Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Langpad-storiekompetisie: Paradise se rally


Ignoramus - 2010-06-30

Ek het al baiekeer net gaan sit en wonder hoekom ek so graag ’n bike rally bywoon. Ek het nie antwoorde nie. Ek weet nie hoekom nie. Eintlik is dit net ’n bymekaarkomplek van ’n klomp bikers wat heel naweek nie wil bad of skeer nie, en lus is om in ’n klein, ongemaklike tentjie tussen duisende ander bikers te gaan kamp en ’n paar lang biere weg te sluk, en grootskaals probeer om onderhoudend en sinvol stront te praat. En dís net die vroue. Die mans is nog erger …

My lekkerste rally bly die Paradise. Dalk omdat die omgewing so mooi is en die rit soontoe nie vervelig en doodreguit voor jou uitgestrek lê nie. Maar daar is iets anders ook. Ek het al heelwat rallies gedoen. Die Buffalo in Aliwal en onlangs weer in Mosselbaai, die Rhino in Harrismith, die Impala in Harties (nooit weer nie), en ek wil nog altyd die Flamingo doen. Veral noudat daar nie meer ’n handbriek is wat my kan keer nie.

Maar die Paradise bly die lekkerste. Die herinneringe ook.

2008 se rallie in Graskop was my eerste Paradise. Onvergeetlik. En nie net die ongelukke op pad soontoe nie.

Hulle moes hom van die muur afskraap. Die Long Tom Pas is bekend daarvoor. ’n Lekker sweeping draai wat net skielik ’n haarnaald word. En vele bikers het al in daardie strik getrap. Met katastrofiese gevolge. Sy trippie na die Paradise Rally het by die ander paradys geëindig. Hopelik. So ook nog vyf ander s’n. Net so, skielik, oombliklik. Met geen kontakdetails daarna vir ’n sewe maande oue babatjie wat agtergebly het nie.

Dit sit jou terug op jou sitplek en jy maak die versneller toe. Nie doelbewus nie, maar hier diep in jou agterkop praat ’n stem met jou. Om elke draai is jy net versigtiger. Sien heeltyd die prentjie van die bloed en die stukkende fiets en die helikopter wat in die pad sak. Want jy soek nie daai moeilikheid nie.

Die naweek het nog nie eens begin nie en die atmosfeer is gedemp. Maar dit verander vinnig. Jou geheue blok vinnig uit en jy lewe vir die oomblik. Saam met 10 000 ander ouens en vroue met fietse wat die lang pad Graskop toe aangepak het. Party van so ver as Namibië af – Zambië selfs. Baie van Johannesburg en omgewing. Jy probeer partykeer net bereken hoeveel geld daar op twee wiele staan. Miljuisende. Om vandag ’n fiets te ry, is nie meer goedkoop nie. Dit is lankal nie meer net die skollies wat fietse het nie. En jy probeer bepaal wat dit die ekonomie kos om so ’n klomp mense die naweek af te gee. Maar dit kos eintlik niks. Die ekonomie glimlag al die pad. Graskop lag groot. Want almal koop kos en bier en petrol en T-hemde en hoedjies en goeters vir die fietse, en vir kinders by die huis. En dit hou die heel naweek aan. Die koopkrag droog nie op nie. Hoe natter die keel, hoe oper die beursie.

Wat doen al hierdie mense as hulle terug is by die huis? Direkteure? Bestuurders? Adminklerke? Begrafnisondernemers? Maar hier staan hulle met een stel klere vir die hele naweek, leerbaadjie en broek, spesiale skoene. Swart T-hemp, kepsie. En die meeste het oorbelle en tatoes en ringe deur die lippe en is ongeskeer (vroue ook!), en hulle lyk sommer rof. Want ’n rally is rof, hoor. Jy is daar om rof te wees, om te lyk of jy nou enige tyd iemand gaan platmoer, sommer net omdat jy kan. Of wil. Of omdat sy fiets nie so mooi is soos joune nie. Jy soek die rofgeit. En almal kuier saam, grootoog in die pad waar die wille woestes wheelie en stunts doen so tussen die skare deur. En kuier laatnag in die tent waar Mej Paradise aangewys word, al is sy vergane se dae nie meer 23 nie. En sy het ’n tatoe van ’n gheko op haar tiet.

En ná alles onthou ek die stories. Dalk die rede hoekom ek eintlik gaan rally. Die ry soontoe en terug, natuurlik, want ek is ’n biker, maar die stories is die lekkerste:

Pinkie, wat so met haar sagte tieties toevallig (of nie) teen my bo-arm druk. En ek sal altyd wonder of ek die geleentheid gemis het. Maar selfs al het ek ná 22 jaar die ring finaal in die kas gebêre, is ek nie cheap nie. Maklik miskien. Maar nie cheap nie.

Die keffende jongeling wat ná ’n stamgeveg tussen twee dorpe eenkant staan en kommentaar lewer, ver genoeg weg sodat hy nie weer gemoer kan word nie. En gróót Willie met die klein hartjie wat die volgende oggend vir hom sê: “Mannetjie, ek hoop jy is môreoggend nege-uur in Graskop se kerk, sodat jy kan gaan dankie sê dat ek nie opgestaan het en jou kom bliksem het nie.”

Die jong outjie wat nie kan ophou om na Mej Paradise se gheko te kyk nie, en dan kliphard vir sy ma sê: “Ek is nou so jags, ek gaan spyker sommer my eie vrou.”

Die twee jongelinge Dawid en Jonathan, skaars 20, wat hulle kleure by Speed Freaks in Witbank verwerf het en die oggend geteer en geveer deur die strate geloop het en nou, 00:00 die nag, akkedissies op hulle bo-arm tatoeëer. Sonder om ’n oog te knip, al weet ek dit is seer. Dawid ry ’n 1 000 cc-fiets – dis ’n vinnige een. Ek vra hom: “Ry jy darem versigtig?” En hy sê ewe ernstig: “Ja, Oom.” Maar Jonathan lag oopmond en sê: “Behalwe as ons wheelie, en toe ons hiernatoe gery het.”

Ek hoop Paulus by die hek van die ander Paradys het ’n sin vir humor.


Klik hier vir Ignoramus se blog op LitNet-blogs.

Klik hier vir kompetisie-besonderhede.