Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Langpad-storiekompetisie: Die reis Knysna toe


Ouboet - 2010-06-30

Aan die einde van my derde jaar het ek tussen twee verkoopstoere ’n stukkie naastediens verrig. Oom Meyer, die buurman nie wie hierbo verwys word, het my gevra om sy kar Knysna toe te bestuur. Oom Meyer was ’n baie aangename mens wat die lekkerste “curry” gemaak het. Hy het op sy oudag besluit om weer te trou – met sy oorlede broer se vrou, wat in Knysna gebly het. My taak was om hom en al sy aardse besittings met sy nuwe Datsun 120 GX Knysna toe te neem. Hy het vir my ’n treinkaartjie vir die rit terug gekoop.

Met sy kontakte as afgetrede spoorwegamptenaar het hy vir my my eie coupe gereël. Hy was van mening dat ek plek moes hê as ’n geleentheid hom sou voordoen. In elk geval, die pragtige blougroen GX het behoorlik gehang van al die bagasie. Op die agtersitplek was ’n enorme trommel. Ek moes die sitplekke tot heel voor skuif om die groen trommel in te kry. Met my lyf van ’n volle ses voet ses het ek moeilik ingekom en elke keer die flikkerlig met my knie aangesit as ek die koppelaar of rem trap. In daardie tyd was die GX een van die heel vinnigste klein karretjies op die pad. Oom Meyer was haastig om by sy nuwe bruid te kom en het gereeld gesê: “Trap haar, Loewie – vanaand is die aand ...”, verwysende na die ou girl wat uitsien na sy koms.

So gesê, so gemaak en in ’n rekordtyd hou ons voor die bruid se huis stil. My hele lyf was seer en toe ek uit die kar klim, het ek kompleet soos ’n kameelperd wat water drink, gelyk. Ek moes eers drie dae of wat by hulle oorbly. Een aand het hulle vir my ’n date gereël. ’n Heel skaflike, mooi meisie het my met haar Volvo kom haal en ons het ’n paar drankies by die Beacon Isle in Plettenbergbaai gaan drink en langs die see gaan loop. Die laaste aand het ek Knysna te voet verken. Ek het ’n mooi wit langmou- T-hemptipe kledingstuk met “Universiteit Pretoria” op die bors aangehad. Soos die fruit salad (gestreepte Tukkiebaadjie wat wondere verrig het tydens die verkoopstoere) trek die wapen met die ossewa, die drie ringe en die by groot aandag, veral in afgeleë plekke met min hubare talent.

Tydens my verkenning stap ek toe toevallig by die stadsaal verby. Daar was ’n enorme makietie met mooi boeremusiek aan die ontplooi, iets soos die jaarlikse duikklub- of visvangdans. Buite die saal het ’n pragtige meisie gestaan, alleen, mistroostig in die liefde verlaat en het met brose en gekweste oë ’n oplossing in die soel aandlug gesoek. Haar metgesel is op die nippertjie vir hoër diens opgeroep. Sy kon die duur kaartjies nie betyds van die hand sit nie. Ek het gou kontak gemaak en haar ook oor my status as enkeling meegedeel. Soekende mense snap gou. Daar was egter een groot beperking. Die geselligheid was erg formeel.

’n Kort debat het vir ’n gangbare oplossing gesorg. Ons is met haar Volla daar weg en ek het eers my enigste en erg gekreukelde langmouhemp onder in my tas gaan uitkrap. Daarna het ons ’n das by haar pa gaan leen en ek en my nuutgevonde metgesel het by die luisterryke geselskap in die stadsaal aangesluit. Dit was een enorme groot fees met kreef, kwaliteit wyn en die allerbeste én pragtigste dansmaat denkbaar. Mens lees gewoonlik van geleenthede soos dié in Tryna du Toit se storieboeke.

Die treinrit terug was ook lekker. Op ’n stadium het ons een van die steilste opdraandes spin-spin tegemoetgegaan. As stoker ken ek hierdie spin-en-vat-aksie baie goed. Hulle ruk jou vuur meestal uitmekaar.

 

Klik hier vir Ouboet se blog op LitNet-blogs.

Klik hier vir kompetisie-besonderhede.