Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Langpad-storiekompetisie: Busrit in Rusland


Katrina - 2010-07-02

Novgorod, Rusland, 2002. Ná aandete besluit ek en Kim om ’n bietjie deur die park te gaan stap. Hierdie tyd van die jaar is dit nog tot elfuur in die aand heerlik lig en dis ’n Sondagaand. Hoë bome troon dig om ons en oral is daar paadjies wat kruis en dwars loop en kafeetjies en kiosks waar ’n mens iets kan koop om te eet of te drink.

Dit is ’n vreemde aand, met ’n vreemde atmosfeer. In die middel van die park kom ons op ’n groot spuitfontein af waar ’n man musiek maak op ’n trekklavier. Soos reusedwergies en ‑kabouters skuifel twintig of dertig oumensies op die maat van sy musiek rond. Niemand sê ’n woord nie, maar hulle oë is op ver plekke. Daar is meer vroue as mans en baie van die vroue dans met mekaar terwyl die ander op bankies sit en kyk.

Die mense in die park se kleredrag is fassinerend, met ’n opvallende kontras tussen die ouer mense en die jongetjies. Dit is duidelik dat die jongmense modern en westers probeer aantrek, alhoewel dit voorkom asof hulle so ’n paar jaar agter die mode is, heel waarskynlik omdat die meeste Russe nog steeds nie veel geld het nie. Sommige van die meisies is oordadig blink aangetrek, met ekstra kort mini’s en sandale met ekstra dun en hoë hakke. Van die ouer mense is baie deftig aangetrek, terwyl ander weer slonsig oorkom. ’n Mens kan amper nie besluit of iemand net arm of haweloos is nie. Die meisies loop meestal twee-twee of drie-drie saam, nooit in ’n groter groep nie en selde saam met mans.

Verder in die park in gaan sit ons by ’n tafeltjie om na die mense te kyk. So twintig meter van ons af is daar ’n groepie van drie mense wat soos boemelaars lyk, verwaarloos en afgerem. ’n Vrou en twee mans. Een van die mans speel trekklavier terwyl die vrou alleen en in ’n wêreld van haar eie dans.

Ons sit net ’n rukkie en dan sê Kim dat die park haar kriewelrig laat voel, asof dit slegte vibrasies afgee, en dat ons liewers moet terugstap hotel toe.

Maandag ná ontbyt voel die pad tussen Novgorod en Moskou eindeloos. Dit is duidelik een van die hoofroetes in Rusland met stringe groot, afgeleefde trokke wat lyk asof hulle oorblyfsels uit die Tweede Wêreldoorlog is en bokskarretjies – Lada, die Russiese maak.

Oral langs die pad doem stalletjies op, lukraak, tussen niks en nêrens nie. Party van hulle verkoop een of twee items, terwyl ander hulle ware ordentlik uitstal. Op ’n kol sit ’n vrou met ’n outydse tipe koffiekonfoor alleen langs die pad, klaarblyklik om koffie te verkoop, met haar baba in ’n stootwaentjie langs haar en niemand anders in sig nie.

Een van die seuns het ’n Beatles-CD vir 60 roebels (R20) gekoop en ons luister daarna oor die bus se musiekstelsel. My hart sak in my skoene toe ek iewers op ’n padteken lees: MOCKBA MOSKVA 420. Dis mos in St Petersburg waar ons gehoor het dat die Russiese myl langer as die gewone is! Die pad lyk oneindig reguit en vervelig en dit word al hoe warmer. Van twaalfuur af begin Ludwig al uitkyk vir ’n plek wat groot genoeg is sodat ons middagete vir 54 mense kan koop, maar ten spyte van die een klein dorpie op die ander sien ons niks van die pad af nie.

Om kwart voor drie ry ons uiteindelik ’n groot dorp binne wat ’n supermark het waar ons middagete kan kry. Ironies genoeg is die dorp se naam Tver, ontleen aan die Tverrivier wat daardeur loop. Die bus parkeer en ons moet oor die straat na die supermark toe.

Van Tver af is dit nie meer so ver na Moskou nie. Selfs die karakter van die dorpies wat ons teëkom, lyk of dit begin verander, moderner word. ’n Mens sien dit aan die detail van hulle huisies, dikwels met wit omraamde vensters – hier en daar selfs ’n paar blommetjies voor die huis. Die straatsmouse word ook al hoe meer; plek-plek is daar rye en rye gedroogde vis wat aan staanders hang. Die ware word ook moderner: helderkleurige strandhanddoeke oor ’n heining – selfs strandballe. Net om ’n ent verder afgewissel te word met ’n groenteverkoper met iets wat amper soos wilde spinasie lyk.

Ons ry nog so rustig en slaperig voort wanneer ’n Lada-karretjie reg voor die bus inry en vir Ludwig wys dat hy agtertoe moet kyk – ’n donker rookwolk borrel by die bus se enjin uit. Die bus kom dadelik tot stilstand en ons klim uit. Dit is nie juis die ideale plek om gestrand te wees nie, want dis aan die buitewyke van wat soos ’n groterige dorp lyk. Reg langs ’n stowwerige grondpadingang waar groot lorries uitgery kom. Daar is ook nêrens buite plek om te sit nie, maar darem ’n tipe sypaadjie. Ons staan daar rond terwyl ’n paar seuns met ’n bal begin speel.

Twee weermagouens stop en vra of hulle kan help, maar taal is ’n probleem. Hulle kliek egter dat Ludwig Duits praat en beduie dat hulle iemand sal gaan haal. Kort daarna keer die mans terug, hierdie keer met iemand wat kan tolk. Tot ons groot verbasing sê hy dat daar ’n McDonalds ’n kilometer vorentoe is en Ludwig besluit dat ons maar teen ’n slakkepas daarheen moet ry. Ten minste sal ons daar iets te ete kan kry, aangesien ons verseker aandete in Moskou gaan mis.

Almal se magies is vol McDonalds wanneer ons die pad verder aandurf. Ek sit voor op die trappies toe ons ry en vra Ludwig op ’n stadium uit oor presies wat hy gedoen het om die enjin reg te kry. Terwyl hy nog besig is om te verduidelik, vang sy oog skielik die tru-spieëltjie, en dan is daar chaos. Die enjin is aan die brand en Ludwig moet die bus so gou moontlik tot stilstand bring. Ek is die naaste aan die deur en eerste uit terwyl almal agter my saamkoek. Dan sien ons dat die agterste deur nog toe is en dat van die seuns in die bus vasgekeer is. Dit duur gelukkig net ’n paar sekondes, maar uiteindelik is almal doodverskrik en kort van asem aan die buitekant, terwyl Ahrmen die vlamme met ’n brandblusser probeer doodkry.

Bedremmeld en moeg wag ons langer as ’n uur vir ander busse om op te daag. Hulle arriveer, oud en lendelam, en al die bagasie moet in die agterste deel van die bus inkom.

Dis lank ná middernag toe ons uiteindelik Moskou se liggies op die horison sien naderkom ...

 

Klik hier vir kompetisie-besonderhede.