.

My punt is, ons het eers ná middagete by die Toring uitgekom. Ons vat toe die hysbak tot heel bo en verwag a view of all views. Net om ’n bietjie teleurgesteld te wees. Eerstens was dit mistig en tweedens was die lug so vuil dat jy in elk geval nie baie kon sien nie.

Maar my en Riana se name staan ook nou op die Toring geskryf, soos al die  duisende of miljoene besoekers voor ons s’n.

Nur besluit ná dié uitstappie dat hy terug hotel toe wil gaan. Dankie tog. Ek en Riana wou eers die Louvre-museum gaan sien.

Ons kom toe by die museum, net om te sien dat dit reeds toegemaak het vir die dag. Ai!

Ons besluit toe maar om ook ’n einde aan die dag te maak en terug te gaan hotel toe.

Eers klim ons op die verkeerde trein (te danke aan nog ’n Fransman wat weier om Engels te praat) en beland heeltemal aan die ander kant van Parys as waar ons wil wees. In plaas daarvan dat ons in trane uitbars, soos wat enige normale persoon sou doen, begin ons toe onbedaarlik lag. Seker maklik tien minute lank.

Ons klim toe maar terug op die trein, ry terug Parys-sentraal toe, en soek iemand wat ons in Engels kan help. ’n Gawe omie kry ons toe jammer en help ons op die regte trein.

Skaars vyf minute later kyk ek en Riana na mekaar en besef ons dat ons nie weet waar ons moet afklim nie … Ek vermoed ons het twee of drie stoppe te vroeg afgeklim. Daar was twee mense op die stasie wat tussen die twee van hulle net ses woorde in Engels kon praat.

Die vrou sit ons toe op  bus wat ons in die middel van nêrens aflaai.

Kyk, op daardie stadium was ek reg om in serious trane uit te bars. Maar om Riana se onthalwe het ek my ingehou. Sy het leiding oorgeneem (eintlik was sy nog die heeltyd “in beheer”) en in ’n rigting begin stap. En ek het al agter haar aangepiekel.

Ons het so halfses besluit om terug te gaan hotel toe, en ’n trippie wat op die langste net so ’n halfuur moes duur, het ons meer as ses ure gevat. For reals. Ek en Riana het eers daardie aand, of die volgende oggend, by die hotel aangekom.

En om als te kroon, het ek nie eers my droomman ontmoet nie.

So waarop dit als neerkom, is dat Parys nie regtig “the city of romance” is nie. En dat Fransmanne drolle is.

 

Klik hier vir kompetisie-besonderhede.