Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Slypskole | Workshops > Afrikaans > Poësie

SkryfNet XXV: Androïed – ’n selfportret (finale weergawe)


Lee Beeslaar - 2010-06-30

Die Sanlam/LitNet Aanlynskryfskool: SkryfNet XXV - Poësie
Finale weergawe van Lee Beeslaar se gedig:

 

Androïed – ’n selfportret

“Your system has encountered a serious problem and needs to shut down …”

Die spieël kaats brokkies menswees terug;
elektriesblou die skerwe van die oë
wat desperaat soek na beheer voordat jy vlug –
weg van 'n kind se onvermoë.
         Wis uit die frons en glimlag
         Want menswees
         en emosie
         is verdag.

Oefen tot dit maklik word.
Elk’ spier moet glad en goed beheersd vertoon.
Die kortsluiting in die moederbord
vereis dat jy jouself verloën.
         Pantser met teenvirus
         en brandmuur
         die lus,
         die vuur.

Behou die kragbron deur te funksioneer;
rudimente van organiese ontroering
onverbiddelik weer en weer
na die herwinningsblik te bring.
         Niemens tussen mense
         staan verstom
         oor grense
         wat verdom.

Onmenslik vreemd verstrengel
in geslote kringbane van dwang
lê die hart kwesbaar en bengel
tot die tyd jou eindelik vang.
         Sluit af die koppelvlak,
         maak los;
         laat knak;
         verlos.



<< Terug na SkryfNet XXV <<