Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Langpad-storiekompetisie: Lourdes


Katrina - 2010-06-30

Sondagoggend, einde Julie 2001. Dis reeds warm so vroeg in die oggend hier in Madrid, Spanje. Gister was ons in Toledo – die mooiste antieke stadjie op ’n berg. Ná ontbyt het ek vir oulaas deur ’n paar straatjies geloop om die stad se prentjies in my kop te kon bêre. Vandag ry ons na die noorde van Spanje – gelukkig nie weer deur die bar semi-woestyngebied soos ons gekom het nie. Toe het ek verwag om enige oomblik ’n lui donkie agter ’n kaktus te sien verskyn. Beslis nie die materiaal vir drome wanneer jy reeds vir ’n rukkie weg van jou huis en jou mense is nie.

Vandag se landskap is bergagtig en ook rotsagtig. Die gras is droog en het ’n diep goue kleur, maar die bome is immergroen. Dis mooi en anders. Hierna gaan ons in die Bask-area van Spanje in. Daar is oral spatsels dorpies langs die pad en ek wens ek kon daar iewers deur ’n kombuisdeur stap en om ’n tafel sit en gesels ...

Die lug is heerlik koel, in teenstelling met gistermiddag. Ek besluit dat hierdie deel definitief die mooiste van Spanje is, met Barcelona kortkop in die tweede plek. Dit is later groen op groen op groen en elke stukkie grond lyk of dit intensief beplant en bewerk word. Ons gaan oor die grens in die Baskiese deel van Frankryk in. Hier is ’n dieper groen, malse kleure, digte, welige plantegroei en bome.

Ons arriveer laatmiddag in Lourdes, “a quaint little town” volgens iemand in die groep se beskrywing. Dit is verfrissend anders, skoon, mooi, met ’n plattelandse atmosfeer. Dit is steeds verstikkend warm. My en Donna se kamer is reg bokant ’n betonblok, wat die hitte nog meer reflekteer; dus hou dit nie veel sin in om die vensters oop te maak nie. Daar is ook nie lugversorging nie. Nadat ons tasse aangekom het, gaan ek ’n entjie stap, net om ’n bietjie vars lug te kry. Eers sit ek op ’n grasbank oorkant die hotelletjie en kyk hoe die mense verbyloop, hoe gesinne gaan stap. Twee dogtertjies speel daar, rol skaterend teen die graswal af.

Ek loop nog ’n blok verder om. ’n Paar meter voor my probeer ’n vrou die plante voor haar winkeltjie met ’n sproeier natmaak en sien nie dat ’n ander vrou agter haar verbyloop nie. Sy spat haar papnat en vra vreeslik om verskoning. Die nat vrou kyk na my, glimlag en sê: “Douche.” Die ander een glimlag ook vir my en verduidelik in Frans wat gebeur het, min wetende dat ek nie ’n woord verstaan wat sy sê nie. Nogtans glimlag ek breed terug omdat ek so onverwags in hierdie klein toneeltjie kon deel.

Ná aandete besef ek eers dat omtrent driekwart van die groep Rooms-Katolieke is wat al baie lank daarna uitsien om uiteindelik hulle pelgrimstog na Lourdes mee te maak. Toe Ken, ons toergids, vanmiddag agtergrondinligting gegee het, het ek geslaap – net wakker geword toe hy gesê het hoe laat aandete sou wees! Nou vind ek uit dat ’n meisie met die naam Bernadette iets soos agtien visies van Maria hier gehad het – “our Lady”, noem hulle Maria. Mense kom nou van heinde en verre as pelgrims hierheen en vanaand word daar ’n groot optog met brandende kerse gehou.

Nege-uur loop ons in ’n groep straat-af en onder by een van die winkeltjies koop almal wat wil kerse en houers om heilige water in te sit. Al die winkeltjies is toegestapel onder Katolieke aandenkings.

Hoe nader ons aan die plek beweeg, hoe meer mense begin in die strate saamdrom, almal op pad na die Grotto. Hulle kom van orals, sonder enige lawaai, heel rustig. Niemand is haastig nie en almal lyk of hulle presies weet waarheen hulle op pad is. Net ek vergaap my stil-stil, half uit my Protestantse vaarwater. Wanneer ons bo kom, is daar al ’n digte bank mense. Daar is ’n hoë kerkkonstruksie met trappe aan weerskant wat die vleuels boontoe oplei. Aan die agterkant is die Grotto, verduidelik Ken, en hy wys ook waar die fontein met heilige water is. Die groep gaan aan die stertkant van die prosessie staan en dié van ons wat net waarnemers is, klim verder met die trappe op tot bo.

Dit is ’n gesig waarop ek nie voorbereid was nie, ’n atmosfeer wat my byna oorweldig. Ons sien hoe die voorpunt van die optog met duisendes stadig begin beweeg, ’n ikoon van Maria wat in stilte gedra word. Direk agter hulle is tientalle mense wat op draagbaarbeddens gestoot word en agter hulle is honderde mense in rystoele. Almal hoopvol dat hulle die ontvanger van 'n wonderwerk gaan word.

Gebede in ses tale of selfs dalk meer word een na die ander oor die luidsprekers gedreunsing en elke keer wanneer ’n gebed gedoen word, herhaal die stadig bewegende skare dit met strak, ernstige gesigte. Daar is ook koorsang, en ek hoor selfs bekende liedere. Dit is ’n veelkleurige prosessie met soms kolle geel of rooi van ’n groep wat almal dieselfde kleur hemde aanhet. Daar is oral baniere wat aandui waarvandaan almal kom en ons kan maar net verstom van bo af kyk.

Dit begin stadigaan skemer raak en die kersliggies skyn geel. Dis moeilik om ons eie toergroep van bo af te identifiseer, maar hulle is amper laaste in die optog. Die voorpunt van die optog het reeds omgedraai en die lang wurm vorm esse soos wat hulle terugbeweeg. Dit is eenvoudig net ’n ongelooflike ervaring en wanneer ek Ken later daaroor uitvra, sê hy dat daar tussen 12 000 en 15 000 mense was en dat daar soms selfs tot 25 000 mense deelneem.

Ek besluit om nie vir ons groep te wag nie, want ons gaan mekaar definitief nie ná die tyd in die skare kry nie, en dus stap ek saam met Sandy en Prakash en die klomp Nieu-Seelanders terug hotel toe. ’n Hanetree van hierdie kerk af is daar ’n hospitaal, en dan speel die vreemdste toneeltjie voor ons af. ’n Ambulans wat ’n tipe elektroniese aandrywing het en soos ’n gholfkarretjie lyk, ry geluidloos tussen die skare in, stop en laai iemand in wat siek geword het. Net so stil draai dit terug in die hospitaal se rigting.

Later is ek al lankal rustig in die bed wanneer Donna terugkom hotel toe met sterre in haar oë – haar pelgrimstog is uiteindelik voltooi ...

 

Klik hier vir Katrina se blog op LitNet-blogs.

Klik hier vir kompetisie-besonderhede.