Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Langpad-storiekompetisie: Perde


Susan Hattingh - 2010-06-30

Tant Ralie en oom Daniel het in die vyftigerjare in Amalia naby Sweizer Reynecke gewoon. Hulle was in standerd vier so verlief op mekaar dat hulle ouers glad nie verbaas was toe hulle in standerd sewe afgehaak het en ewige trou aan mekaar gesweer het nie.

Tant Ralie het net so hard soos haar man gewerk en haar dierbare man het op sy beurt ook help kinders bad en grootmaak. Hulle was mekaar se beste vriend en het deur al die op en af van die lewe as 'n span saamgewerk.

Tant Ralie en oom Daniel het 'n goeie huwelik gehad. Nagte lank is gepraat oor die toekoms van die land, die toekoms van die kinders, die toekoms van die kar, honde en katte. Vir die 40 jaar wat die twee getroud was, het hulle saam opgestaan, saam geboer en ook saam na die dokter toe gegaan. Tussen die twee was daar 'n formidabele wedersydse respek vir die ander een en 'n lojaliteit wat 'n spioen kon beny.

Die twee is toe ook saam na die dokter toe.

Hulle het onseker in die wagkamer gaan sit. Die ervaring om na die dokter se plek toe te moet ry, was heeltemal nuut vir hulle. Dit was in een-en-twintig jaar nie nodig dat die dokter na hulle toe moes kom nie; die kinders was toe al almal gebore.

Tant Ralie was op haar senuwees. Sy kon weens haar delwerygeskiedenis nie lekker hoor nie, maar oom Daniel was by haar en hy het in elk geval die meeste van die tyd alles vir haar herhaal by die huis.

Toe die nuwe dokter uitloop uit die spreekkamer en haar lêer optel, was sy uit die veld geslaan!

Hier voor haar, in wit pajamas, het 'n jongman van in die twintigs gestaan met die allerwitste glimlag en hy het met 'n vreemde aksent gepraat. Die kind het vriendelik sy hand na haar en haar man uitgesteek en toe sy uit pure verbasing niks sê nie, het hy met sy hand gewys dat hulle hom moet volg.

Agter sy lessenaar, met sy stetoskoop om die nek, het hy verduidelik dat hy so pas klaar gestudeer het by die Wittes en dat hy besluit het om sy hysbakjaar in die platteland te doen om sy onblusbare lus vir die natuurskoon te versadig.

Hy het verduidelik dat alhoewel hy Engels is, hy heeltemal in tale kon praat en dat die plat mense in die dorp hom geweldig amuseer.

Tant Ralie het die mannetjie op en af gekyk. Sy het gewonder hoekom hulle nie maar 'n ander Witte kon stuur wat 'n bietjie ouer is en meer Afrikaans kan praat nie. Sy verstaan tog nie hierdie "Queen's language" nie en die oorlog is mos lankal verby. Die Engelsman het aangehou dreunpraat terwyl sy maar na oom Daniel geloer het wat so tussendeur onderlangs vir haar herhaal en vertaal het.

Hy het ook so 'n bietjie vreemd gepraat – soos 'n kind wat 'n bietjie te veel gedrink het – en toe sy vooroor leun, het sy baie duidelik 'n litteken op sy boonste lip gesien wat tot by sy neus geloop het. Sy wou nog vra of hy in die oorlog baklei het toe hy haar gedagtes in die rede val.

"Mevroutjie, ek sien jy neem my merk op," het hy in sy swak Afrikaans gesê. "Mevroutjie, jy sien, soms klein babatjies hulle is gebore met die gat in die hemel," het hy gesê, sy mond wyd oopgemaak en met sy wysvinger na sy voorste tande gewys. "Die dokters maak dan die gat in die hemel reg en dan is die babatjie ook sommer reg," het hy vriendelik gesê en met sy hand geswaai asof hy 'n paar lastige vlieë wegwaai.

Tant Ralie het verstom gesit en luister na die babatjies wat deur die gat uit die hemel val. Die doktertjie het duidelik haar ongeloof aangevoel en besluit toe om die hele storie te staaf met 'n tegniese boek wat hy summier oopgeruk het. "Mevroutjie, dit is die geval van die … hm." Soekend na die vertaling van die mediese toestand het sy vinger al glyend gesoek tot hy die woord gekry het met 'n triomfantelike "Ja! Hier dit is – haaslip!". Hy het die boek toegeklap en dit weer met 'n selfvoldane glimlag herhaal: "Die mediese woord vir wat ek gehad het, is 'haaslip'!"

Oom Daniel het stil geraak.

Tant Ralie het hom in sy ribbe gepomp vir die vertaling, maar hy het net na sy skoene gekyk en wou niks sê nie. 

Dit is toe dat die doktertjie tant Ralie begin peper met vrae.

Hy wou weet of die oom nog aktief is.

Heigent hert! Die oom staan wie weet watter tyd op en loop die plaas plat nog voordat die eerste haan gekraai het! Natuurlik is die ou dier aktief!

Die doktertjie wou ook weet of die oom se druk reg is!

Druk? Heigent hert, die oom kan vir jou daai vleismeulentjie draai dat jy voel die aarde draai saam met jou! Natuurlik is die oom se druk reg.

Die doktertjie wou weet of die oom suiker het, maar hy het hom verseker dat hy net laas maand die grootste sak suiker gekoop het wat nou vir hulle vyf maande lank suiker in die huis gaan gee en nee, baie dankie, hulle wil nie nog suiker hê nie.

Toe is dit tant Ralie se beurt.

Kyk, dit is toe dat die dokter sy hande so voor hom op die tafel vleg, peinsend voor hom kyk en toe uiteindelik vra, terwyl hy nie eens na hulle kyk nie, oor die aksie tussen die lakens.

Oom Daniel het effens gehoes en weer afgekyk na sy skoene.

"Wat sê die kind?" het tant Ralie gevra en oom Daniel tussen die ribbe gepomp, maar hy wou niks sê nie.

Dit is toe dat die vriendelike doktertjie hard met tant Ralie praat, so hard dat die mense buite in die wagkamer hom sweerlikwaar kon hoor toe hy vorentoe leun en skree-praat: "Do you still see some action?"

Tant Ralie het haar oë geknip en dommerig teruggekyk na die doktertjie.

"Sien Mevrou aksie by die bed?" het die doktertjie skril herhaal.

Tant Ralie was nog steeds onseker waarvan die doktertjie praat en besluit toe maar om niks te sê nie.

"U sien, soos die mens oud word, so gaan die aksie minder by die bed," het die dokter begin verduidelik. "Heel natuurlik," het hy bly sing en toe het hy voortgeborduur oor die weer.

Hy het vertel dat groot droogtes kom, lae oeste, en dat mens nie veel aksie moet verwag nie. Hy het gesê die natuur het dit vir hom geleer en daar by die Wittes het hulle twee jaar lank net daarvan geleer. Hy het vertel dat vroue baie geïrriteerd hiermee gaan raak, dat hulle soms op hulle mans gaan skree en dat die gat in die hemel baie warm lug na hulle gaan stuur.

Die doktertjie het voorspel dat oom Daniel baie geduld moet hê met die droë weer, dat hy nie altyd goeie oeste gaan kry nie, maar dat hy moet deurdruk met alles, want eendag is eendag en dan gaan baie mans op perde op hulle voorstoep wees!

In die kar terug plaas toe het oom Daniel alles vir tant Ralie vertaal. Tant Ralie het met groot oë na oom Daniel gekyk en toe sy uit die kar klim om die eerste plaashek vir die oom oop te maak, kon sy nie meer nie en het dubbel oor die hek gevou soos wat sy gelag het.

Tant Ralie het so gelag dat sy nie asem kon kry nie. Oom Daniel het agter die stuurwiel begin ruk van die lag. Dat die doktertjie nou sulke stories kon uitdink!

Die doktertjie van die Wittes het toe sy hysbakjaar klaargemaak en nie eers vir die kerkbasaar gebly nie. Hy is toe vinnig terug Pretoria toe en het nooit weer van hom laat hoor nie. 

Die volgende paar jaar het dit beter as ooit gegaan met die twee.

Wintersaande het hulle saam in die bed gelê en luister na die radio en aksieverhale vanuit die bed herleef. Lank ná die radiostories het oom Daniel vir tant Ralie vertel van die opwinding tydens jagtogte en die keer toe hy die groot diamant gedelf het.  

Wanneer tant Ralie en oom Daniel egter baie verveeld was, het hulle op die stoep gaan sit en kopskuddend oor daai Engelse doktertjie van die Wittes gepraat. Dan het oom Daniel laggend die doktertjie met sy gebroke Engels nagemaak en tant Ralie het weer soos 'n kind uit haar maag gelag. 

Lank nadat oom Daniel gaan slaap het, het tant Ralie soms in die huis rondgeloop. Sy het besef dat die huis in die aande maar bedompig kan raak en dan het sy maar 'n bietjie yswater gaan drink om af te koel. 

Net soms, op pad terug na haar bed toe, het sy met die yskoue glas water in haar hand by die donker voordeur gaan staan en haarself koudgewaai.

Dan het sy die kantgordyntjie effe oopgetrek en na die hek in die donker getuur en gewonder of daar darem net één ding waar gaan word van wat daai Engelse doktertjie voorspel het: Wanneer gaan daai manne dan eendag kom – daai ... wat het hy nou weer gesê – "men-on-horses".

 

 

Klik hier vir kompetisie-besonderhede.