Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Slypskole | Workshops > Afrikaans > Poësie

SkryfNet XXV: Aflos oor tydsones (finale weergawe)


René Lötter - 2010-06-30

Die Sanlam/LitNet Aanlynskryfskool: SkryfNet XXV - Poësie
Finale weergawe van René Lötter se gedig:

 

Aflos oor tydsones

Wanneer die son aan hierdie kant van die aarde opkom
en die voëls by die water kom drink
hou my droom op soos joune anderkant begin.

Soos jy aankom waar ek pas vertrek het
wanneer die slaapnewels uit my brein begin verdamp
en die sluiers om joune begin vou
satellietfoto’s van ’n orkaan
’n draaiende massa wolke en wind
wonder ek of jy my sou kan voel
as ek afbuk en ’n snawel saggies in die maalkolk druk –
die donker poel van jou onderbewussyn.

Miskien roer jy tog, mond vol slaap, vee jou hand oor jou wang
en dan, soos die kabbels van my indring langsamerhand verdwyn
seil jou droom onverstoord voort.

Ék, die oog van jou storm.



<< Terug na SkryfNet XXV <<