Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Langpad-storiekompetisie: Wadi Bih en sy mense


Anneke Pelser - 2010-06-30

Die Grand Canyon van die Verenigde Arabiese Emirate – só word Wadi Bih allerweë beskou. Dis maar net een van talle droë rivierlope of valleie in die noordelike deel van die Hajar-gebergte van Oman. En een keer per jaar word die 72 km Wadi Bih Run hierdeur gehardloop.

Sekere tye van die jaar kan wadi's doodsgevaarlik raak. Dis dán wanneer ’n vloedgolf water van ’n veraf reën kampeerders onverhoeds kan betrap en meesleur na wie weet waar.

Toe ons vir die vierde keer saam met vriende op hierdie roete tussen die berge in ry, lyk die omgewing bekend: massiewe, loodregte rotswande, oneindige klowe en valleie, eeue oue klip- en modderstrukture.

Maar elke keer sien ek iets wat ek die vorige keer gemis het. Soos die keer toe ons gestop het by die uitkykpunt hoog bo-op die berg, anderkant die skurwerif-rante. Dit was feitlik eenduisend meter bo seevlak. Ons het uitgeklim, geluister na die gesuis van die bergwind. Ver ondertoe het die blouklip-wadi soos ’n stroom water gekronkel.

“Kyk net bietjie na daai silhoeët van die bergriwwe,” sou Ma nou gesê het. “Dit lyk soos ’n oubasie wat op sy bed lê en rook.”

Ek draai my kop skuins. Het ek my verbeel of hoor ek ’n rietfluit? Dit kom van iewers skuins-regs boontoe: ragfyn, suiwere rietfluitklanke! “Kan nie die wind wees nie,” het ek gedink. Toe ek opkyk, het oompie Blokfluit daar gesit. Salig van onder sy palmtakafdakkie speel hy vir sy onverwagse gehoor die mooiste melodieë.

Vandag is daar niks – net ’n warm wind teen my wang. Dis midsomer. Die kraaie gaap!

Etenstyd stop ons onder ’n effense koelteboompie; pak die braaier, stoele en koelboks uit. Die alomteenwoordige Arabiese langhaarbokke met hulle mosterdgeel albasterogies kom loer nuuskierig of ons iets te aas het. Al dra ’n bok ’n goue ring ... Spelenderwys gooi ek ’n beentjie vir Bella. Die spleetogies blink; sy kou girts-girts tot niks oor is nie.

“Moenie soos ’n perd kou nie,” sou Pa gesê het. Vanuit die oorkantste kranse blaf die ander krulhorings kompleet nes bobbejane.

’n Paar vet, oranjebruin perdebye is oral om die Coke-blikkies en al hier teen Chris se been op, onder sy wyepypkortbroek in. Hulle soek heuning!

“Ons gaan net nie aan mekaar steek vandag nie, nè?” spot ek. Laat staan tog die lollery – die hospitaal is ver! Uiteindelik kou die perdebytjie ’n stukkie vleis – amper so groot soos hyself – van die ander oorskietbeentjies af en vlieg sukkel-sukkel daarmee weg.

Dan weer aanstoot – voor donker moet ons deur die berge wees.

Uit die hoek van my oog sien ek hoe die ou man met sy wit T-hemp en ewe wit lendelap soos ’n rats boerbok oor die klippe teen die steilte af aangedraf kom. Kierietjie omhoog. Aan sy lyfband hang ’n blink mes ...

Die vorige keer toe so iets gebeur het, het ek blitsig my veg-of-vlug-opsies oorweeg; wou ek, Suid-Afrikaner, grond toe duik en die sleutels weggooi – so ver as moontlik!

Ons beste Arabies is maar skraal, maar een woord is duidelik: “Dibba.” Hy wil saamry Dibba se kant toe. Chris sal moet opskuif. Hy’s baie onwillig, want oompie Skerplem lyk dan so gevaarlik!

“Ons is darem gewapen,” spot ek. “Met kameras én GPS!” Hy gee bes.

By die afdraaipad na Zhigi toe babbel oompie Skerplem weer iets. “Gallas,” sê hy. Dis ver genoeg, dankie. Hy wip uit die kar uit, pose vir ’n foto en groet ons met die hand.

Toe ons die laaste draai vat uit Wadi Bih uit, dring die besef tot my deur: ’n normale wêreld is nie aggressief nie, nie bevooroordeeld nie, nie altyd wantrouig nie.

 

Klik hier vir kompetisie-besonderhede.