Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Langpad-storiekompetisie: ’n Pampoen by Malips


Johann de Jager - 2010-06-30

As hy nog reg onthou, het Loffie “Ligter” by ons weersiens vertel, moes mens destyds die Olifants meer as kniediep in die water by Malipsdrif deur as jy oor die berg van Ofcolaco se kant af kom. Lyk die drif dalk te veel van ’n bedreiging vir ’n bleeksiel, sodat hy eerder met die grondpad verbyhou in die hoop om ’n brug vorentoe te kry, ry hy al op die wal langs om ná ’n halfuur te ontdek die pad word twee spore, en dié loop later teen ’n dagsoom dood wat as ’n rif van Sekhukhune se kant af deur die rivier kom om alle verdere vooruitgang van wiele te versper. “Presies vir wie is die paaie bedoel, het ek gedink toe ek daar was – bosboupioniers, prospekteerders, sendelinge?”

Loffie se storie dra ook die element van sterkmansintrige wat in die boendoes tuishoort. Ek weet ek kan sy storie glo, want sy bynaam, Ligter, het hy juis gekry omdat hy doer in 1979 se koers ’n Opel Kadet by ’n botsing opgelig het sodat ’n kollega van hom ’n klip onder die as kon inskuif om ’n beseerde man onder die kar se lewe te red. Kyk, Loffie was sterk. Daar was nog meer verhale van sy fisieke vermoëns, maar Loffie het net altyd gesê die manne dik aan in die kroeë as hy nie by is om die waarheid te verdedig nie. Loffie het drank gehaat.

En toe loop ons mekaar ná byna dertig jaar weer in Pretoria raak en praat land en sand oor die ou dae in die noordoostelike laeveld, toe ons nuwe kollegas in die tuisland-ontwikkelingskorporasies was.

“Ja, een oggend trek ek toe mos kort voor sonop uit Giyani weg,” begin Loffie die storie van sy epiese tog met die ou pad Ofcolaco en The Downs oor, soos op ’n ou kaart aangedui. “Engelse name daardie,” las hy by. “Ná die Eerste Wêreldoorlog het ’n klomp afgetrede Engelse offisiere daar grond gekry as aftreebeloning en die naam Ofcolaco gekies vir hulle nedersetting. Dit is geneem uit die woorde 'Officers Colonial Land Company' – so iets. The Downs spreek vanself.” Ek het Loffie se algemene kennis ook bewonder. As die manne in die kroeë gesit en hom belieg het, was Loffie besig om te lees: geskiedenis, heraldiek – sulke dinge. “Weet jy dat Giyani 'oorwinningsdans' beteken?” het hy eenkeer gevra.

Maar sy tog oor die Drakensberg op die dag ter sprake was geen maklike oorwinningsdans nie. “Dit was vroegoggend ná mooi reën. Mooi, man, mooier as mooi,” het hy met ’n vêraf kyk in sy oë die herinnering opgeroep. “En ek onthou dat die Voortrekkers ’n eeu of wat tevore daar iewers oor is. Die waspore is glo nog sigbaar in die sandklip ingegrif naby Trichardtsdal, ’n plek juis vernoem na die trekkerleier. Ek moes eers twee-uur die middag in Pretoria wees, maar het so vroeg vertrek omdat ek juis elke keer ’n ander roete as die gebaande wou ry, met my kamera aan my sy – dié dag The Downs oor soos die kaart aandui, om agter die berg by die Burgersfort-Pietersburgpad weer by die beskawing aan te sluit. Daar was dus agt ure voor om te voorsien vir my passie en moontlike pap wiele of so iets. Ek het die pad Eiland toe gevat by bosgehuggies met mooi name soos Sikhunyane, Ngove en Bambeni verby, om Gravelotte oor Ofcolaco toe te koers; die padkaart oop langs my op die Datsunbakkie se sitplek. Toe ek by Bend Stores oor die Klein Letaba ry, was dit presies halfses.

“Naby Dzumeri moes ek by die rooilyn se kontrolepunt stop, so halfpad tussen die Klein en Groot Letabarivier. Daar het ’n klompie dounat rooibokooitjies nuuskierig opgekyk en spelerig weggebokspring. Ek dink dit was ou Willem Ribombo wat die bek-en-klou-kontrolehek beman het. Hy het die oggend lui-lui uit sy paal-en-grasdakhuis onder ’n mamoet van ’n maroelaboom uitgekom, knipbord in die hand, en vriendelik gegroet. Die heerlike wierook van rooibos of hardekool het by die Datsun se venster ingekom toe ek oopdraai en praat. 'n Bietjie verder, by die sanddriffie in die droë Molototsi, het twee koedoes eers 'n bietjie kopgespeel voor hulle laat spat het. Ribombo het vertel die diere kom soek sy pap-aanbrandsel, of skhoko, op die ashoop. Wat ’n idilliese samelewing.

“En toe kom ek by Ofcolaco op die rand van die groot koorsvlakte aan, waar dit teen die drakensrûe doodloop. 'The Downs', het ’n verweerde padteken die rigting aangedui. Die Datsunbakkie het vinnig neus begin lig soos die pad pás word. Mooi, man. Ek moet jou die foto’s wys. ’n Trop bobbejane het my agterdogtig beloer toe ek vir hulle toet.

“En ek kyk rond, ry stadig, druk die Pentax se sluitertjie aanmekaar, fokus, zoem in. Die paadjie word al slegter. Hier ry gewis nie baie karre nie. Langs die pad staan ’n ou ovaal BP-petrol-advertensiebord, skeef en erg verweer; die groen en geel verf kwaai afgeskilfer. Maar die geboutjie wat eens duidelik ’n vulstasie was, is nou die bobbejane se parlement. Ek kyk rond: links, regs, op – daar is mis op die kruine. Dis afdraand en die bakkie loop self; ek trap net so effens rem. Skielik is daar ’n blits van ’n lig agter in my oë, stof oral in die kajuit en ’n dowwe slag as die Datsun bots en sy masjien doodruk.

“Toe ek weer helderheid terugkry, sien ek dat ’n stuk van die pad in ’n donderstorm moes weggespoel het. Ek het in ’n donga beland, en daar was duidelik geen hulp te verwag nie. Hoe kan so ’n pad nog op ’n amptelike kaart wees, dink ek, en seil by die venster uit om plan te begin maak. Dit was kort voor sewe – nog so iets meer as ses uur om Pretoria te haal, maar hier sal uitkoms broekskeur gaan. Agtertoe kan ek nie – weens die afdraandskuinste is die wal daar hoër as die Datsun se bak. Voor is die wal egter laer, so bufferhoogte. Ek gryp die plat yster wat vir bande omruil bedoel is, en begin grawe. Net gou is ek egter op ’n soliede klipbank. Daar bly dus net een ding oor, en dít is tydrowend. As ons toe maar selfone gehad het!

“Ek dra toe maar ’n paar lekker fris plat klippe nader, gaan lê op my rug in die sloot onder die Datsun, lig hom met my bene van die grond af en skuif die klippe so een vir een onder die as in. Toe ek ná ure die aarde soos ’n altaar onder die Datsuntjie opgebou het tot gelyk met die bokant van die wal, was dit twee-uur! Soek hulle dalk al na my, wonder ek – bel hulle die polisie en hospitale?

“Ek móés vorentoe – omdraai was onmoontlik – en ek bid toe net dat daar nie nog sulke verspoelings moet wees nie. Maar al raak die pad verder aan al hoe meer toegegroei, kom ek darem ongeskonde by Malipsdrif aan. Maar kan ’n Datsuntjie hier deur? wonder ek. Oorkant die rivier sit opdrifsels aan die pragtigste kol wildevye vas wat soos wagters op die rivierwal staan. Blouapies sketter waarskuwingskrete in die hoë kruine; ’n kwêvoël sing vir hulle deskant.

“Ek besluit om ooswaarts, padlangs op die noorderwal, aan te hou. Dalk is daar tog ’n oorbrug vorentoe. Ek is in elk geval nou te laat vir my afspraak in die stad. Ek ry aan. Oral kom sulke rotsriwwe voor wat uit die bergvoet tot in en deur die rivier loop. Die Datsun moet maar dink hy is ’n viertrekwa vandag, smaal ek. Die natuurskoon is pragtig, ongerep.Teen die rotsriwwe groei varingsoorte en Globuligemma-aalwyne, waarvan die laaste bolletjiesbloeiwyses nou verbruin na die winterdrag.

“En skielik is die rif der riwwe reg voor my. Duidelik eindig die tweespoorpaadjie net daar. Ek wonder waar die Pengemyn is. Ek ry al lank in daardie rigting en het gehoop daar sal ’n oorweg wees by so ’n groot onderneming. Maar nee: ikabod – ek moet omdraai. Tog – ek kan nie; daar is nie spasie nie, en ek ry maar in trurat terug op my spore.

“Toe sien ek dit: twee baie dowwe spore wat uit die doodlooppaadjie swenk na ’n strooihuisie half versteek agter hoë riete en tamboekie op ’n wal. Aaa, hier kan ek draai, dink ek en stoot die Datsun se stertkant daar in.

“Ek loer regs in die truspieëltjie. 'Môlo,' hoor ek egter skielik links by die venster. Ek stop. Maar woon hier dan nie net bobbejane nie, dink ek toe ’n mens voor my staan – ’n jong Afrikaan wat met een hand in die lug vriendelik groet. Hy het een van hierdie plastiekpilhouertjies met ’n blou proppie in sy ander hand. Hy glimlag breed toe ek ook praat en vra hoe mens dan oor hierdie rivier kan kom. 'Nô, bêk bêk, by Maliep,' beduie hy met een vinger so wes-noordwes, daar waar ek vandaan kom.

“Ek vra 'n bietjie water; my teebottel is lankal dolleeg. Hy wuif my opgewonde teen die wal uit na die huisie se kant toe. Hy begin van ver af al bevele skree in sy taal toe ons aankom. ’n Ou vrou staan op en verdwyn uit die lapa waar sy gesit en snuif maal het in ’n hol klip.’n Jong vrou kom agteruit aangeskuifel met ’n stoel in die hande, wat sy neersit en ook verdwyn. Die jong man beduie laggend ek moet gaan sit. Hy self neem op die lae muurtjie van die lapa plaas. Die jong vrou kom weer tru aan, sit ’n kleipot koel water by die man se voete neer, klap haar hande en verdwyn.

“Ek ken die gebruike van die Afrikane 'n bietjie en vra dus nie uit oor hulle vroue se gedrag voor wit mans nie. Ek vra die man egter uit oor homself. Nee, dis sy huis dié, maar net sy ma en sy vrou bly hier. Hy self werk op die myn in e-Goli. Hy is met sy jaarlikse verlof hier. Kontrakarbeiders soos hy word makrappa genoem.

“Ons gesels later soos ou vriende. Hy skree weer iets en die jong vrou bring ’n gevlegte grasbak met turksvye. Heerlik – sulke groot vettes, borriegeel binne. Maar wat doen hy daar in die lang gras met die pilhouertjie in sy hand, wil ek weet?

“O … Nee, hy vang bosluisies – die minuskule klein saadbosluisies wat teen grasstingels opklim as mens of dier naby hulle beweeg.

“En dan, wat doen hy dan met die bosluisies?

“Nee, hy vat dit saam as hy weer teruggaan e-Goli toe, en dan gooi hy saans so een maal per week ’n paar luisies op sy bors uit as hy gaan slaap, om hom te byt.

“Gits, waarvoor? vra ek verbaas.

“Nee, as die makrappa dit nie doen nie, en hulle kom ná ’n jaar weer terug by die huis in die tuisland, dan word hulle baie siek. Die bosluisies hou hulle gesond, maar daar is nie sulkes in e-Goli nie. Hulle moet dit maar hier vang en saamneem.

“Kan jy nou glo,” lag Loffie in bewondering, “dis hoe hulle hulself immuniseer. En bly hulle vir ’n jaar daarsonder op die hoëveld, verloor hulle die immuniteit en word hulle siek, soos hy sê, as hulle weer in die bos kom en hier eers gebyt word.

“Dit was nou ’n kostelike ondervinding, dié dag. Toe ek ry, loop die jong man al langs my bakkie en vertel my hoe bly hy is dat ek kom kuier het. Skielik stop hy my met sy opgehefde hand, skop ’n hoop droë gras wat langs die pad lê, oop en bring vir my een langnekmaranka van die handjie vol wat daar onder die gras teen bobbejaanoë beskut word. Hy lag die spierwitste lag terwyl hy die maranka na my toe uithou. 'Thank you for coming,' sê hy. 'Here’s a pampoon for you.'

“Kostelik, maar pampoon is darem so half Afrikaans. Dalk het hy al ’n paar Boertaalwoorde in e-Goli geleer, maar pampoon is een van my kosbaarste herinneringe aan ’n dag vol drama,” sug Loffie. Dan buig hy skielik nader. “Jy skilder mos, Koos,” sê hy. Skilder nou vir my ’n langnek‑ knoppiesrige geelgroen maranka in twee swart hande, asseblief man. Ek sal vir jou ’n botteltjie gesuiwerde water by die supermark koop, en sommer ’n bakkie klaar skoongemaakte turksvye ook.

 

Klik hier vir kompetisie-besonderhede.